Die Paarlse Afrikaanse Taalmonument
April 15, 2017
Die Simon van der Stel-fees
April 15, 2017

(Geskryf deur mnr. WJ Fourie, soos verskyn in Historia Junior, Junie 1960)

Op 31 Mei 1960 sal die Unie van Suid-Afrika presies vyftig jaar oud wees. Vyftig jaar gelede is ’n mylpaal in ons land se geskiedenis bereik toe die vier Britse kolonies in Suidelike Afrika besluit het om ’n Unie te vorm en die geskille van die verlede te vergeet.

Die vereniging van die verskillende state in Suid-Afrika was ’n ideaal wat lank reeds deur Suid-Afrikaanse en Engelse staatsmanne gekoester is. Die poging wat na 1900 aangewend is en uiteindelik in 1910 met sukses bekroon is, was lank nie die eerste en enigste poging wat in hierdie rigting aangewend is nie. Dit was waarskynlik die ideaal wat geleef het in die harte van die Transvalers, toe hulle hulle republiek die Suid-Afrikaanse Republiek gedoop het. In die vyftigerjare van die vorige eeu is pogings reeds aangewend deur president MW Pretorius om minstens die twee noordelike state te verenig. In dieselfde tyd het die Kaapse goewerneur sir George Grey met die gedagte van nouer samewerking, die stigting van ’n federale unie, voor die dag gekom en later in dieselfde eeu het die Britse minister van kolonies, lord Carnarvon, met dieselfde gedagte na vore gekom. Dit was ook die ideaal waaraan Cecil John Rhodes sy kragte gewy het. Al hierdie pogings het egter misluk, hoofsaaklik omdat dit deur staatsmanne afgedwing is en nie uit die volk self gekom het nie. Daarby was die verskille tussen die Britse kolonies en Boere Republieke ontsaglik groot en het laasgenoemde hartstogtelik aan hulle onafhanklikheid bly vaskleef.

In 1899 het die stryd tussen Brittanje en die Suid-Afrikaanse Republiek op ’n gewapende botsing uitgeloop wat op 31 Mei 1902 deur die vrede van Vereeniging beëindig is. Ten spyte van die bitterheid en verwydering wat die oorlog meegebring het wat die samewerking nou verder verwyderd as ooit laat lyk het, het die Vrede van Vereeniging tog die weg tot unifikasie voorberei, omdat dit al vier die gebiede in Suid-Afrika onder die Britse vlag gebring het.

Die ou verskille tussen die verskillende gebiede het nog bestaan, dog die Suid-Afrikaanse staatsmanne het tot die besef gekom dat nouer samewerking noodsaaklik was en hulle doelbewus begin beywer in daardie rigting. Die ou wedywering tussen die kusstede oor die invoer en spoorwegbeheer na die Rand het nog net so fel as voorheen gewoed. Die kleiner provinsies, Natal en die Oranjerivier-kolonie, was bevrees dat hulle deur die groteres oorheers sou word, terwyl baie Kaaplanders in vereniging ’n bedreiging vir die stemreg van die nie-blankes in die Kaapkolonie gesien het. Baie Transvalers was weer huiwerig om hulle voorspoed met die armer provinsies te deel. Tog het die eenheidsgedagte ontstaan en begin veld wen.

In 1906 het die Britse regering selfbestuur aan die Transvaal en in 1907 aan die Oranjerivier-kolonie toegeken wat hulle op gelyke voet met die ander twee kolonies geplaas het. Veral twee gebeurtenisse het op hierdie tydstip die nadele van verdeeldheid en die voordele van samewerking duidelik aan die lig gebring. Die eerste was die Indiërvraagstuk. Op hierdie tydstip het Ghandi met sy lydelike versetbeweging die mense laat besef dat die Indiërvraagstuk verskeie kolonies raak en slegs deur gesamentlike optrede opgelos kan word. Die tweede gebeurtenis was die Zoeloe-opstand in Natal. Die opstand was nie baie ernstig nie, maar het tog die kolonies laat besef dat hulle hier te doen het met ’n Suid-Afrikaanse vraagstuk. Verder het die onophoudelike geskille tussen die kuskolonies en die binnelandse gebiede oor invoerregte en spoorwegtariewe die noodsaaklikheid van eenheid sterk beklemtoon.

