Die Timmerhoutskuur, Plettenbergbaai

Die Redbourne-St. Andreaskerk, Plettenbergbaai
January 21, 2019
Die Graf van luit. J.S. King
January 21, 2019

Die besoek van Van Plettenberg sowel as die gloeiende berigte oor die pragtige houtbosse in die omgewing van Plettenbergbaai, het daartoe gelei dat die Here XVII aan die Kaapse owerheid opdrag gegee het dat ’n kommissie gestuur moes word om die bosse in Outeniekwaland te inspekteer en om die bruikbaarheid van Plettenbergbaai as hawe te ondersoek. In 1786 besoek ’n kommissie,

bestaande uit die Kaapse hawemeester, Francois Duminy, die burgerluitenant, J.G. van Reenen, en die koopman, Egbertus Bergh, die streek. Hulle rapport was in alle opsigte gunstig. Gevolglik is die volgende jaar ’n houtkapperspos hier opgerig en as opsigter is aangestel Johann Friedrich Meeding.

Meeding was ’n Pruis wat in 1751 as soldaat na die Kaap gekom het. Hy was ’n man van integriteit, kennis en goeie opvoeding, iemand wat ernstige aandag aan sy werk gegee het. Hy het weldra ag ander Kompanjies-amptenare—’n wamaker en sewe houtkappers—onder sy toesig gehad. ’n Houtskuur vir die opberging en die droogmaak van die hout was nodig. Hierdie taak is opgedra aan Jan Jacob Jerling, die enigste vryburger woonagtig oos van die Keurboomsrivier. Vir die som van 15 000 guldens het hy in 1788 die skuur naby die strand net ten ooste van die heuwel, waarop Van

Plettenberg se baken staan, gebou. Van hier kon Francois Duminy reeds in Augustus 1788 met sy skip, die Meermin, die eerste vrag hout vir waens en kanononderstelle na Kaapstad vervoer.

Meeding het sy werk onafgebroke tot sy dood in 1813 gedoen, maar die Timmerhoutskuur het weldra in verval geraak.

Toe Janssens dit dus in 1803 besoek het, het hy dit beskryf as “een groot nu ingevallen gebouw van 200 voeten (61 m) lengte, zeer ongeschikt tot berging van hout, moetende het hout niet alleen verstikken, maar door de zeer naby staande hooge rots afstroomend water rotten, en zowel gebouw als hout bederven…” Daarom het hy beveel dat digteby ’n houtloods van 15 meter by 6 meter deur die “posthouder” van Plettenbergbaai gebou word om ook die inhoud van die ou bêreplek te huisves.

(Geproklameer 1936)

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 128.