Die uitbreiding van die Kaapkolonie, 1717-1779

Die geskiedenis van die Afrikaanse Bybelvertaling
April 11, 2017
Die Vrouemonument
April 11, 2017

(Soos verskyn in Historia Junior)

In die vorige artikel het ons gewys op drie faktore wat die uitbreiding gedurende die eerste driekwart van die agtiende eeu bevorder het. Ons bespreek nou die trekrigtings en die omvang van die uitbreiding. Die bodemgesteldheid van die land het hoofsaaklik die trekrigtings bepaal. Oorspronklik gaan die trek na die noordweste tot aan die Olifantsrivier. Die suidelike groep het al langs die Langberge voortbeweeg. In 1724 is hulle oor die Breërivier, in 1729 oor die Gouritz en in 1730 oor die Groot Brakrivier. Die derde groep het tot in die nabyheid van die huidige Robertson en die Heksrivier getrek.

Omstreeks 1730 stuit die twee hoofgroepe op ernstige hindernisse. In die noordweste lê die dorre, sanderige veld met weinig gras. Die water wat nog hier te vinde was, was brak. In die ooste het digte bosse die vooruitgang vertraag. Langs die hele linie het ’n paar veeboere oor die berge getrek om in die hoër geleë steppeland weiveld te soek. Oor die Olifantskloof in die Bokkeveldsberge en oor Mostertshoek in die Witsenberge het hulle in 1728 in die koue en warm Bokkeveld ingetrek. Na die suide volg hulle die Heksrivier om die berge heen na die boloop van die Koo. Deur Kogmanskloof in die Langeberge het hulle tussen laasgenoemde en die Swartberge na die ooste getrek. Hierdie trek oor die berge het egter stadig gegaan. In 1843 vind kommissaris Van Imhoff die grootste gedeelte nog wes en suid van die berge.

In die noordweste het die koloniste na 1845 oor die droë Karoo wat die Bokkeveld van die Roggeveldsberge skei, getrek. Die boere vestig hulle al langs die berge waar daar fonteine en standhoudende water was. Van die Roggeveldsberge het die trek ooswaarts gegaan vanaf 1760. Teen I77O bereik die voorposte die Nuweveldberge, nadat etlike boere in 1768 reeds in die Kamdeboo ingetrek en hulle tussen die Sondags- en Boesmansriviere gevestig het. Hoewel die trek hoofsaaklik ooswaarts langs die berge gegaan, het, het kleiner groepe ook noordwaarts beweeg. In 1750 bereik hulle die huidige Calvinië en gedurende die daaropvolgende jare trek hulle die Hantam in. ’n Tweede groep trek die Olifantsrivier oor en bereik in 1760 Kamiesberg.

Gedurende die 25 jaar na 1745 is ’n groot gebied by die distrik Stellenbosch gevoeg. Tussen die bewoonde streek langs die berge en Swellendam het soos ’n reusewig die Groot Karoo gelê. Hier het veeboere net veeposte gedurende die wintermaande gehad, van Junie tot September, wanneer die bewoners van die koue Bokkeveld en van die Roggeveld die Karoo ingetrek het op sogenaamde “Legplaatsen” waarvoor geen leengeld betaal is nie. Hierdie gebied het die skeiding gevorm tussen die twee groepe trekkers wat parallel met mekaar ooswaarts beweeg het. Teen 1760 bereik hulle die Gamtoos.

Toe die twee trekgroepe van Stellenbosch en Swellendam in die Kamdeboo mekaar ontmoet, was die vasstelling van grense tussen die twee distrikte noodsaaklik. ’n Kommissie wat benoem was om die grense vas te stel, het besluit dat die bestaande grens verleng word van die Swartberge ooswaarts en in ’n lyn met die oorsprong van die Olifants- en Gamtoosriviere. Die Swellendammers wat tussen die Gamtoos en vis gebly het, moes terugkeer. Die boere het hier ingetrek om van die Hottentotte en Bantoes vee te ruil. Om ’n einde aan hierdie “baatsugtige gedoente” te maak, is swaar strawwe opgelê.

Die Kolonie se oosgrens het dus gestrek van die mond van die Gamtoos met ’n reguit lyn na die suidelike kant van Bruintjieshoogte en met die berg noordwaarts. In die noorde is daar nie ’n grens vasgestel nie. Dit dui daarop dat die owerheid meer besorg was oor die moontlike botsing tussen die blankes en die Bantoe as oor die onbeheerde uitbreiding na die noorde. Kort hierna word die grense egter nog verder ooswaarts verskuif. In 1779 verskuif goewerneur Van Plettenberg die oosgrens verder terug. Die nuwe grens sou strek in die noorde vanaf ’n baken naby die huidige Colesberg, suidwaarts langs Visrivier af tot aan die see.

Daarmee word die tydperk van ongestoorde uitbreiding afgesluit, nie juis omdat daar ’n duidelike grens vasgestel is nie, maar omdat die koloniste hier gestuit het teen die weswaartse beweging van die Bantoe uit die ooste.