In die noorde het die leiers, veral genl. Louis Botha, ’n versoeningsbeleid, ’n beleid van “vergewe en vergeet”, begin volg. In die Kaapkolonie het die idee van nouer samewerking vurige ondersteuners gevind in John X. Merriman, die eerste minister, dr. Jameson en FS Malan. In 1907 het die unifikasiebeweging nog ’n verdere stoot vooruit gekry toe lord Selbourne, die Britse Hoë Kommissaris in S.A. sy beroemde memorandum publiseer, waarin hy die voordele van unifikasie en die euwels van verdeeldheid duidelik uiteensit. Oral is die saak nou bespreek. Selfs organisasies is gestig wat hulle vir nouer samewerking beywer het en in toesprake en koerante is die saak gepropageer.

In Mei 1908 het ’n belangrike konferensie in Pretoria plaasgevind. Dit het gegaan oor die ou kwessie van spoorwegtariewe en invoerregte. Die afgevaardigdes moes magteloos erken dat die vraagstuk nie opgelos kan word sonder staatkundige eenheid nie. Op voorstel van genl. Smuts is gevolglik ’n voorstel eenparig aangeneem dat die verteenwoordigers hulle onderskeie regering sou nader vir toestemming om ’n Nasionale Konvensie byeen te roep met die doel om ’n grondwet vir ’n verenigde Suid-Afrika op te stel.

Op 12 Oktober 1908 het die Nasionale Konvensie vir die eerste keer in Durban vergader. Daar was altesaam 33 lede wat al vier die kolonies verteenwoordig het. Die vernaamste staatsmanne op hierdie byeenkoms was sir Henry de Villiers (die voorsitter), John X Merriman en LS Jameson van die Kaap, generaals Botha, Smuts en De la Rey van Transvaal en president Steyn, Abraham Fischer en generaals Hertzog en De Wet van die Oranjerivier-kolonie. Natal is verteenwoordig deur o.a. sir Frederick Moor.

Daar was verskillende probleme wat opgelos moes word, voordat almal tevrede sou wees. Eerstens was daar die vorm wat die toekomstige verenigde S.A. sou aanneem, ’n Unie of ’n Federasie. Alleen Natal was ten gunste van ’n federasie, sodat daar besluit is om ’n unie te vorm. Om Natal tegemoet te kom, is die stelsel van provinsiale rade met beperkte magte ingevoer.

Tweedens was daar die probleem van Bantoe- en Kleurlingstemreg. In die Kaapkolonie het naturelle en Kleurlinge wat aan sekere vereistes voldoen het, stemreg besit. Die Kaapse verteenwoordigers wou graag die stemreg na die nie-blankes van die noorde uitbrei. Die noordelike provinsies wou dit nie aanvaar nie en gevolglik is besluit om die kieswette in die verskillende provinsies onveranderd te laat.

Ook die keuse van die hoofstad het heelwat moeilikheid opgelewer. Elke kolonie wou graag sy hoofstad as die hoofstad van die Unie sien. Daar is toe besluit om Kaapstad die wetgewende hoofstad (d.w.s. die setel van die Parlement) en Pretoria die uitvoerende hoofstad (d.w.s. die setel van die landsbestuur) te maak. Die Vrystaters is tevrede gestel deur Bloemfontein die setel van die appèlhof te maak.

Die uiters moeilike kwessie van die amptelike taal is opgelos deur te bepaal dat Engels en Hollands (later Afrikaans) op gelyke voet as amptelike tale erken sou word.

Die besprekings op die Konvensie is deur ’n gees van die grootste welwillendheid gekenmerk. Weinig rassegevoel tussen Afrikaans- en Engelssprekendes was te bespeur.

Van November 1908 tot Februarie 1909 het die Konvensie in Kaapstad vergader waar die probleme deeglik bespreek en ’n konsep-grondwet opgestel is. Die konsep-grondwet is hierop aan die verskeie parlemente voorgelê vir goedkeuring. ’n Paar wysigings is aanbeveel.

In Mei 1909 is dit op die finale vergadering te Bloemfontein aanvaar waarna dit deur al vier Parlemente aangeneem is. In dieselfde jaar is die konsep-grondwet deur die Britse parlement goedgekeur. Op 31 Mei 1910, presies agt jaar na die Vrede van Vereeniging, het die Unie van Suid-Afrika tot stand gekom met generaal Louis Botha as die eerste Eerste minister en lord Gladstone as die eerste Goewerneur-generaal.