Die taak van die moderne Suid-Afrikaanse jeug ten opsigte van die behoud en uitbouing van ons eie kultuur

Laerskool Republiek – Republiekfees 1961
April 15, 2017
Die Paarlse Afrikaanse Taalmonument
April 15, 2017

(Geskryf deur Susan Cooke, Barrydale Hoërskool, soos verskyn in Historia Junior)

“Kultuur is wat ’n slagter sou gehad het as hy ’n chirurg was,” so het Mary Pettibone Poote gesê, maar vir ons, dit wil sê die Suid-Afrikaanse jeug, is kultuur ’n abstrakte selfstandige naamwoord en as ons dieper op die saak moet ingaan, het dit iets te doen met maatskaplike norme, morele kodes, tradisies en waardes …

Ek het nageslaan omtrent die saak, opgelees, gepraat en gedink en moes uiteindelik tot die slotsom kom dat dit in werklikheid in net een woord omskryf kan word: onomskryflik. En tog is dit daar … soos ’n reële beeld wat, soos ons in die fisika-klas geleer het, werklik bestaan. Maar glo my, net so moeilik as wat dit is om daardie beeld in ’n dosie te sit, so moeilik is dit om die kultuur van ’n volk te hanteer.

Volgens wat baie grootmense te kenne wil gee, is ons Suid-Afrikaanse jeug besig om ons kultuur, wat deur die tye opgebou is, verlore te laat gaan.

“Waar sondig ons jeug dan nou?” mag u vra. Ons verwaarloos ons voorkoms deur klere te dra wat nie alte welvoeglik is en beslis nie ’n alte hoë beskawingspeil weerspieël nie. Ons taal: sommige van ons verkies ’n ingewikkelde mengelmoes van woorde en uitdrukkings wat beslis onafrikaans is. Die dryfveer agter hierdie geradbraak van die moedertaal is nie vir my duidelik nie – net so min as wat ek kan verklaar waarom daar Engelse en Amerikaanse liedjies by funksies gesing word in plaas van die ewe mooi en ligte Afrikaanse piekniekliedjies.

Daar is sommige jong Suid-Afrikaners wat dinge soos die versameling van foto’s van rolprentsterre as stokperdjie beoefen en andere vir wie die “fliek” self ’n stokperdjie is. Belangstellings in daardie rigting is onafrikaans en dit is in stryd met ons Afrikaanse gees. Dieselfde geld ook vir die lees van swak boeke en die verafgoding van swak musiek. Maar faktore wat ook ’n belangrike rol speel, is bv. gasvryheid, spontane optrede en natuurlike en gesonde verhoudings. Word daar nog vriendskapsbande gesluit wat tot die dood bly? Vertrou ek my maats en kan hulle op my reken? Kan daar verhoudings tussen ons seuns en dogters bestaan wat bloot op platoniese grondslag berus?

Laasgenoemde is veral ’n aspek waarin die tipiese stadskind tekort skiet. Nie dat die plattelanders vry te spreek is van die verwaarlosing van hul kultuur nie! O nee, daarvoor is daar glad te veel  van hulle wat Engels praat as hulle ’n besigheidsplek binnestap – al kom dit dikwels met stampe en stote, praat hulle liewer Engels as om te erken dat hulle van die platteland afkomstig is.

Die euwel bestaan ook onder ons Afrikaners om na gewilde Engelse skole te gaan. Dit is uitsonderings op die reël as so ’n stap bloot op grond van ’n beter vakkeuse geneem word.

Nou het ons genoeg bewyse vir die stelling dat ons besig is om ons kultuur te laai verlore gaan; ons het die hoofredes waarom dit gebeure en nou kom ons by die knoop in die tou: Hoe kan hierdie dinge teëgewerk word? Hoe kan ons ons kultuurskatte bewaar?

Die beste metode vind ons natuurlik in ons Bybel: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel en jou hele verstand en jou naaste soos jouself.” As ons die wet van God ons eie wil maak, verval dinge soos Sabbatsontheiliging en oordrywing van plesier natuurlik vanself, maar ons godsdiens is net ’n deel van ons kultuur en dit los dus nie die probleem op nie. Dit sal in elk geval baie help as ons die Christelike leer, waarvoor ons Franse voorvaders, die Hugenote, uit hul vaderland gevlug het en waarin die grensboer en Voortrekkers deur al hulle beproewings volhard het, wil aanhang en uitleef.

