Godsdienstigheid van die trekboere
January 27, 2015
Pionierswerk op Genadendal
January 29, 2015

Die Statebybel, wat soveel trekboere op hul eensame pad die binneland in vergesel het, was baie gewild in die land. In die agtiende eeu het ’n onafgebroke stroom Bybels uit Nederland gekom. Nie alleen het lidmate dit vir huisgodsdiens gebruik nie, maar die reisiger H Lichtenstein vertel aan die begin van die negentiende eeu dat mense soms nie ander vermaak gehad het nie as om by ’n tafel te sit en psalms te sing of anders te luister na ’n preek of hoofstukke uit die Bybel wat iemand voorgelees het.

Die Statebybel is so genoem omdat die State-generaal, hoogste gesag in Nederland, ’n groot deel van die koste van die Bybelvertaling uit die oorspronklike tale gedra en besluit het dat dit in alle skole en kerke van die land gebruik sou word. Die Statebybel, wat in 1637 verskyn het, was deel van die geestelike besit van die mense wat uit Nederland na Suid-Afrika gekom het. Tot dié geestelike besit het verder gehoort die belydenisskrifte van die Gereformeerde Kerk: die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls.

Die Bybel was pragtig uitgegee; die nuutste tipografiese en bindtegnieke is ingespan. Mense was in Nederland bereid om hoë pryse te betaal. Pare wat gaan trou het, het ’n Statenbijbel as geskenk gekry. Vaders het driemaal per dag huisgodsdiens gehou en elke keer ’n hoofstuk voorgelees. Tussen 1637 en 1651 het 300 000 eksemplare in Nederland met sy bevolking van ongeveer 1,8 miljoen mense verskyn.

Vertalers en reviseurs van die vertaling is uit verskillende gebiede van Nederland gekies. Wanneer ’n bepaalde woord tot net een dialekgebied beperk was, het dit nie plek in die Bybel gekry nie. Hoewel moderne Nederlands gegroei het uit Hollandse dialekte, is die skryftaal ook beïnvloed deur Protestante wat uit Vlaandere en Brabant padgegee het nadat Spanje Antwerpen in 1585 beset en die suidelike Nederlande herower het.

Een van die belangrikste keuses van die vertalers is later in die Afrikaanse Bybel behou. Die Suid-Nederlandse woordvorme met die uitgang –e het plegtig geklink, en die vertalers het hulle so gehou. Die naam Heere was een daarvan. Die wisselvorm Heer is te vinde in liedere, soos Psalm 48 (in die Totius-beryming): “Die Heer is groot waar Sions top…”

Die vertalers het ook die suidelike diminutiefsuffiks –ken gebruik soos in “Laat de kinderkens tot Mij komen” (Mark. 10:14). Die ietwat verouderde Afrikaanse woord sagkens kom uit die Statenbijbel. Koning Dawid het gevra: “Handelt mij zachtkens met den jongeling, met Absalom” wat die 1933-vertaling gee as: “Saggies met die jongman, met Absalom” (2 Sam. 18:5). Die bekende Psalm 23:2 lui: “Hij voert mij zachtkens aan zeer stille wateren.”

Die Statenbijbel het sowel Nederlands as Afrikaans met vaste uitdrukkings en spreekwoorde verryk. Ontlenings aan die Statenbijbel is uitdrukkings soos in sak en as (onder meer Jes. 58:5), ’n steen des aanstoots (I Pet. 2:7), in die duister tas (Job 12:25), die inwendige mens (Rom. 7:22), berge versit (1 Kor. 13:2), ’n boom aan sy vrugte ken (Matt. 12:33), ’n doring in die vlees (2 Kor. 11:7), die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak (Matt. 26:41); ’n vreemdeling in Jerusalem (Luk. 28:18), sondebok, slagoffer, op twee gedagtes hink, uit die bose is Statenbijbel-ontlenings aan Hebreeus, en jou nie onbetuig laat nie ’n ontlening aan Grieks.