Die rol en betekenis van Louis Trichardt se trek in Suid-Afrika
April 10, 2017
Die Voortrekkerkind
April 10, 2017

(Oorgeneem uit Kultuurskatte uit die Voortrekkertydperk, geskrywe deur GH van Rooyen. DeeI II bl. 90, soos herverskyn in Historia Junior, Augustus 1970)

Met die Voortrekker-geselskappe het geen geneeshere saamgereis nie en die Voortrekkers was al lank in Natal en Transvaal gevestig voordat hulle ooit ’n dokter gehad het. Dokters was in dié dae baie skaars en omdat die Voortrekkers al die jare in die Kaapkolonie sonder hulle moes klaarkom, het die ou mense geleer om gebruik te maak van hul eie boererate en beproefde medisyne, wat vandag nog algemeen gebruik word.

Elke gesin wat deelgeneem het aan die trek, het sy eie medisynetrommeltjie  saamgeneem. Hierdie trommeltjie, van blik gemaak, was bekend as ’n “huisaptekie” en is deur die ou mense in die Kaapkolonie gekoop.

Die grootte is ongeveer nege by ses byl vyf duim en ongeveer die helfte van die trommeltjie is afgeskort in vyf-en-twintig hokkies vir die verskillende medisynebottels. Die orige helfte van die trommeltjie is vir die bewaring van pleisters, salf, lappe, ens. Die deksel is voorsien van ’n handvatsel en die trommel kon gesluit word met ’n hangslot. Behalwe die botteltjies medisyne, salf, ens., was daar ook ’n boekie met gebruiksaanwysinge. Bekende medisyne wat in die trommeltjie gepak was, het o.a. die volgende ingesluit: witdulsies, (dulsies), pynstillende droppels (druppels), versterkdruppels, wonderkroonessens, borsdruppels, Hoffmansdruppels, balsem-copiva, bloekomolie, balsemsulphuris, Jamaica-gember (gemmer), balsemvitae (lewensbalsem), bruindulsies, rooilaventel, groenamara, harmansdrup, rooipoeier, spykersalf, witvomatief, soetolie, kanfer en kasterolie (bloubottel).

Bostaande soorte medisyne is vir verskillende doeleindes gebruik, soos die volgende voorbeelde duidelik sal aantoon. Lyers aan hartkwaal of ’n skielike steek op die hart het ’n paar druppels witdulsies en ’n paar druppels rooilaventel op ’n teelepeltjie suiker gegooi en gedrink. Hierdie middel word vandag nog vry algemeen gebruik. Groenamara en wonderliksens (essens) is hoofsaaklik gebruik wanneer die maag ontsteld was, terwyl rooipoeier gemeng met fyn gestampte aluin, as middel vir sere in die mond en in die keel gebruik is- Spykersalf (na die Hollandse fabrikant Jan Spijker genoem) is gebruik vir kneuse en wonde aan die hande en ander dele van die liggaam.

Versterkdruppels het die ou mense as volg gebruik: ’n botteltjie versterkdruppels word gemeng met ’n bottel wyn en smorens en saans ’n kelkie daarvan gedrink vir versterking. Wanneer die mans of vroue heeldag besig was en baie moeg gevoel het, het hulle net ’n kelkie van die gedokterde wyn gedrink en dadelik baat daarby gevind. Hoffmansdruppels is gebruik teen swaar hoofpyne – ’n weinig word op ’n teelepeltjie suiker gegooi en dan gedrink. Teen blaaskwale is gebruik gemaak van harmansdrup. Witvomatief is gebruik om die maag te suiwer en was ’n algemene en bekende middel vir hierdie doel. Kanfer gemeng met soetolie is algemeen gebruik as smeermiddel teen pyne in die bene, arms, ens. Bruindulsies is gebruik as ’n voorbehoedmiddel teen die nadelige uitwerking van blootstelling aan nattigheid en koue weer. Vir borskwale is borsdruppels gebruik, terwyl Jamaica-gemmer ’n middel was teen maagkrampe en maagwerkings. Balsem-vitae (lewensbalsem) is gebruik vir beswyming en algemene swakheid van die gestel. Vir pyne in die lyf is gebruik gemaak van pynstillende druppels, terwyl balsemsulphuris uitstekend is vir wonde, veral brandwonde. Bloekomolie is algemeen gebruik vir verkoue terwyl balsem-copiva uitstekend is vir nier- en blaaskwale.