Die Van Plettenbergbaken, Plettenbergbaai

Die St. George-kerkie, Knysna
January 21, 2019
Die Redbourne-St. Andreaskerk, Plettenbergbaai
January 21, 2019

Van Knysna loop die pad na die gewilde strandoord Plettenbergbaai. Skaars drie km vanaf Knysna gaan dit verby George Rex se plaas Melkhoutkraal, vandag Ouplaas, en hierin die skaduwee van reuse ou dennebome lê sy graf.

Eintlik moet die geskiedenis van hierdie pragtige kusstreek by Plettenbergbaai begin. Reeds in 1488 het Bartolomeu Dias daaraan die naam Bahia Formosa of die Mooibaai gegee. Daarna het dit onder ’n reeks name bekend gestaan – die Baai van Angola, Baai van Content, Keurboomsrivierbaai en Piesangrivierbaai. Op 6 November 1778 het goewerneur Joachim Baron van Plettenberg, na ’n uitgebreide reis tot by die huidige Colesberg, met sy geselskap by hierdie baai “by de welke de Keurbooms en Pisangs Rivieren in zee uijtloopen” aangekom, en hy vernoem dit nou “eens voor al” tot Plettenbergbaai.

Net soos by die Seekoerivier by Colesberg rig hy ook hier ’n baken op: Terwyl hy te perd om die baai gery het, is “intusschen met de wagen van den burger Jacob Joubert de steen of baak zijnde aangebracht, wierd dezelve tegen over ’t midden van de baey op eenen hoogen klipheuvel geplant; op welke steen aan de voorzyde ’t wapen van de Generaliteyt en aan de agterzyde ’t merk van d’ E:O:I: Compannie en daar onder ’t wapen van den Weledelen Gest.: heer gouverneur, uytgehouden was, met eene bygevoegde inscriptie dat dezen steen door zijn Weled. Gestr: in dit jaar is opgeregt”. Die baken is twee meter hoog en bestaan uit twee plat, blou leiklippe, sowat 30 cm breed en 13 cm dik en met lood aanmekaargevoeg.

Op 22 Julie 1803 het die bekende goewerneur Janssens, wat tydens die Bataafse tydperk aan die Kaap die bewind gevoer het, Plettenbergbaai besoek. Die baken het toe reeds omgeval, maar is waarskynlik deur hom herstel. Om dit te beskerm het die Kaapse regering later ’n muurtjie daaromheen gebou wat op sy beurt deur ’n traliewerk vervang is.

In 1964 het die Historiese Monumentekommissie die baken verwyder en aan die Suid-Afrikaanse Kultuurhistoriese Museum in Kaapstad vir veilige bewaring gegee. In die plek daarvan is ’n replika opgerig wat nouliks van die oorspronklike te onderskei is.

(Geproklameer 1936)

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 127-128.