Die triomftog van die oorwinnaar

Die nood van die terugkerendes
January 23, 2015
Die transformasie van Suid-Afrika
January 23, 2015

Van die vernederings wat die Afrikaners in die maande onmiddellik ná die vrede moes verduur, was die besoek van Joseph Chamberlain aan Suid-Afrika van Desember 1902 tot Februarie 1903 volgens GD Scholtz ongetwyfeld die pynlikste. Chamberlain was saam met Milner die groot oorlogstoker. “En nou het hy gekom om soos ’n Romeinse veldheer, wat groot oorwinnings op die slagveld behaal het” ’n triomftog te maak om die “British supremacy” behoorlik op die gees van die Afrikaners af te druk. Met dié besoek het die Britse imperialisme een van sy grootste hoogtepunte bereik.

Chamberlain het op 8 Januarie 1903 sy eerste ontmoeting gehad met Afrikaners: onder andere generaals Botha, Smuts, De la Rey, Burger en Beyers. Hulle het onder meer gekla oor die manier waarop die administrasie hul taal behandel. ’n Heel ootmoedige, onderdanige generaal Smuts het verklaar dat lojaliteit aan sy regering kenmerkend van die Afrikaner is. Respekteer net sy gevoelens en tradisies, en die regering sal agterkom “that there is no portion of the British Empire more loyal than the people of the Transvaal”. Op versoek van Botha het die afgevaardigdes Chamberlain drie hoeras toegeroep.

Ook op ander plekke soos Johannesburg, waar hy twee weke die gas van Milner was, Potchefstroom, Mafeking, Grahamstad, Port Elizabeth en Kaapstad was die ontvangs hartlik. Telkens het Chamberlain laat blyk dat, wat hy wou hê, was dat die Afrikaners hul identiteit prysgee en deel word van die Britse Ryk. “You must feel … that any aspirations for a separate Dutch identity … are absurd and ridiculous.” Dit was sy woorde in Grahamstad. Op Potchefstroom het hy die hoop uitgespreek dat die Afrikaners “will share our pride in being members of a greater Empire”.

Maar op ’n paar plekke was daar die eerste openlike tekens van verset teen die Britse planne met die Afrikaner. Die duidelikste was dit in Bloemfontein. Hier het hy ’n groep Afrikaners onder De Wet en Hertzog te woord gestaan. Die ontmoeting van 45 man staan in skrille kontras met dié in Pretoria. Hier was geen hoera’s nie, maar ’n konfrontasie. Die onderhoud van 2½ uur het stormagtig verloop. Onder meer het die Vrystaters gekla dat daar van kompensasie en die onderrig van hul moedertaal op skool weinig tereggekom het. In die onderhoud het Hertzog Chamberlain deurgaans sterk geopponeer. Die belang van die konfrontasie lê nie in wat bereik is nie, maar in die gees van onversetlikheid teenoor die polities magtigste man in Brittanje.

Ook op twee Afrikaanse dorpe was daar ’n kille ontvangs: Graaff-Reinet en die Paarl. Die kilheid van die ontvangs was miskien die rede waarom Chamberlain op Graaff-Reinet ’n aanval op die Afrikanerbond gedoen het. In die Paarl het ’n klein groepie mense Chamberlain op die stasie kom begroet en die strate was leeg en stil. Geen poging is aangewend om versierings aan te bring nie. Vir ’n eetmaal is 800 uitnodigings uitgestuur maar net 200 mense het opgedaag. Chamberlain kon sy gekrenktheid oor dié afjak skaars verberg.