Die stryd in die Kaapkolonie

Milner se taalplanne
January 22, 2015
Afrikaners onder die krygswet
January 22, 2015

Generaal Smuts het op 3 September 1901 daarin geslaag om die Oranjerivier oor te steek. Die Britse kolonnes het onophoudelik jag op hom gemaak, maar hy kon daarin slaag om telkens uit hul omsingelingspogings te ontsnap. Eers het hy in die rigting van die Oos-Kaap uitgewyk, en is ná ’n reeks noue ontkomings in die rigting van die suidwestelike distrikte. Die Britte het hom nooit met rus gelaat nie, maar hulle kon hom ook nie verhinder om te trek waarheen hy wou nie. Naby Oudtshoorn het hy na die noorde begin draai met die doel om die noordwestelike distrikte te bereik waar hy vroeg in Januarie 1902 aangekom het. Hier het hy die kommando van generaal SG (Manie) Maritz aangetref.

Maritz was reeds sedert die begin van 1901 in die Kaapkolonie. Sy kommando het tot in die Wes-Kaap ’n gees van opstand aangewakker, rebelle gewerf en die Engelse lastig geval. In die laaste maande van 1901 het hy dit selfs gewaag om die Wes-Kaap binne te trek. Van die kommando’s was tot by Piketberg en Ceres. Scholtz skryf dat klein afdelings burgers “figuurlik tot in die skaduwee van Tafelberg” gekom het. By Darling, baie naby aan Kaapstad, was daar ’n klein geveg. Dit was die verste wat die Boeremagte suidwaarts sou deurdring.

Nadat Smuts en Maritz hul magte verenig het, kon hulle dit waag om sterk aanvallend op te tree. In Maart 1902 het hulle Springbok verower. Daarna het hulle Okiep beleër, maar toe sterk Britse magte aankom, het hulle dit beter geag om pad te gee.

Behalwe Gideon Scheepers, oor wie later meer, het twee ander aanvoerders in die Kaapkolonie in Britse hande geval, albei swaar gewond. Dit was kommandant PH Kritzinger en generaal Wynand Malan. Kritzinger is op 16 Desember 1901 gewond toe hy ’n maat probeer red het. Ná enkele weke in die hospitaal te Noupoort is hy in die gevangenis van Graaff-Reinet aangehou en in Maart 1902 voor die krygshof verhoor op aanklagte van moord en vernietiging van treine. Hy is vrygespreek nadat invloedryke koerante in Engeland en Amerika vir hom in die bresse getree het. Sy oorlogservarings het verskyn onder die titel In die skaduwee van die dood.

Generaal Malan, wie se ervarings beskryf word in Oorlogsavonture van generaal Wynand Malan, is eers in Februarie 1902 en daarna op 27 Mei 1902 swaar gewond. Ná sy wonderbaarlike herstel was dit reeds vrede en is hy vrygelaat. As rebelleleier in die Kaapkolonie het hy ’n groot rol gespeel om die Britse eenhede te ontwrig en was hy vir sy manskappe ’n besielende voorbeeld.

’n Ander Boereleier wat in die Kaapkolonie opgetree het, is generaal Hertzog. Kleiner afdelings van sy kommando’s het ver na die weste deurgedring. Op 19 Januarie 1901 het hy Vanrhynsdorp bereik en daarna selfs die see by Lambertsbaai. Die Kaapkolonie het tot aan die einde van die oorlog ’n belangrike strydtoneel gebly en het sodoende bygedra tot die verlenging van die oorlog. Die invallende kommando’s het die simpatie en steun van die meeste Afrikaners geniet, iets wat die Britte hard teen die Kaapse Afrikaners laat optree het.