Die Ou Fort en Begraafplaas
January 21, 2019
Die Ou St. Thomaskerk
January 21, 2019

Op die mees westelike bog van die Baai van Natal, ongeveer ’n kilometer vanaf die Ou Fort op die Suidkus-pad, is Congella geleë. Voor die koms van die blanke het die Zoeloe-opperhoof, Tsjaka, hier ’n kraal met dié naam as buitepos aangelê en wel met die spesifieke doel om kannibalisme te bekamp. Daarom dan ook dat die volle naam kwaKangela amaNkengana – die Kannibaal- of Vagebond-uitkyk, was. In hierdie omgewing het komdt.-genl. A.W.J. Pretorius gedurende die beleg van Port Natal deur die mag onder T.C. Smith, sy kamp opgeslaan. In die nag van 23 Mei 1842 het Smith die Voortrekkers hier aangeval, maar hy is met ernstige verliese teruggeslaan, en Pretorius het hom in die Ou Fort beleër. Dit het gelei tot die bekende rit van Dick King na Grahamstad om versterkingstroepe te kry.

Hoewel Pretorius vanaf die Punt teen Smith opgetrek het, het Congella waarskynlik sy hoofkwartier gedurende die belegging gebly en hy het dit alleen na die aankoms van die ontsettingsmag onder kol. Josias Cloete teen die einde van Junie 1842 verlaat.

(Bronsplaat 1964)

Andries Pretorius se Voortrekkerkamp, Congella 1842 • Adulphe Delegorgue: Voyage dans l’Afrique Australe

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die historiese monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 233.