Die verdwyning van Frans

“‘k Ben een Africaander!”
January 20, 2015
Nagmaal op die platteland
January 22, 2015

’n Gevoel van eenheid was waarskynlik reeds aan die begin van die agtiende eeu in die kiem onder die vryburgers teenwoordig. Hulle het hulle bedreig gevoel deur die San (“Boesmans”) wat vee gesteel en wit mense vermoor het. Maar wat daardie eenheid gou werklikheid laat word het, was die optrede van Willem Adriaan van der Stel. So sterk was die gevoel van eenheid dat dit die Hollanders en Hugenote laat saamstaan het.

Die Hugenote het volgens J du P Scholtz 15 tot 20 jaar aan hul eie taal vasgehou. In 1703 het maar iets meer as ’n vyfde van die volwassene Franse genoeg Hollands geken om ’n preek daarin behoorlik te verstaan en baie kinders het nog min Hollands geken, of glad nie. Ná die vertrek van ds. Pierre Simond het Van der Stel by die Here XVII ’n opvolger gevra, maar dan een wat sowel Hollands as Frans kon praat. Die Here XVII het dit vertolk as ’n versoek om ’n predikant wat hoofsaaklik in Hollands moes preek; ook dat Van der Stel mettertyd die Franse taal wou laat uitsterf. Dit blyk uit hul antwoord dat die nuwe predikant net die ou mense in Frans moes bedien.

Van der Stel het hom in 1703 bereid verklaar om te sorg dat die Franse taal in onbruik raak deur Nederlands in die skool en kerk te laat gebruik. Die kerkraad van Drakenstein het egter in 1703 aan die Here XVII laat weet dat die meeste van hulle nie Nederlands verstaan nie, en nog minder ’n preek daarin. As vergunning het Van der Stel Franse dienste naas die Nederlandse toegelaat. Van 1709 af is geen amptelike briewe in Frans aanvaar nie.

Die offisiële beleid was dus verhollandsing; bowendien was dit ’n Nederlandse kolonie en die meerderheid het dié taal gepraat. Historici is dit eens dat die gesamentlike verset teen Van der Stel baie bygedra het tot die samesmelting van die Nederlanders en Franse. Die Franse het meer en meer met hul Hollandse bure in aanraking gekom en deur maatskaplike omgang en huwelike het hulle die taal en sedes van die Kaapse samelewing aangeneem.

Adam Tas het Guillaume du Toit in sy dagboek ’n “patriot” genoem, en maak melding van twee van die Franse “broeders” wat vroeg een môre aan sy deur gebons het. Die twee groepe het in die gesamentlike stryd “broeders” geword waaruit ’n nuwe volk kon ontstaan. Die helfte van die ondertekenaars (31 uit 63) van die klagskrif het Franse name gehad. Peter Kolbe, wat sedert Junie 1705 ’n besoeker aan die Kaap was, het opgemerk dat drie van die nege wat in 1706 deur Starrenburg gedagvaar is, gebore Afrikaners was, en dat drie uit Nederland en drie uit Frankryk afkomstig was.

Veertig jaar ná die aankoms van die Hugenote was Frans reeds ’n kwynende taal. In 1751 kon die ab De la Caille niemand onder die veertig jaar vind wat nog die taal kon praat nie. Die eerste geslag Franse het hul taal nog aan hul kinders geleer, maar die tweede geslag nie meer nie. Die kerkhistorikus Pieter Coertzen skryf egter dat die Hugenote die gereformeerde geloof, die Calvinisme en die kerklike lewe baie versterk het. Deur die hele Suid-Afrikaanse geskiedenis tref mens die name van Hugenote-afstammelinge in leiersposisies aan.