’n Beroemde vader en sy seun
August 3, 2015
Bertha de Beer
August 3, 2015

Soos verskyn in Junior Historia

BloukransDit was die jaar 1836. Die koue wintermaande was verby, en waar die waens van die Liebenbergs aan Vaalrivier gestaan het, het die Augustuswinde reeds begin waai. Die rivier het maar min water gehad en die waens, skape, beeste en perde kon maklik uit die Vrystaat na die nuwe staanplek onder ’n koppie nie ver van die rivier nie, gebring word. Dit was nie net die waens van die Liebenbergs wat die Transvaalse gebied binnegetrek het nie, maar ’n hele aantal families het hulle reeds by Koppieskraal aan die Vaal gevestig.

Bennie Liebenberg, die twaalfjarige seuntjie van Stefanus Liebenberg, was reeds gewoond aan die treklewe, want agt maande tevore het sy ouers in geselskap van baie ander Trekkers die Kaapkolonie verlaat. Saam met sy ouers was ook die waens van sy ooms Bêrend en Hendrik Liebenberg en Jan du Toit. Sy oom Jan was getroud met ’n suster van sy vader. Daar was ’n hele klomp neefs en niggies by die trek. Hulle het die treklewe geniet, want tot dusver het hulle nog geen gevaar teengekom nie. Saans na die seuns klaar gehelp het om die vee te versorg en die meisiekinders hul werk gedoen het, kon die jongspan heerlik speel of luister na die vele verhale wat hul ouers kon vertel. Die groter seuns en dogters moes saans ook skoolgaan by meester McDonald wat saamgetrek het. Bennie moes ook al leer om te lees en te skryf. Hy was baie lief vir sy oupa, ou oom Bêrend Liebenberg, wat sulke interessante verhale kon vertel. Almal wou graag vir oupa een of ander werkie doen. As die mans bedags op jag uit was, het oupa by die waens gebly om te sorg dat die bediendes water aanbring en hout gaan haal.

Daar het nou al amper vier maande verloop vandat kommandant Hendrik Potgieter met ’n aantal manne na Noord-Transvaal gegaan het. Bennie se oom, Christiaan Liebenberg, was saam met die kommissie na die noorde. Hulle het gegaan om die land te verken om te sien of hulle verder noordwaarts sou trek. Terwyl die kinders een aand reeds aan die slaap was en die nagwind aan die watent ruk, sê Bennie se ma aan sy pa: “Jy weet, Faan, ek dink dit is nou darem tyd dat Boet Chrisjan en die kommissie moet terugkom. Dit is een van die dae vier maande dat hulle weg is en intussen het ons nog niks van hulle gehoor nie. Wie weet, miskien is hulle al vermoor!” Bennie se pa het sy ma gerusgestel: “Nee wat, ons sou reeds gehoor het as hulle vermoor is. Maar ek is darem ook al baie nuuskierig om te weet wat hulle alles uitgevind het,” het hy gesê. Die Liebenbergs was baie geheg aan mekaar en die broers het reeds sterk na Christiaan verlang. Sy vrou het haar hande vol gehad met die jongspan. Sy het meer as iemand anders uitgesien na die terugkoms van haar man …

Daardie nag het nie soos ander nagte verloop nie. Middernag hoor die mense in die waens perdepote en toe die mans by die watent uitloer, jaag Stefanus Erasmus met sy seun tussen die waens in. “Mense staan op,” skreeu hy vreesbevange, “staan op, maak gou, trek laer, die kaffers kom.” Met hierdie lawaai het mans en vrouens uit die slaap geskrik en voordat hulle nog kon vasstel wat gaande was, het die twee ruiters in die donker verdwyn. Wat nou gedoen? Die vrouens was baie ontsteld, maar die mans kon nie glo dat daar gevaar was nie. Hulle was die vorige dag op jag in verskillende rigtings en het geen teken van gevaar of van kaffers gesien nie. Aan slaap was nou nie meer te dink nie. Die bediendes moes opstaan en vuurmaak en die groot mense het aangetrek. Bennie wat ook wakker geword het, wou by sy ma weet wat gebeur het. Sy ma het hom egter probeer gerusstel.

Nadat koffie gemaak is, het die groot mense by die vuur bymekaar gekom om te beraadslaag oor wat gedoen moes word. Hulle het uiteindelik besluit dat Erasmus nie sonder ernstige rede middernag so sou jaag en tekere gaan nie. Die osse moes dadelik aangekeer word en die groter kinders moes opstaan. Die vrouens het inderhaas goed begin oppak om gereed te wees as die osse kom. Toe Bennie aangetrek het, het die dag reeds begin breek. Sy pa het hom gestuur om te gaan kyk waar die skape geslaap het. Hy moes hulle aanbring na die waens.

Die luggie was koel en met kloppende hart het Bennie in die donker na die voet van die koppie gedraf waar die skape gewoonlik vroeg in die môre te vind was. Spring-spring het hy deur die bosse en droë gras gehardloop, toe hy skielik geweerskote agter by die waens hoor. Hy steek vas om te luister.

Voor hom in die skemer is die skape, maar daar is ook swart gedaantes wat besig is om hulle aan te keer. Bennie spring om, maar loop hom vas in die kaffers wat met skildvelle en asgaaie hom bestorm. Wat kon hy doen? Hy begin vreeslik te huil en soebat die barbare om hom nie dood te maak nie. Hulle verstaan sy taal nie, maar merk die groot vrees en benoudheid van die seun. Een van die swartes met wit beeskwaste aan sy gewrigte en bene gryp hom aan die hand en hou hom vas. Hy moet nou saam. Hy sal nooit weer sy ouers, broertjies en sussies sien nie! As hy wil huil, dreig die  kaffer om hom te steek, daarom bly hy maar stil. Die skape word weggedryf en Bennie moet gedweë saam. By die waens het dit nou stil geword.

Daardie dag moes die witkind by die swartes bly. Meer en meer skape, beeste en perde is aangekeer. Daar merk Bennie ook sy eie ryperd, ou Kolbooi op. Hy is nou vreeslik dors maar daar is nie water om te drink nie. Later in die dag kry hy rou vleis om te eet, maar dit kan hy nie eet nie. Die dag het ongemerk verbygegaan. Die nag was voor. Wat sou van hom word? In sy brein is alles dof, hy kan nie dink nie. Sal daar tog nie hulp kom nie? Skielik is daar beweging onder die kaffers by die vee. Bennie hoor skote in die verte. Hy word hard aan die hand gepluk en moet nou so hard as wat hy kan, langs die kaffer hardloop. Die vee word aangedryf, dit skreeu en raas. Perdepote, skote … geskreeu van barbare. Bennie probeer omkyk. Hy sien ’n witman met ’n perd op hulle afstorm. Nou is dit sy kans. Met al sy mag ruk hy los en steier eenkant toe. ’n Asgaai blink in die son, maar  voordat die kaffer Bennie kan gooi, knal ’n skoot en die Matabele slaan neer op die grond. Die redding het gekom! Koos Hamman het die witseun gered. Bennie kon nie praat nie, sy tong het van dors en skrik aan sy verhemelte vasgekleef. Die Matabele was aan die vlug. Ander ruiters het opgedaag. Koos Hamman het Bennie voor op sy perd getel en nou het hulle teruggejaag na die waens.