Die Tuisland-beleid in die weegskaal

Die lewe van die trekboere
January 26, 2015
Onafhanklikheid vir enkele tuislande
January 26, 2015

’n Swart Suid-Afrika? Dit was die titel van ’n boek van die onvermoeibare historikus-redakteur GD Scholtz wat in 1964 verskyn het.  Sy waarskuwing was gepas. Die getal swartes het vinniger gegroei as wat amptelik geskat is.  Akademici en koerante het gewaarsku dat stilstand in die tuislandbeleid, of te stadige ontwikkeling, revolusie gaan bring, asook integrasie en die ondergang van die blanke.

’n Voorbeeld van so ’n waarskuwing is ’n hoofartikel in Die Beeld (2 Maart 1969) dat daar ’n gevaarlike poging is om vir die wit mense te vertel dat hulle hul beleid kan laat slaag sonder dat hulle die moeite hoef te doen om dit werklik uit te voer. “Dit is die diepe bedenking wat ons het teen die argument wat nou in alle erns aangevoer word dat vir ons Bantoebeleid getalle eintlik nie belangrik is nie.  […]  Vir die uitvoering van ons beleid is getalle so klaarblyklik van die allergrootste belang dat dit moeilik gaan om geduld te behou met mense wat hierdie feit wil kamoefleer.” Die basiese praktiese probleem, het Die Beeld geskryf, is die enorme getalle swartes wat op al hoe permanenter grondslag by die blanke lewe betrek word. Geen argument, hoe spitsvondig ook, kan ’n jota of tittel verander aan die feit dat, as hierdie proses moet toeneem of maar net onveranderd moet voortduur, die beleid op skipbreuk afstuur nie. Die Beeld het geskryf dis “’n alte lekker geloof” om te verkondig dat skeiding nie so noodsaaklik is vir die sukses van die skeidingsbeleid nie.

Die tema is nog verskeie kere in die daaropvolgende paar jaar geopper. Vroeg in die sewentigerjare het dit vir baie waarnemers begin lyk of afsonderlike ontwikkeling gevaar geloop het om te misluk omdat die aanvanklike oogmerk nie gehaal kon word nie. Dit is om die swart mense op natuurlike wyse te laat terugtrek na die tuislande. Professor FR Tomlinson, voorsitter van die Tomlinson-kommissie, het in Oktober 1974 gesê dat die pogings tot tuislandontwikkeling tot 1970 belangrik, maar fragmentaries en relatief kleinskaals was. In 1956 was daar geleentheid om groot geesdrif, idealisme en onderskraging by die blankes aan te wakker. “Maar ek het menige dag gewonder of die owerheid en die bevolking nie bymekaar verbygekyk het nie, of die owerheid die bevolking se wil om groot aksie te steun, nie onderskat en die blanke bevolking die poging van die owerheid nie oorskat – en hom intussen maar met die insameling van rykdom besig gehou het nie. Blanke Suid-Afrika moet oppas dat toekomstige geslagte nie eendag verwyte teen hom slinger nie.”

In koerante soos Die Volksblad het lesers honderde briewe geskryf oor blanke selfwerksaamheid en konsolidasie van die tuislande. ’n Aantal akademici aan verskeie universiteite het in ’n versoekskrif gevra dat afsonderlike ontwikkeling met groter ywer toegepas word. Ook party Nasionale Volksraadslede het hulle beywer vir konsolidasie deur byvoorbeeld die byvoeg van uitgestrekte dele van “wit” Suid-Afrika by Bophuthatswana sodat dié tuisland oor ’n paar honderd kilometer van Pretoria tot by die Noord-Kaap kon strek. Alles egter tevergeefs.