Die transformasie van Suid-Afrika

Die triomftog van die oorwinnaar
January 23, 2015
Heropbou en ontwikkeling
January 23, 2015

Saam met die armoede, honger en stoflike ellende was daar iets meer: vir die Afrikaner het dit ’n vreemde land geword. Brittanje het bereik waarna hy veertig jaar gestreef het: “British paramountcy” of “British supremacy’. Milner en ander Britsgesindes wou ’n “British South Africa” hê, wat noodwendig tot die verdwyning van Afrikaans sou lei.

Die gevolge van die transformasie wat Suid-Afrika in die jare ná die oorlog beleef het, word mooi saamgevat deur ’n medewerker van Ons Land wat in 1906 ’n besoek aan Transvaal gebring het: “Sodra ’n mens die Transvaalse gebied bereik, is alles Engels waar vroeër alles Hollands was. Die spoorwegbeamptes en -dienaars is vir die grootste gedeelte Skotte. Die voorstede is vernoem na Engelse voorstede en die strate van die stede is verengels. Kennisgewings ook vir die gevestigde (Afrikaner) bevolking is in Engels. Die taal van die geregshowe, die amptenare, die handel, die skole, is Engels. Mens kan jou onmoontlik verbeel dat die land vyf jaar gelede ’n Hollandse republiek was. So is onder die Milner-regering getrag om die gevestigde bevolking te versoen. Die ergste is dat gepraat word of die gevestigde bevolking geen griewe het en kan hê nie. Hoe kan dit anders waar die regering en volk in twee aparte wêrelde lewe; waar die regering deur onbekendheid en minagting van die volkstaal dit vir hom onmoontlik maak om met die gedagtes en griewe van die volk bekend te word.”

Die Vrystaatse koerant De Vriend het op 2 November 1903 ’n lang hoofartikel gehad waarin die toestande in die gewese republiek en die Oranjerivier-kolonie vergelyk is. Waar ’n boer vroeër by die landdros of in die staatsgeboue met graagte gehelp is, was hy ná die oorlog ’n vreemdeling in dié kantore. “Die Boer gaan nou nooit na die kantoor nie of dit moet ’n bepaalde noodsaaklikheid wees. Hy het geen vrymoedigheid nie (die reg wel); hy aarsel. Hy het die een of ander beswaar en was een, twee, drie of meer male reeds op die dorp gewees om die Magistraat te sien – dog kan geen genoegsame ‘courage’ vind om in te gaan nie, want, eerstens, die Magistraat verstaat hom nie, en hy is nie genoegsaam op die hoogte van die Engelse taal om die Magistraat te laat verstaan nie.” De Vriend het op 7 Julie 1905 in ’n hoofartikel geskryf dat meer as die helfte van die hoofamptenare in die ORK nie Afrikaans verstaan nie; die direkteur van onderwys en die direkteur van landbou “kan nie eers ’n enkele re’el Hollans lees nie”.

In teorie het Hollands en Engels in die Kaapkolonie gelyke regte as voertaal en vak in skole gehad. In die praktyk het daarvan min tereggekom. Daar was dikwels niemand op spoorwegstasies en treine en in pos-, magistraats- en ander kantore wat Afrikaners in hul eie taal kon bedien nie. Amptenare het hulle meermale bars beveel om Engels te praat. Openbare kennisgewings op stasies en elders was net in Engels, soms ook ’n Afrikataal, maar selde in Hollands. Iets positiefs was dat al hoe meer jong Afrikaners sedert die einde van die 19de eeu vir studie na Europa gegaan het, mense soos DF Malan (teologie), GG Cillié (opvoedkunde), DF Malherbe en TH le Roux (taalkunde).