“Die totale aanslag”

Skandale en skeuring
January 26, 2015
Debat oor ’n nuwe bedeling
January 26, 2015

Die nuwe grondwetlike bedeling sou geen vrede bring nie. In 1983 is ’n buite-parlementêre organisasie, die United Democratic Front, gestig om die invoering van die nuwe grondwet te bestry. In ’n kort tyd was sowat 700 organisasies onder die sambreel verenig: kerkgroepe, sportorganisasies, vakbonde en jeuggroepe. As leiers van massaveldtogte het opgetree mense soos Archie Gumede, Albertina Sisulu, vrou van die ANC-leier Walter Sisulu, en doktor Allan Boesak. Laasgenoemde was leraar van die NG Sendingkerk en het in Nederland sy doktorsgraad in teologie verwerf.

’n Sentrale oogmerk van die onrus wat die UDF-organisasies aangestig het, was om Suid-Afrika onregeerbaar te maak. Plaaslike bestuurstrukture en swartes wat met die regering geassosieer is, soos die polisie- en stadsraadslede, het teikens vir brandstigting, aanranding en moord geword. Revolusionêre skynhowe het talle verdagte kolloborateurs verhoor en tot barbaarse strawwe gevonnis. Die weersinwekkendste hiervan was die halssnoer-teregstellings. Ou motorbande is met doringdraad om die slagoffer se nek vasgebind, met petrol gevul en dan aan die brand gesteek. Tussen Maart en Junie 1986 is 172 mense op dié wyse tereggestel.

Die latere staatspresident, FW de Klerk, skryf in sy outobiografie dat skool-kinders dikwels die voortou geneem en die afgryslike vonnisse voltrek het. ’n Nuwe geslag tienderjariges het die oproere aangevoer. Die swart woonbuurte moes ontoeganklik wees vir amptenare, veiligheidsmaglede en nie-revolusionêre organisasies. In honderde gemeenskappe het die dienste ineengestort.

De Klerk verklaar dat die destydse regering diep verontrus oor die verergerende krisis was. “Dit het mode geword om die spot te dryf met PW Botha se mening dat daar ’n totale aanslag teen Suid-Afrika was.” Maar die situasie was inderdaad ernstig. Nie net is die land onregeerbaar probeer maak as voorspel tot ’n revolusie nie, maar daar was ook ’n ernstige bedreiging van buite. “Selde tevore is so ’n uitgebreide, onverbiddelike internasionale veldtog oor so ’n lang tydperk teen ’n enkele land gevoer as die een wat deur die internasionale anti-apartheidsalliansie teen ons geloods is.”

Van die veiligheidsmagte is verwag dat hulle steeds streng binne die raamwerk van die wet optree. Vir revolusionêre het dié beperking nie gegeld nie. Die veiligheidsmagte moes dus sien hoe die revolusionêre bewegings na willekeur organiseer en hul teenstanders intimideer of doodmaak. Daar was, soos De Klerk dit stel, behoefte aan onkonvensionele teenstrategieë soos dié wat die Britte in die jare 50 teen die Kommunistiese rebelle van Maleia ontwikkel het. Die staatsveiligheidsraad en kabinet het gevolglik in beginsel ook onkonvensionele metodes goedgekeur. In die middeltagtigerjare is die Burgerlike Samewerkingsburo gestig wat op sy manier die stryd teen die ANC gevoer het. ’n Aantal UDF- en ANC-aktiviste is vermoor, ander gemartel. Daarteenoor staan natuurlik die groot aantal burgerlikes wat onskuldig oor en weer as deel van die revolusie vermoor is.