Die Tweede Wêreldoorlog breek uit

Anton Rupert vorder skouspelagtig
January 24, 2015
Suid-Afrikaners veg in Afrika
January 24, 2015

Gebeurtenisse in Europa het opnuut die politiek en die hele lewe in Suid-Afrika beïnvloed.  Groot ellende het ná die Eerste Wêreldoorlog in Duitsland geheers: armoede, werkloosheid, inflasie. Uit die moedeloosheid is die Nasionaal-sosialistiese Duitse Arbeidersparty (kortweg die Nazi-party) gebore met Adolf Hitler as leier. Nazi-Duitsland het Oostenryk in 1938 “aangeheg”, die Sudeten-gebied in Tsjeggo-Slowakye dieselfde jaar ingelyf en in Maart 1939 die res van dié land.  Engeland en Frankryk het hulp teen Duitse aggressie aan Pole belowe.  Onverwags is ‘n nie-aanvalsverdrag tussen Rusland en Duitsland op 21 Augustus 1939 aangekondig.  Hulle het in die geheim afgespreek om Pole te vernietig en onder mekaar te verdeel.  Op 1 September 1939 het Duitse troepe die Poolse grens oorgesteek.

Toevallig was die Suid-Afrikaanse Volksraad begin September vir ‘n buitengewone sitting oor ‘n ander saak byeen. Op Vrydag 1 September het die NP-koukus besluit om Hertzog in kennis te stel dat, as hy neutraliteit sou voorstel, die party hom ten volle sou steun.  Paul Sauer het met die nuus van die aanbod na Groote Schuur gery, waar Hertzog, sy vriend Jack Brebner en ministers Klasie Havenga en Oswald Pirow hom vriendelik ontvang het.  Hertzog het beloof om later te antwoord.

Op 2 September het dit op ‘n kabinetsitting geblyk dat die kabinet verdeeld is.  Maar Brittanje het toe nog nie oorlog verklaar nie, en daar was ‘n vae hoop op ‘n kompromis. Op Sondag 3 September het Brittanje egter oorlog verklaar.  Die kabinet sou die middag ‘n besluit moes neem.  Vroeër die dag het dr. Malan ‘n brief aan Hertzog geskryf waarin hy gepleit het vir neutraliteit en weer sy party se steun beloof het.  Paul Sauer het die brief Groote Schuur te geneem en het daar opgedaag byna gelyktydig met die koms van generaal Smuts.

Op die Kabinetsitting het die regering onherroeplik geskeur. Hertzog en vyf ministers was vir neutraliteit, Smuts en ses ander vir oorlog teen Duitsland.  Later die aand het Hertzog Malan na Groote Schuur laat haal, en vriendelik ontvang.  Daar was hoop dat die voorstanders van neutraliteit ‘n stemming in die Volksraad kon wen.

In die Volksraaddebat op 4 September het Hertzog egter ontaktvol pro-Hitler gepraat en selfs sy ondersteuners ontstel.  Sowat agt oud-Nattes het vir Smuts gestem.  Onder hulle was Colin Steyn, seun van president MT Steyn.  Hertzog se voorstel is met 80 teenoor 67 verslaan.

Buite die Parlementsgebou het Afrikaners die LV’s toegejuig wat vir Hertzog gestem het.  Die bekende dramaturg, minister HA Fagan en dr Malan is onder die sing van Die Stem deur jong mans op hul skouers gedra.  Terwyl Hertzog deur die skare stap, is dié lied en Afrikaners landgenote gesing.  Groot was die blydskap dat Afrikaners weer verenig was.  (Die historikus At van Wyk het die oorlogskrisis boeiend beskryf in sy boek Vyf dae.)

Smuts het premier geword.  Onder sy ministers was Afrikaners soos die liberale JH Hofmeyr, Colin Steyn, en ‘n oud-Sap, Deneys Reitz, seun van president FW Reitz en skrywer van onder meer Commando.