Die vestiging van blankes langs die Magaliesberg (1840-1850) – Deel 1

Die Rapportryer van Majuba
April 9, 2017
Magrietha Prinsloo
April 10, 2017

(Geskryf deur H.M. Rex, soos verskyn in Historia Junior, Mei 1962)

Dit kan nie met sekerheid gesê word wie die eerste Blankes was wat hulle in die omgewing van die Magaliesberg gevestig het nie. Hulle was in elk geval mense wat tot die Potgieter-trek behoort het en dit is feitlik seker dat die eerste plase vroeg in die veertigerjare van die vorige eeu bewoon geraak het. Wat egter opmerklik is, is dat die eerste intrekkers sonder uitsondering vir hulleself plase aan die suidelike helling van die Magaliesberg uitgesoek het. Dit het egter nie lank geduur nie, voordat die streek Agtermagaliesberg, waar die kerkplaas Magaliesberg (Rustenburg) in 1850 aangelê is, ook deur Voortrekkers bewoon is. Die eerste blankes het hulle dus alreeds vroeg in die eerste helfte van die veertigerjare aan weerskante van die Magaliesberg gevestig.

Die leier van die Potgieter-trek, kommandant Andries Hendrik Potgieter, het nie lank in die Potchefstroomse wêreld gewoon nie – skaars drie jaar – en hy was een van die eerste Voortrekkers wat hom omstreeks 1841 op die plaas Buffelshoek Nr. 10, enkele myle noordwes van die teenswoordige Olifantsnekdam, gaan vestig het. Buffelshoek is ’n pragtig-geleë plaas aan die suidelike helling van die Magaliesberg wat in hierdie omgewing een van sy hoogste punte bereik. Uit ’n nabygeleë kloof het ’n standhoudende stroom water ontspring

en die woonhuis, wat suid gefront het, het ’n wonderskone uitsig in die rigting van die Transvaalse waterskeiding en Potchefstroom gehad. Hier het die rustelose groot Voortrekkerleier ook vir ongeveer drie jaar gewoon. In die plaaskerkhoffie naby die eertydse opstal lê een van sy vrouens en ’n aantal van sy volgelinge en familielede begrawe. Dit is nie algemeen bekend nie dat Potgieter se ekspedisies na Delagoabaai en Transoranje in 1844 en sy verhuising na Noordoos-Transvaal in 1845 plaasgevind het, toe hy op Buffelshoek gewoon het. Hierdie historiese plaas was dan ook sy laaste woonplek in hierdie gedeelte van Transvaal. Na sy driejarige verblyf in Andries-Ohrigstad het hy uiteindelik aan die voet van die Soutpansberg tot rus gekom waar hy in 1852 oorlede en begrawe is.

Ongeveer dieselfde tyd toe Potgieter hom op Buffelshoek gevestig het, het ander Voortrekker-gesinne hulle in ’n ooswaartse rigting al langs die suidelike helling van die Magaliesberg gevestig. Die Krugers, Pieterses, Potgieters en Van Stadens het hulle in Bo-Moot, op Hekpoort, Scheerpoort en ander omliggende plase gaan vestig. Hierdie families was van die heel eerste blanke intrekkers in daardie omgewing. Hier dink ons veral aan Gert Kruger, ’n oom van Paul Kruger en ’n sterk leiersfiguur, wat op Hekpoort gaan woon het, Ferdinand Pieterse op Scheerpoort en PJ van Staden Sr., die latere bekende ouderling en vader van landdros PJ van  Staden van Rustenburg, op Doornbosch. In dieselfde omgewing het ook Hermanus Philippus Potgieter, die bekende broer van kommandant AH Potgieter, gewoon.

Aangesien ’n hele aantal plase in die loop van April 1843 deur PJ Fourie geïnspekteer is, in die omgewing waar enkele jare later Rustenburg-dorp ontstaan het, is dit waarskynlik dat die meeste van die plase in daardie gedeelte van Agtermagalies alreeds in 1843 bewoon was. Die verskillende plase wat in 1843 geïnspekteer is, was egter almal alreeds voor daardie datum – vermoedelik in 1841 en daarna – deur verskillende aansoekers aangeteken.

Die plaas waarop die kerkplaas Magaliesberg (Rustenburg) in 1850 uitgelê is, Kafferskraal Nr. 379, was deur HCW Vermaas Jr. as sy plaas aangeteken en ook in April 1843 geïnspekteer, terwyl die langsaangeleë plaas Witpensfontein Nr. 380, dieselfde tyd vir JF Botha geïnspekteer is.

Die bekende plaas, Waterkloof Nr. 4, enkele myle ten suide van Rustenburg, is ook gedurende April 1843 deur Fourie geïnspekteer. In die “Gedenkschriften van Paul Kruger” het hy aan Grobler en Bredell die volgende oor Waterkloof vertel: “Toen ik 16 jaar oud was (d.w.s. in 1841), had ik het recht, mij evenals de andere zelfstandige leden van ons gezelschap, twee plaatsen uit te zoeken; een voor weideveld en een om te bebouwen. Ik woonde op de plaats Waterkloof en bracht in het jaar 1842 uit het land ten zuiden van de Vaalrivier een juffrouw Maria du Plessis als huisvrouw daarheen”. Na 10 Oktober 1841 het Paul Kruger dus in besit gekom van ’n gedeelte van die teenswoordige Waterkloof Nr. 4 en hom op die suidelike oewer van die Waterkloofspruit, in die nabyheid van die Voortrekkerdrif deur die spruit, gaan vestig. Deur koop en ruil het hy in die loop van die tyd gedeeltes van omliggende plase by die oorspronklike aanleg van 1841 aangeheg. Hierdie geleidelike aanhegting verklaar waarom Waterkloof in vergelyking met Boschfontein, Kroondal en Waterval, vandag so ’n groot plaas is.

