Suid-Afrikaanse vlagliedere
August 20, 2018
Siegfried Mynhardt (1906-1996)
August 20, 2018

In Desember 1838 het die Voortrekkers onder Andries Pretorius ’n gelofte afgelê dat indien die Allerhoogste hulle ’n oorwinning oor die Zoeloe-impi’s sou vergun, hulle en hul nageslagte dié dag aan Sy Diens sou wy en dit jaarliks op 16 Desember as ’n Sabbat sou vier. Daarby sou hulle ná die oorwinning ’n plek van aanbidding oprig. Só het dit dan gebeur dat na die oorwinning te Bloedrivier die Voortrekkers daartoe oorgegaan het om ’n geloftekerk te Pietermaritzburg te bou.

Foto: Standbeeld van Gert Maritz buite die Voortrekker-museum. Sy van en die voornaam van Piet Retief is in die naam Pietermaritzburg verewig.

Die hoeksteen is in 1839 gelê en verskeie leidende Voortrekkers soos Frans Botha, Piet de Wet, Marthinus Bekker, Andries Smit, Willem Nel en Stoffel Lotter het met die bouwerk gehelp. Die mure was van skalie en die daktimmerasie was van geelhout. Erasmus Smit was die eerste leraar, maar hy is gou opgevolg deur Daniel Lindley. Die kerk is in 1841 voltooi en ingewy, maar reeds in die vroeë jare vyftig het dit té klein geword vir die plaaslike gemeente. ’n Groter kerk is derhalwe in 1861 daar naby opgerig. Daarna is die oorspronklike kerkie aan die genade oorgelaat. Dit is eers aan die Natalse owerheid as ’n skoolgeboutjie verhuur en in 1874 verkoop. Daarna het dit agtereenvolgens as smidswinkel, ’n koeldrankfabriek, apteek en teekamer diens gedoen. In die proses het dit erg bouvallig geraak.

In 1906 is die gebou op aanbeveling van ’n lid van die gemeente, mnr. (later dr.) E.G. Jansen wat bestem was om goewerneur-generaal van die destydse Unie van Suid-Afrika te word, vir ’n jaarlikse sondagskoolfunksie gebruik en later, in dieselfde jaar, het ’n korrespondent in ’n Natalse Afrikaanse koerant daarop gewys dat die gebou glad nie sy behoorlike funksie as gedeeltelike nakoming van die gelofte vervul nie. In April 1906 is op ’n vergadering besluit om onverwyld fondse in te samel om die gebou weer te koop. ’n Opsie is op die eiendom verkry en ’n komitee saamgestel bestaande uit ds. G.M. Pellissier, voorsitter, en die here J.F. Tredoux, E.G. Jansen, B. Vorster, W.J. Botes, J.M. Herschenshonn, T.C. Wolhuter, C.J. Scheepers, H.J. Martens en J. van der Westhuizen.

Foto: Standbeeld van Piet Retief buite die Voortrekker-museum.

Dit was die oortuiging van dr. E.G. Jansen, een van die aktiefste lede van die komitee, dat die Afrikaner-gemeenskap van Natal dit as ’n saak van eer moes beskou om die nagedagtenis van die Voortrekkers te huldig. Byna R3 000 is vervolgens in dié provinsie ingesamel voordat geld ook in die ander provinsies byeengebring is. President M.T. Steyn sowel as generaals J.B.M. Hertzog, J.C. Smuts, C.R. de Wet en J.H. de la Rey het die poging heelhartig gesteun.

Toe die herstelwerk en verbouings voltooi was, het die komitee die eiendom aan die Staat opgedra vir gebruik as ’n Voortrekker-museum. Die aanbod is met sekere voorbehoude aanvaar: dat die museum altyd staatseiendom bly, alle inskripsies in die twee amptelike landstale geskied, die name van die hoofde van die Natalse Voortrekker-gesinne op ’n marmertafel aangebring word en, laastens, dat ’n monument ter ere van Piet Retief opgerig word. Heel gepas het die oorhandigingseremonie op 16 Desember 1912 plaasgevind tydens ’n diens in die Pietermaritzburgse stadhuis. Daar is ook bome op seremoniële wyse deur genl. Schalk Burger, J.F. Maritz, J.L. de Jager, J.G. Hattingh en ander toonaangewende persone op die museum-perseel geplant.

Ter vervulling van die doel van die Voortrekker-museum het die raad van kuratore die afgelope 62 jaar ’n groot verskeidenheid museumstukke wat op die Voortrekkers betrekking het, byeengebring. Byna vanselfsprekend is die godsdienstige aspek van die Voortrekkerlewe beklemtoon. Daar is ’n gebedeboek wat mev. Aletta van Heerden, van Cradock, op die Trek gebruik het, sowel as ’n boek gedruk in 1751. Daar is ook ’n gesangeboek, oorspronklik die eiendom van ene J.J. Fourie, wat destyds in die Geloftekerk aangeneem is.

Foto: Die preekstoel van die Gelofte-kerk in die Voortrekker-museum.

Die Voortrekkers het met die geweer in die hand Natal binnegekom, en dié aspek van hul lewens word ook goed in die museum verteenwoordig. Daar is ’n ou voorlaaier wat in Desember 1838 deur Jacobus Moolman digby Dingaan se stat gevind is en klaarblyklik aan een van sy manskappe behoort het. Daar is ook ’n ou vuursteengeweer en ’n kruitfles, eens die eiendom van Paulus Maree, een van die Voortrekkers. Voorts is daar kruithorings, gietvorms en patrone.

Foto: ’n Interessante Voortrekker-stoel met riempiesmat, deel van die museum se meubelversameling.

Wat hul beproefde vervoermiddel betref, is daar ’n ou kakebeenwa met geelhoutkis, en, ten opsigte van hul gereedskap, is daar ’n stinkhout-winkelhaak in 1816 eiehandig deur Trekker L. Robbertse gemaak, handvervaardigde spykers wat in die bouwerk van die oorspronklike Geloftekerk gebruik is, ou hamers, skroewe en ploegskare.

Ook die Voortrekker-vrou in haar tradisionele drag word uitgebeeld met haar kombuisgerei –  tertpanne, koffieketels, komfoortjies, erdewerk, e.d.m. Daar is ook ’n ouderwetse naaimasjien. Daar is mooi voorbeelde van kappies en tabberds en, wat die mans betref, baadjies, onderbaadjies en ferweelbroeke.

Oor die jare het die museum-owerheid ook ’n uitmuntende versameling foto’s byeengebring, asmede ’n versameling Bybels en boeke wat op die doen en late van die Voortrekkers betrekking het.

Die kuratore koester steeds die ideaal om hierdie mooi en omvattende versameling in ’n ruim nuwe museum te huisves en die Geloftekerk as ’n plek van aanbidding in ere te herstel, want so hoort dit immers.

 

Bron: Lantern, Maart 1974: 68-69.