’n Meer praktiese manier waarop ons “ons eie Suid-Afrikaanse kultuur, gekenmerk deur egtheid en waarheid en eenvoud wat tot hiertoe hoër en deegliker was as al die vreemde wat vir ons voorgehou word”, kan behou, is om te glo in wat Langenhoven hier gesê het: my kultuur is vir my die beste en hoef vir geen ander agteruit te staan nie; my taal, Afrikaans, is mooi en goed en al is sy letterkunde nog jonk, is dit van hoogstaande aard; ons kunstenaars vaar besonder goed op internasionale kompetisies en ons leefwyse is op ’n hoë peil. Ons móét dit glo en trots wees daarop!

Ons moet ons volkspele saam met ander moderne danse dans en dit nie net vir spesiale byeenkomste bêre nie. Ons kan die heerlike Franse, Chinese en ander deftige kossoorte eet, maar waarom moet dit braaivleis en rosyntjierys heeltemal vervang?

Sing “She’ll be coming around the mountain” werklik lekkerder as ons eie “Vanaand gaan die volkies koring sny”? Ons kan gerus oor dié ding nadink en terselfdertyd ook besluit of dit die moeite werd is om ons ore van ons kop af te betaal vir ’n paar skoene wat uit Italië kom, terwyl ons eie, Suid-Afrikaans-vervaardigde produkte, van dieselfde hoogstaande gehalte is en ons dit kan verkry sonder om invoerbelasting daarop te betaal.

Nog ’n manier waarop ons ons kultuur kan behou en uitbou, is om dit “wat deur die eeue vir ons in die skatkamer van ons volksgeskiedenis bewaar is, soos ’n kleinood te bewaar”. Dit is wel baie mooi gestel en seker goed bedoel, maar dit is ’n ander saak om dit prakties ten uitvoer te bring, daarom bepaal ons ons maar eers by die werklikheid: As my ouers my geleer het om ordentlik geklee in die openbaar te verskyn, was dit baie ver van hulle om te verwag dat ek ’n lang Voortrekkerrok en ’n kappie moet dra. Nee, die idee wat daaragter sit, is dat ek my liggaam, as die tempel van God, in alle eenvoud moet beklee om sodoende  my selfrespek en die respek van andere te behou.

Dit is voorwaar ook nie nodig dat ons ons onherkenbaar moet beplak met allerhande vreemde dinge nie. Nee, kom ons bewaar ons ongekunsteldheid as deel van ons Afrikaanse tradisie!

“Nog ’n baie eenvoudige manier waarop ons ons kultuur kan beskerm en uitbou, is in die beskerming van die flora en fauna van ons land. Gedurende die afgelope jare is reeds heelwat gedoen ter bewaring van ons natuurskoon en om bergbrande en gronderosie te voorkom. As ek ’n aktiewe deelname wil hê aan die beskerming van dit waaroor die Skepper ons, as mense, aangestel het, kan ek by bewegings soos die Voortrekkers of Padvinders aansluit of sommer net sorg dat ek ’n vuur goed doodmaak, nadat ons piekniek gehou het.

Ons kan ook die gehalte van ons kultuur verhoog of verlaag deur ons verhouding met betrekking tot hulle wat ons land met ons deel en tog nie aan dieselfde ras as ons behoort nie. Ons kan alleenlik aanspraak maak op hulle samewerking en hulle eerbied vir dit wat vir ons heilig is, as ons self die voorbeeld stel.

Dan wil ek saam met Jan FE Celliers ook nog sê: “Die oog wil ek sien wat ’n traan nog ween vir ’n heldegesla, in hul rus daarheen.”

Ja, ’n volk wat sy helde eer, se toekoms is in veilige hande en om oor ’n grondige kennis te beskik wat ons land se Geskiedenis aanbetref – die heldemoed, volharding, lyding en vreugde van ons voorouers – sal ons met nasionale trots vervul en ons ware Afrikaners maak.

Die hoogste simbool van ons kultuur is ons landsvlag – “die pand van ons erfnis geslag op geslag, om te hou vir ons kinders se kinders wat wag.”

Dit is ons dure plig om eer aan ons vlag te betoon en dit in ons hart te dra.

En saam met ons vlag, ons volkslied – ’n lied wat ons roep tot die hoogste nasie-trots en vaderlandsliefde. Kom ons bid God om krag “om te handhaaf en te hou – dat die erwe van ons vaad’re, vir ons kinders erwe bly.” En ons belowe:

“Vaderland! ons sal die adel van jou naam met ere dra:

waar en trou, as Afrikaners – kinders van Suid-Afrika!”