Die val van Pretoria

Op moedverloor se vlakte
January 22, 2015
Die “Kruger-miljoene”
January 22, 2015

Die gees van mismoedigheid het net tydelik gewyk. Op die krygsraads-vergaderings van 5 en 7 Junie by Eerste Fabrieke was die moreel net so laag as op 1 Junie. Hier het assistent-veldkornet CF Beyers van Boksburg skerp kritiek op die swakheid en lafhartigheid van party militêre leiers uitgeoefen en strawwe vir hulle geëis.

In Pretoria het die einde van die republikeinse era aangebreek. Terwyl die Britte na die noorde op pad was, het die Volksraad op 7 Mei die laaste keer vergader. Kruger het die burgers gemaan om te volhard, hulde gebring aan die gevallenes en die Vrystaat geprys vir sy trou aan die gemeenskaplike saak. Die Uitvoerende Raad het besluit om Pretoria nie te verdedig nie, maar saam met die kommando’s ooswaarts te retireer langs die spoorlyn na Delagoabaai, voorlopig tot by Machadodorp.

Op 29 Mei het Kruger en sy regering Pretoria verlaat. Tot 31 Mei was daar onrus en selfs anargie. So het burgers wat deur die stad ooswaarts getrek het, die nag van 30 Mei die deure van die regeringsmagasyne oopgemaak en perdevoer en toerusting saamgeneem. Die volgende môre het oud en jonk, blank, swart, en Asiaat op die magasyne afgestorm en die voorraad weggedra op die rug, in stootkarretjies, kruiwaens en kinderwaens, “want die Engelse sal dit tog maar vat”.

Op 31 Mei het generaal Botha daarin geslaag om die orde te herstel. Hy het ook by die Goewermentsgebou ’n vurige toespraak gehou en die skare gewys op die Amerikaners onder George Washington, wat telkens hul hoofstad moes prysgee, maar wie se saak tog geseëvier het. In die volgende paar dae was daar enkele gevegte in die omgewing, maar die Britse magte het Pretoria prakties ongehinderd ingeneem. Vroeg die môre van Dinsdag 5 Junie 1900 was dit in die middestad die ene Kakie. Die NZASM-geboue is in beslag geneem en in die stasie is vier bruikbare lokomotiewe en 13 ander wat onder reparasie was, tesame met 400 trokke buitgemaak. Dit was al wat oorgebly het nadat generaal Botha in die vorige 48 uur 70 treine ooswaarts weggestuur het. Die laaste twee treine het vertrek terwyl die Engelse op die stasie toesak. Die Nederlandse spoorwegamptenare wou geen vinger verroer om die Britte te help nie. Die meeste van hulle is die volgende maand gerepatrieer.

Om halfnege het die burgemeester, Potgieter, die stad oorgegee, en twee-uur die middag het die feestelike intog van lord Roberts by die Kerkplein plaasgevind. Vir baie mense wat die middag daar was, was dit ’n smartlike skouspel. Daar is gejuig, hoede afgehaal en met sakdoeke gewuif toe Roberts verskyn. Onopgemerk onder die skare was die later vermaarde spioen JJ Naudé, wat verbitter opmerk: “Hoeveel van die lafhartige vis-nog-graatagtige ellendelinge tel ons soms onder die naam Afrikaner!”

Die Britse volkslied het weerklink. Voor die voorgewel van die goewermentsgebou met sy arend-wapen en die duidelike letters “Eendragt maakt magt” is ’n groot Union Jack om twintig oor twee gehys. Roberts het gesalueer en die helm van sy spierwit hoof afgehaal om die eerste hoera aan te hef.