Die tuisland-beleid

Sharpeville en moordaanslag op Doktor Verwoerd
January 25, 2015
Afrikanerprotes teen apartheid
January 25, 2015

Doktor Verwoerd se wonderbaarlike genesing het hom in staat gestel om op 31 Mei 1960 in Bloemfontein die hoofrede by die Uniefeesvierings in dié stad te lewer. ’n Simboliese handeling wat hy verrig het, het egter in ’n antiklimaks geëindig. ’n Vredesduif wat hy in die lug gewerp het, het tot ontsteltenis van almal op die grond teruggeval. Dit was wêreldnuus; dis selfs opgevat as ’n slegte voorteken vir apartheid.

In werklikheid het apartheid ’n transformasie ondergaan wat dit vir baie moreel aanvaarbaarder gemaak het. In 1959 het Verwoerd aangekondig dat die tuislande volkome onafhanklik sou kon word. Voorsiening is gemaak vir die ontwikkeling van selfbesturende “Bantoe-volkseenhede” in eie gebiede en oorlegpleging tussen hulle en die regering. Die benadering het berus op die gedagte dat die swartes geen homogene volk is nie, maar op grond van taal en kultuur verskillende volkseenhede vorm. Die wet het onderskei tussen agt volkseenhede: die Noord-Sotho’s (Lebowa), Suid-Sotho’s (Basotho-Qwaqwa), Swazi’s (Kangwane), Tswanas (Bophuthatswana), Tsonga-Shangaan (Gazan-kulu), Venda’s (Venda), Zoeloes (Kwa-Zulu) en Xhosa. Die plan was een tuisland vir laasgenoemde, maar die Xhosa’s van die Transkei en die Ciskei kon dit nie met mekaar eens word nie. So het twee Xhosa-tuislande tot stand gekom. Drie volkere van Noord-Transvaal wou ook nie saam wees nie sodat daar Lebowa, Venda en Gazankulu gekom het. Die Suid-Ndebele wat by Lebowa ingelyf is, wou ’n eie tuisland hê, wat hulle in 1979 gekry het: KwaNdebele.

Verwoerd het op 23 Januarie 1962 selfregering vir die Transkei aangekondig. ’n Implikasie van die tuislande was taalregte vir swart volkere. Die regering was van plan om van Xhosa die enigste amptelike taal van Transkei te maak. Dit was so gestipuleer in die wetsontwerp op ’n grondwet vir die Transkei wat vroeg in 1963 ingedien is. In ’n gesamentlike sitting van die Volksraad en Senaat het die Verenigde Party gesê hy stem in dat Xhosa gebruik word, maar nie met uitsluiting van Afrikaans en Engels nie. Verwoerd het toe die bepaling teruggetrek wat van Xhosa die enigste offisiële taal sou maak. Xhosa het toe ’n addisionele amptelike taal geword.

Daarna is die taalbepalings van die grondwet gewysig sodat die Afrikatale in die tuislande erkenning kon kry as addisionele amptelike tale. Verwoerd het die argumente gestel vir die erkenning van dié tale. Met taalregte, het hy betoog, word die menswaardigheid van mense erken. “Wat is meer verbonde met die waardigheid van ’n mens as dat hy sy moedertaal erken kry en ten opsigte daarvan nie verdruk voel nie?” Taal- en nasiewees is nóu met mekaar verbonde. Elke keer wanneer ’n veroweraar die selfstandigheid van ’n volk wou wegneem, het hy hom toegelê op die ontneming van die taal van ’n volk. Met die verdwyning van die taal, het die veroweraar gemeen, sou die verowerde geabsorbeer word. “So sal die Bantoe dit ook moet voel, dat as sy taal hom nie gegun word nie, dan is die bedoeling ook om nie sy bestaansreg as nasionale entiteit te erken nie.”