Die swarte ommegang

Verspreiding van Afrikaans
March 2, 2015
Slagtersnek
March 4, 2015

Graaf Caledon, wat in Mei 1807 goewerneur geword het, het voor sy vertrek op 4 Julie 1811 rondgaande howe ingevoer. Die eerste rondgaande hof (Augustus 1811) het oor die beklaenswaardige Bethelsdorp net so ongunstig geoordeel as alle ander besoekers.

Bethelsdorp se sendelinge was verantwoordelik vir ’n volgende rondgang van die howe wat berug geword het. J Read en JT van der Kemp (wat in Desember 1811 oorlede is) het beskuldigings by die Londense Sendinggenootskap gemaak dat Afrikaners moorde op Khoin pleeg en hulle wreed behandel. Die nuwe goewerneur, lt.-genl. sir John Cradock, het dus gelas dat die rondgaande hof al die klagtes moes verhoor wat Read en Van der Kemp kon voorlê.

Dié rondgaande hof was ’n soort Waarheidskommissie soos dié van die 1990erjare, met die groot verskil dat regters (Lambert Strubberg en Pieter Laurens Cloete) die sake verhoor het, en die klaers gekruisvra kon word om vas te stel of hulle die waarheid praat. Die aanklaer was ’n bekwame regsgeleerde Gerard Beelaerts van Blokland. Van Oktober 1812 tot Januarie 1813 het die hof die dorpe Graaff-Reinet, Uitenhage en George besoek en meer as vyftig sake teen wit mense verhoor. Die hof het elke saak deeglik ondersoek en die getuienis van meer as duisend mense aangehoor. Die naam van dié rondgaande hof het in die volksmond bekend geraak as “die swarte ommegang”. Dit het die verwydering tussen die boere en die sendelinge vergroot, en nog ongelukkiger, heelwat verwydering tussen Afrikaners en Khoin veroorsaak.

Hoewel vyftien wit mans en twee vroue van moord aangekla is, is geen enkele moord op Khoin bewys nie. Die verhore het die mees fantastiese versinsels aan die lig gebring. ’n Boervrou, mev. Martha Ferreira, is daarvan beskuldig dat sy met opset ’n Khoi-vrou, Rachel, in haar pondok lewend verbrand en ’n seuntjie Hendrik in ’n pot kokende water gesteek het sodat sy tone afgeval het. Dit het egter geblyk dat Rachel in haar pondok siek gelê het en deur mev. Ferreira daar van kos voorsien en opgepas is. Aangesien sy siek was, is sy toegelaat om ’n kers en vuur by haar te hê. Op ’n winderige nag het die hut aan die brand geraak en het Rachel in die vlamme omgekom. Ook die verhaal oor die seuntjie was onwaar. Hy het agter die kalwers in die veld verdwaal en was byna heeltemal verkluim toe hy gevind is. Mev. Ferreira het hom toe in ’n pot lou water gesit om te herstel. Sy het dit uit jammerte gedoen.

In die meeste gevalle, veral by ernstige beskuldigings, was die getuienis so onbevredigend dat die aangeklaagdes onmiddellik vrygespreek is. Enkele boetes vir te harde kastyding en ligter vergrype is opgelê. Die regters het verklaar dat, as die sendelinge die sake eers vooraf ondersoek het, hulle nie die hof met al die leuens sou lastig geval het nie. Van Bethelsdorp sê hulle dat “luiheid en ledigheid en derhalwe morsigheid en smerigheid daar opgroei tot perfeksie.” Beelaerts van Blokland het verklaar dat die beskuldigdes hul mense goed behandel het. Afrikaners het die swarte ommegang as ’n gruwelike onreg ervaar. Hul goeie naam is wel tydelik in ere herstel, maar hul belastering is gou hervat.