Die standbeeld van dr. Andrew Murray voor die NG Moederkerk op Wellington

Wette en strawwe uit die ou dae
April 24, 2017
Sir Arnold Theiler
May 3, 2017

(Geskryf deur GJ Jooste, Opleidingskollege, Wellington, soos verskyn in Historia Junior)

Nadat dr. Andrew Murray op 18 Januarie 1917 oorlede is, het daar die gedagte ontstaan om ’n standbeeld van hom op te rig. Die motiverende faktor hiervoor was om uitdrukking te gee aan ’n dankbare gevoel teenoor God vir die gawe van dr. Murray aan die Kerk en die gemeente – ’n gevoel wat by talle inwoners van Wellington aanwesig was. Daarom het die Kerkraad van die Wellington-gemeente op 10 April 1917 besluit om ’n kommissie te benoem om met die plaaslike Munisipaliteit te onderhandel i.v.m. die moontlike oprigting van ’n standbeeld. Die kommissie het bestaan uit ds. DG Malan, ouderling GM Retief en diaken JS Marais.

Teen Junie 1917 het die standbeeldkommissie (bekend as die Dr. Andrew Murray Memorial Committee) tot stand gekom en bestaan uit verteenwoordigers van die Munisipaliteit en die Kerkraad. Die voorsitter was ds. DG Malan en die sekretaris, die heer DS Brink wat ook sekretaris van die Wellingtonse Munisipaliteit was. Ten einde die nodige fondse vir die standbeeld te verkry, is besluit om ’n brief aan alle kerkrade en munisipaliteite dwarsdeur die Unie te rig waarin hulle om ’n bydrae genader is.

Op 19 Junie 1917 het die Wellingtonse Munisipaliteit besluit om 25 Pond (R50) tot die standbeeld by te dra terwyl die plaaslike Kerkraad in Oktober 1917 ook ’n ooreenstemmende bedrag gestem het. Die fondse het betreklik vinnig ingestroom en teen Desember 1917 was reeds £725 5s 4d ontvang. Bydraes het vanuit die hele land gekom; van munisipaliteite, kerkrade, organisasies en private persone.

Ten spyte daarvan dat bydraes betreklik vinnig ingekom het, het daar ’n hele paar jaar verloop voordat die standbeeld opgerig is. Waarskynlik moet hierdie vertraging toegeskryf word aan Wêreldoorlog I wat toe aan die gang was asook moontlike probleme om ’n geskikte beeldhouer te vind. Uiteindelik het ’n Italiaanse beeldhouer, Pietro Posta, die opdrag ontvang om die beeld uit te kap. Teen die einde van September 1922 het die standbeeld in Kaapstad aangekom. Dit is gebou uit wit marmer en het meer as twee ton geweeg. Die beeld is geneem na die werkplaas van die firma Cane waar die voetstuk nog gemaak moes word. Daar is die voetstuk wat ongeveer 12 voet hoog is, uit Paarlse graniet gemaak en tesame met die standbeeld was die totale gewig sowat 27 ton. Daar is beraam  dat die totale koste van die standbeeld en voetstuk ongeveer 1,200 Pond sou bedra. Ook is besluit dat die standbeeld voor die kerkgebou op Wellington opgerig moes word.

Uiteindelik was alles gereed en is bepaal dat die onthulling op 24 Augustus 1923 sou plaasvind. Daarmee sou die ideaal van talle persone verwesenlik word. Ten einde die nodige waardigheid aan die geleentheid te verleen, het die Munisipaliteit besluit om die strate in die omgewing van die kerk vir die duur van die onthullingsplegtigheid te sluit en ook alle winkeleienaars versoek om hulle winkels tussen 2-4 namiddag te sluit.

Vrydag, 24 Augustus 1923 was ’n reënerige dag op Wellington. Die nat weer het egter geensins die geesdrif van die plaaslike inwoners gedemp nie. Behalwe hulle, het leerlinge en studente van die plaaslike opvoedkundige sentrums en ook talle besoekers van elders die kerkgebou van hoek tot kant gevul. Daar het hulle ontroerd geluister na die rede van dr. HS Bosman van Pretoria wat as jong seun in die huis van die Murrays opgegroei en homself as die geestelike seun van dr. Murray beskou het. Nadat die verrigtinge in die kerk afgehandel is, het die aanwesiges na buite gegaan waar die onthulling van die standbeeld waargeneem is deur ’n suster van dr. Murray, mev. JH Hofmeyr, weduwee van ’n predikant van Somerset-Oos. Kranse is ook by hierdie geleentheid aan die voet van die standbeeld gelê deur die Hugenote Seminarie, die Hugenote Universiteitskollege en familiebetrekkinge.

Die standbeeld toon dr. Murray aan soos hy gelyk het ongeveer 20 jaar voor sy dood. Hy sit in ’n Ieunstoel met ’n Bybel geopen op sy skoot. Sy hande rus op die Bybel en sommige blaaie word los tussen die vingers gehou. Die oë is egter nie op die Bybel gerig nie, maar is peinsend na vore gewend.

Op die voetstuk is ’n steen aangebring waarop die volgende gebeitel is: Andrew Murray, 9 Mei 1828 – 18 Januarie 1917.

“Opdat God alles zij”

“Opgericht door het publiek van Zuid-Afrika”

 

Skrywer verleen graag erkenning aan die volgende vir die verkryging van die bostaande inligting:

Notules van die Kerkraad van die Nederduits-Gereformeerde gemeente Wellington, 1917-1924:

Notules van die Munisipaliteit Wellington, 1917-1924.

Die Kerkbode, 1917-1924.

Die Burger, 1917-1924.

Paarl Post 1917-1924.

Skrywer wil ook graag sy dank betuig jeens die Argief van die N.G. Kerk in Suid-Afrika, en by name die argivaris, ds. HC Hopkins vir sy vriendelike hulp.