Voordat Paul Kruger op sestienjarige leeftyd Waterkloof as sy plaas aangeteken het, het hy hom aanvanklik saam met sy vader, Casper Kruger en die res van die gesin gevestig op Buffelsfontein Nr. 205, aan die noordekant van die Magaliesberg en teenoor Hekpoort en die ander plase in die Bo-Moot. In sy gedenkskrifte het hy dan ook melding gemaak van “den geheelen tocht tot aan de Magaliesbergen, waar myn vader zich vestigde”. Hierdie vestiging van Casper Kruger op Buffelsfontein, en ander Voortrekkerfamilies, het vermoedelik in die begin van 1841 plaasgevind.  Spoedig daarna het die Van Wyks, Van Rensburgs en ander gesinne hulle in dieselfde omgewing gaan vestig. Ons sien dus dat in die loop van die eerste helfte van die veertigerjare ’n hele aantal blanke gesinne aan weerskante van die Magaliesberg gaan woon en hulle boerderyaktiwiteite voortgesit het. Die Potgieter-trek het voorlopig tot rus gekom.

Met die algemene volksverhuising na Noordoos-Transvaal in 1845 en die stigting van Andries-Ohrigstad, het die omgewing van Magaliesberg vir ’n tydlank egter feitlik heeltemal ontvolk geraak. Baie plase wat intussen aangelê is, is net so laat lê om Potgieter op sy nuwe trek te vergesel en hulp te verleen met die nuwe stigting in Noordoos- Transvaal.

Dit is nie seker of HCW Vermaas Jr. op enige tydstip na sy aantekening van Kafferskraal Nr. 379, die plaas goed bewoon het nie. Nêrens is daar enige gegewens wat daarop dui dat hy die plaas bewoon het nie. As hy die plaas voor 1845 bewoon het, was hy in daardie jaar genoodsaak om die plaas prys te gee. Terwyl die bewoners van die plase noord van die Magaliesberg hulle feitlik sonder uitsondering by die Potgieter-trek na Noordoos-Transvaar gevoeg het, het Vermaas in elk geval nie saamgetrek nie, want hy was destyds en daarna in Potchefstroom-distrik woonagtig, waar sy vader en ander familie ook woonagtig was. In die begin van 1850 was Vermaas se eertydse plaas, Kafferskraal, nog steeds onbewoon. Alles dui daarop dat die plase noord van Magaliesberg in 1845 vir ’n tydlank ontruim was.

Paul Kruger en sy vrou, Maria du Plessis, die Van Wyks van Elandskraal Nr. 332 en ’n aantal ander gesinne, het egter nie lank in Ohrigstad bly woon nie, maar teen die einde van dieselfde jaar – in die tyd toe die koring op Waterkloof ryp was en geoes moes word – weer na hulle plase agter die Magaliesberg teruggetrek. In 1848 was Casper Kruger ook weer terug en op Buffelsfontein woonagtig.

In die loop van 1848 het kommandant-generaal Andries Pretorius, die held van Bloedrivier, hom met ’n hele aantal van sy volgelinge uit Natal en Transoranje aan weerskante van die Magaliesberg gaan vestig. Hyself het gaan woon op Grootplaats (Rust der Ouden), reg suid van Kommandonek. Deurdat ’n aantal families ongeveer dieselfde tyd uit Ohrighstad na hulle vroeëre plase teruggetrek het, was die omgewing suid en noord van Magaliesberg vanaf die teenswoordige Pretoria tot Rustenburg, teen 1849 betreklik dig bevolk.

Met sy milde klimaat, uitmuntende landbougrond, oorvloed van water, goeie weiding, begeerlike jaggebied, paaie wat hierlangs gegaan en ook gekruis het en boonop geseën met kragtige leiers soos Andries Pretorius, Casper en Gert Kruger, Willem C Janse van Rensburg en Jan Visagie, was die Magaliesbergse wêreld teen die einde van die veertigerjare een van die belangrikste woongebiede vir blankes in die gebied noord van die Vaalrivier.

Waar daar in die loop van die veertigerjare ’n instroming van blanke gesinne in die gebied aan weerskante van die Magaliesberg plaasgevind het, het daar teen die einde van daardie tydperk ’n behoefte aan ’n kerkplaas en dorp êrens langs die Magaliesberg ontstaan. Hekpoort, Scheerpoort, Buffelsfontein en Rietvley Nr. 350, in die omgewing van Rustenburg-kloof, het almal moontlikhede gebied om as permanente kerkplase aanvaar te word en mettertyd tot volwaardige dorpe te ontwikkel. Uiteindelik het die keuse op Kafferskraal Nr. 379, die onbewoonde plaas van Vermaas, geval.

Teen die einde van 1849 het sowel die plaas van Vermaas as die aangrensende Witpensfontein  Nr. 380 van AF Fick onbewoon en onbewerk daar gelê. En juis daardie twee onbewoonde plase, Kafferskraal en Witpensfontein, verskuil in ’n skilderagtige kom van die Magaliesberg, beskerm deur uitloperrandjies en bevloei deur ’n standhoudende waterstroom wat verder gevoed is deur enkele systrome uit fonteine langs die hange van die Magaliesberge en sy uitlopers, het die ideale geleentheid gebied vir die aanleg van ’n sentrale kerkplaas en dorp.

Die gebeurtenisse gedurende die veertigerjare op kerklike gebied in Transvaal wat uiteindelik in 1850 tot die stigting van die kerkplaas Magaliesberg (Rustenburg) gelei het, sal in die volgende artikel beskryf word.