Die vliegende drukkerye

Tydverdrywe op kommando
January 22, 2015
Die Boere en hul taal
January 22, 2015

De Volksstem het in Oktober 1899 ’n spoorwegwa as drukkery ingerig en na die Natalse front gestuur om die kommando’s van die gebeurtenisse op die ander fronte op die hoogte te hou. Die eerste nommer van die Veldtochteditie het op 27 Oktober op Glencoe verskyn en is gedruk op aansoekvorms van die Natalse Spoorweë!  Ná die val van Pretoria is De Volksstem gestaak. ’n Staatsdrukkery te velde, ook in ’n spoorwegwa het die regering van Pretoria af ooswaarts vergesel en is later na Lourenço Marques gestuur. Weens Engelse druk wou die Portugese owerheid dit nie daar toelaat nie.

Dit was een van die “vliegende drukkerye”; die Vrystaat het ook een gehad. Dié staatsdrukkery het saam met die regering van Bloemfontein verhuis na agter-eenvolgens Kroonstad, Heilbron, Frankfort, Vrede, Reitz, Bethlehem en uiteindelik Fouriesburg. Die klein pers het in een van die dorpshuise agtergebly toe die Vrystaatse kommando’s in Julie na die noordweste uitgebreek het. Toe die Vrystaters ’n paar maande later weer in die nabyheid was, het die hoof van die Vrystaatse staatsdrukkery, die gebore Nederlander Marthinus Douwes, ondanks die swak toestand van die pers die laaste amptelike stukke gedruk, asook drie nommers van De Bazuin.

Veldkornet Ebert van Niekerk het Melt Meyers, ’n Nederlander wat vir die Boere geveg het, oorgehaal om ’n koerantjie vir die Vrystaatse kommando’s uit te gee. Hoewel dit maar moeilik gegaan het om dit te set, het De Brandwacht op 8 Januarie 1901 die eerste keer verskyn. Ná die eerste drie nommers moes die pers van Fouriesburg af padgee omdat die Engelse in aantog was. Dit is op ’n ossewa gelaai en ná die vierde nommer op die plaas Bamboeshoek is dit in ’n berg agter ’n stapel klippe weggesteek totdat dit weer in ’n ou skoolgebou op die plaas Snymanshoek opgerig is. Daar is die bladsye van die vyfde Brandwacht geset en gedruk. ’n Keer is dit gedruk terwyl die wind om die drukkery woed, papiere die kloof afdwarrel en drukrolle en inkplaat vol stof gewaai het.

Op 29 April 1901 was die drukkery weer in gevaar. Dit het gelyk of die Engelse dit in die hande sou kry. Almal het gevlug, en die drukkery het agtergebly. Die volgende môre was die weer mistig en het ’n paar manne gou teruggegaan, die drukkery op sy ou plek gevind, op ’n wa gelaai en in ’n kloof in die berg gaan versteek. Toe die Engelse die kloof nader, het burgers hulle weggeskiet. Daar het die drukkery twee maande gestaan, want die Engelse het die kommando’s geen rus gegun nie. Aan die begin van Julie is die drukkery gebruik om proklamasies, telegramme en van 10 tot 15 Julie die negende nommer van De Brandwacht te set. Tussen 14 en 20 Augustus was daar weer kwaai gevegte, maar Meyers het die kans gekry om die tiende – en die laaste – nommer te set, wat op 23 Augustus verskyn het. Daarna het Meyers sy drukkery oorgedra aan die Harrismith News, en gaan veg in die Kaapkolonie. Hy is gevang, na Indië gestuur en toe belet om terug te keer al was hy ’n genaturaliseerde Transvaalse burger.