Die Strooidakkerk, Paarl

Paarlberg
January 18, 2018
Die eerste drosdykantore, Hoofstraat 188, Paarl
January 18, 2018

Aan Hoofstraat in Suider-Paarl is hierdie ou historiese kruiskerk met sy strooidak geleë. Dit is die tuiste van die derde oudste gemeente van die Ned. Geref. Kerk in Suid-Afrika, die gemeente Paarl, vroeër Drakenstein. Hierdie gemeente het op aandrang van die Franse Hugenote en onder leiding van hul predikant, Pierre Simond, op 30 Desember 1691 in Drakenstein tot stand gekom. Aanvanklik is die eredienste gehou in “’n hut of loots” van een van die Franse Hugenote wat na ’n ander plaas getrek het. In Desember 1694 het die Politieke Raad 41 ha in Simondium vir die oprigting van ’n kerk aan die gemeente geskenk. Hier is dan ook ’n kerkie gebou wat volgens die bekende Valentyn “beter een schuur dan een kerk gelijkt”.

Jare lank is hierdie ou kerkie deur die gemeente gebruik totdat dit weens die swaar reëns so vervalle geraak het, dat dit gesloop moes word. Na veel moeite en wroeging is uiteindelik in 1717 begin met die oprigting van ’n behoorlike kerkgebou vir die gemeente op ’n gedeelte van die terrein waarop die Strooidakkerk nou staan. Tekort aan fondse, swaar reëns en moeilikheid met die boumeester het die werk vertraag sodat die kerkgebou eers op 2 Junie 1720 ingewy kon word. Dit was ’n langwerpige seskantgebou, 24 m lank en 12 m breed.

Vyf en tagtig jaar lank het die gemeente die gebou gebruik. Daarin het bekende predikante o.a. P.A. van Aken, Salomon van Echten, Petrus van der Spuy en Robert Aling, die Woord bedien, en onder die menigte dopelinge in hierdie kerk was die bekende Voortrekkerleiers – Piet Retief, Sarel Cilliers en Louis Tregardt.

Die gemeente het voortdurend in getalsterkte toegeneem. In die jare negentig van die 18de eeu word die vergroting van die kerkgebou by herhaling op die kerkraad ter sprake gebring. Deskundige advies van die Kaapse baasmesselaar Phil Diehle word ingewin. Hy bereken die koste vir die aanbou van twee vleuels op 60 000 guldens, maar is van mening “dat het tegenwoordig gebouw die spendatie niet waardig zij”. Desnieteenstaande besluit die kerkraad tot die vergroting van die gebou, maar alle pogings om daarvoor die nodige fondse te vind, misluk.

Benewens ds. Aling was die diakens Jacobus Marais en Johannes Minnaar die grootste dryfkrag agter die beweging vir die vergroting van die kerkgebou. Toe die poging tot vergroting van die gebou dus misluk, het Marais en Minnaar by die kerkraad voorgestel dat ’n nuwe kerk gebou word omdat die ou kerk “eene wanstaltige gedaante heeft”, van slegte stene gebou is en, volgens deskundige advies, nie geskik is om vergroot te word nie. Op ’n kerkraadsvergadering in Desember 1799 is hierdie voorstel aanvaar en dit is besluit dat die gemeente self die geld daarvoor moes voorsien.

Daar is onmiddellik met die insameling van fondse begin. Met verlof van die regering het diakens Marais en Minnaar met ’n huiskollekte begin. Hulle het twee lyste gehad: een vir geldelike bydraes en die ander vir bystand met waens, slawe, e.s.m. Van die kansel het ds. Aling ’n hartroerende beroep op die gemeente om ondersteuning gedoen. So bemoedigend was die reaksie dat die kerkraad besluit het om met die bou van die nuwe kerk te begin. Die beginsel is ook aanvaar dat die kerk “in eene kruisgedaante” met ’n binnewerk van 30 meter lank en 11 meter breed gebou sou word, en dat die bekende argitek L.M. Thibault gevra sal word om ’n plan op te stel.

Van die begin af moes egter met die uiterste spaarsaamheid te werk gegaan word. Daarom is Thibault gevra om slegs ’n “uitwendige” tekening van die gebou te maak. Toe die probleem ontstaan dat plaaslik nie lang genoeg balke vir die kappe van die kerk verkry kon word nie en geelhoutbalke te duur is, is Thibault weer geraadpleeg. Hy het aan die hand gedoen dat die dak met pilare gestut word sodat van korter balke gebruik gemaak kon word. Volgens die bouplan wat hy met hierdie doel opgestel het, sou daar egter so ’n menigte van “pylaren” in die kerk kom dat die gemeente nie die preekstoel sou kon sien nie. Hy is derhalwe gevra om die pilare te verminder.

