Die swerfjare van Poppie Nongena

Die krisis vererger
January 26, 2015
Die opbouwerk van wetenskaplikes
January 26, 2015

Daar word soms in die letterkunde van elke taal ’n boek van ingrypende betekenis geskryf wat ’n sluier afruk tussen een groep mense en ’n ander, het Audrey Blignault in November 1978 in Die Burger en Beeld geskryf. Sy noem Hard Times van Charles Dickens (1854) wat die sluier tussen rykes en armes in die fabriekstede van Engeland afgeruk het, The catcher in the rye van JD Salinger (1951), wat die tragiek van die generasiegaping in ’n moderne materialistiese gemeenskap blootgelê het, en Ampie van Jochem van Bruggen (1924), wat die Afrikaner bewus gemaak het van die armblanke as mens.

Sy skryf verder in ’n bespreking van die roman Die swerfjare van Poppie Nongena: “Nou het Elsa Joubert ’n boek geskryf – ’n aangrypende, onvergeetlike boek – wat die sluier tussen die witmens en die swartmens in Suid-Afrika afruk”. Die boek is geen politieke aantyging of sosiologiese verslag nie, maar ’n letterkundige werk waarin daar “aan deurleefde waarneming en ervaring oortuigend, artistiek en blywend vorm gegee word”. Die werk is “’n opwindende en betekenisvolle vernuwing in die Afrikaanse romankuns”.

Die roman is gegrond op gegewens wat Elsa Joubert ingewin het oor die lewe van Poppie Rachel Nongena, gebore Matati en het die lyding weens instromingsbeheer aangedui. Dit is ’n ware verhaal, en niks word bygevoeg wat Poppie en haar gesinslede nie self beleef het nie. Die boek was ’n treffer – die “boek van die dekade”, soos Tafelberg dit geadverteer het. Elize Botha het haar radiobespreking op 28 Desember 1978 só begin: “Vir weke al hoor jy mense vir mekaar sê: En het jy al vir poppie gelees? Of: Ek moet nog vir Poppie lees. Of, merendeels: Ek het nou net vir Poppie gelees, en …”

Die roman het as vervolgverhaal in Rapport verskyn en ook groot belangstelling onder die bruin lesers gewek. Die koerant was vroeg Sondae in bruin buurte uitverkoop. Elsa Joubert het by ’n hotel in Hermanus die gevolge van haar roem ondervind. Sy en haar man, die skrywer Klaas Steytler, sit die middag en wag op middagete toe hulle ’n geskuifel en gebabbel hoor. “Daar staan toe ’n klein skare van kelners, skoonmakers en kamermeisies. Almal beduie glimlaggend en pomp mekaar in die ribbes. ‘Haai, kyk,’ sê hulle. ‘Dis Poppie se ma en pa!’” Hulle het haar vertel dat hulle die verhaal in Rapport volg, maar dat sy moet vooruit vertel wat met Poppie gebeur.

’n Persdebat oor strukturele geweld is tussen ’n paar akademici gevoer. Dit is begin deur ’n filosoof van internasionale aansien en bekende teenstander van apartheid, professor JJ Degenaar van Stellenbosch. Hy het geskryf dat strukturele geweld gevind word waar “diskriminerende wette geld wat deur blankes gemaak is om die lewe van die nie-blankes te reguleer tot voordeel van die blanke wetgewers.” Afrikaners moet besef dat “óns hierdie wetgewers is”. ’n Ander debatteerder, professor Julius Jeppe, het geskryf dat trekarbeid al in 1870 in die sosiaalekonomiese stelsel geïnstitusionaliseer is; ook dat onbeheerde verstedeliking geweldige vraagstukke skep in ander Afrikastate.