Intussen is daar voortgegaan met die maak van bakstene en die aanry van dekstrooi. Daar is selfs voorsiening gemaak vir die huisvesting van ambagsmanne en handlangers.

Op 24 April 1800, te midde van al die bedrywighede, sterf ds. Aling. Sy dood sowel as die probleem om geskikte timmerhout te bekom, het die kerkraad laat besluit om die bou van die kerk tydelik te staak. Eers in Augustus word die bouery hervat. Nou word egter van Thibault se plan afgesien en die plan van majoor Georg Conrad Kiichler, ’n militêre ingenieur en vroeër hoof van die Kaapse artillerie, word aanvaar. Hy onderneem dan ook om die kerk vir 50 000 guldens (R2 500) te bou. Hierdie besluit van die kerkraad het hom die wrewel van Thibault op die hals gehaal. Hy het aan hulle ’n “impertinente en abusivelijk geschrevene Brief” gerig en ’n rekening van 250 Rds., vir argiteksgelde gestuur. Die kerkraad het die rekening as te hoog beskou, maar Thibault het die raad voor die Raad van Justisie gedagvaar. Deur bemiddeling van die Fiskaal het Thibault 50 Rds. afgeslaan mits die kerkraad die regskoste, wat 14 Rds. beloop het, betaal.

In Junie 1803 het Küchler die gebou aan die kerkraad afgelewer, maar daar moes nog baie gedoen word voordat dit ingewy kon word. O.a. moes die vloer nog gelê word. Eers wou die kerkraad somaar ’n kleivloer insit, maar later is tog besluit om bakstene te gebruik. Uiteindelik kon die preekstoel uit die ou kerk, wat ondertussen in gebruik gebly het, na die nuwe kerk oorgebring word. Op 28 April 1805 is die kerkgebou deur ds. J.P. Serrurier van Kaapstad ingewy. In 1808 is die ysterhekke, wat deur Jan Warnick gemaak is, opgerig en in 1811 is die kloktoring gebou.

In die meer as ’n eeu en ’n half wat hierdie ou kerkgebou nou reeds in gebruik is, het dit uiterlik ongeskonde bly staan. Aan die binnekant is enkele veranderinge gemaak. In 1824 is die kerk van ’n solder voorsien, en is twee galerye in die noorder- en suidervleuel aangebring. In 1838 is ’n nuwe preekstoel, deur mej. M.M. Krynauw geskenk, ingewy. In 1852 is die kerk vergroot deur die muur tussen die kerk en die konsistorie te verwyder en ’n nuwe konsistorie aan dieselfde vleuel aan te bou. In 1878 is die kerk van nuwe kerkbanke voorsien en in 1882 is die galery in die oostervleuel gebou.

Van die mees vooraanstaande predikante van die Ned. Geref. Kerk was leraars in hierdie kerk; o.a. ds. T.J. Herold (1823-1831), jare lank voorsitter van die Kaapse Ned. Geref. Sinode ; ds. G.W.S. van der Lingen (1831-1869), voorstander van die stigting van die Teologiese Seminarium op Stellenbosch, en vader van Het Gymnasium in die Paarl en van die Pinksterdienste in Suid-Afrika; ds. Gilles van de Wall (1870-1895), moderator van die Kaapse Ned. Geref. Sinode; ds. A.A. Moorrees (1895-1907), later professor aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch; ds. P.G.J. Meiring (1907-1921), die eerste redakteur van De Kerkbode, en ds. D.G. Malan (1921-1930) later ook professor aan die Teologiese Kweekskool te Stellenbosch. Hierdie manne het ’n besondere tradisie aan die ou kerk verleen.

Hierdie kerkgebou is egter nie slegs ryk aan geskiedenis en tradisie nie, maar dit het ’n buitengewone argitektoniese sjarme. Van binne is dit die eenvoud self – ’n eenvoud wat ’n gewyde stemming wek. Van buite skep die pragtige wit gewels ’n egte Bolandse atmosfeer van rustigheid en landelikheid. Hierdie atmosfeer word verhoog deur die hoë eikebome en die omringende kerkhof met sy oudmodiese grafkelders.

(Geproklameer 1966)

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 87-88.

 

Foto: A.F. Trotter • Die Strooidakkerk • William Fehr-versameling