So het hulle vuurgemaak
April 11, 2017
Die Voortrekkermonument
April 11, 2017

(Geskryf deur Marius Vermaak, St. VII, Sentrale Hoërskool, Bloemfontein, soos verskyn in Historia Junior, November 1969)

Oor die hele wêreld het onrus geheers, oral was daar betogings, opstande en stakings. Die gees van ontevredenheid het ook aan die Rand stadigaan ’n klimaks bereik. Dit was 1922.

Die Smuts-regering het sy hande vol gehad om al die klein veldbrande dood te slaan. Reeds vanaf die einde van die Eerste Wêreldoorlog het die ekonomie geleidelik verslap om uiteindelik in duie te stort. Landboupryse het belaglik gedaal, lewenskoste het gestyg en teen 1920 moes die Unie-skatkis geld aan die Spoorweë voorskiet. Omdat daar geen moontlikhede op die platteland was nie, het duisende blankes na die stede en dorpe en mynvelde gestroom. Die armblankevraagstuk het ontstaan.

In 1920 volg nog ’n terugslag: die Regering stap van die goudstandaard af, gevolglik was daar geen verpligting meer op die banke nie om papiergeld vir goud te wissel. Geld was dus nie meer ten volle deur goud gedek nie.

Ook het die bestaande koalisie-regering (Suid-Afrikaanse Party plus Unioniste) van genl. Smuts geensins stewig in die saal gesit nie. Hulle het slegs ’n geringe meerderheid oor die Nasionale Party gehad en indien laasgenoemde met die Arbeidersparty sou verenig, was die Regering se doppie geklink.

Weens die ekonomiese moeilikhede moes sommige kleiner myne aan die Witwatersrand bedrywighede staak. Om die orige myne aan die gang te hou, moes die produksiekoste besnoei word. Die mynbase se oplossing hiervoor was die opheffing van die Kleurslagboom in November 1921.

Vroeër het die aantal blankes tot die aantal nie-blanke mynwerkers in die verhouding 1 : 8 gestaan, nou was die verhouding egter 1 : 10, want die naturel kon teen ’n laer loon as die blanke werk, alhoewel minder doeltreffend. Dadelik kom die Kamer van Mynwese in botsing met die sowat 2,000 blanke werkers wat gevaar staan om afgedank te word. Die vakbonde het bitterlik teen hierdie nuwe reëling gestry en ontevredenheid het toegeneem.

As die loon van die steenkoolwerker op 1 Januarie met vyf sjielings per dag verminder word, volg die eerste protes: ’n staking. Enkele dae later volg 20,000 goudmynwerkers hierdie voorbeeld.

Hier moes genl. Smuts tussenbeide getree het, maar hy begaan die fatale flater om buite die geskil te bly. Sy optrede het veroorsaak dat die blanke vertroue in die regering verloor het en glo dat hulle kop in een mus met die mynmagnate was.

Teen sinkplaatheinings het ontslag-kennisgewings gepryk en ’n neerdrukkende gevoel van onrus geskep. Agthonderd steenkoolmynwerkers is naamlik ontslaan toe hulle nie met die laer lone tevrede was nie. Die atmosfeer aan die Rand was nou dreigend en plofbaar.

Die Volksblad van 3 Februarie berig: “Die eerste wanordelikhede van die staking het vandag gebeur toe ’n deel van die spoorlyn tussen Geduld en Welgedacht met dinamiet opgeblaas is.”

Die Regering wou nog ’n onpartydige ondersoek instel, maar teen 5 Februarie het die toestand onherstelbaar versleg: werkers het openlik die stigting van ’n werkersrepubliek bespreek, voorstelle hiervoor aan verskillende parlementslede en die Goewerneurgeneraal is verwerp. ’n Sekere mnr. Waterson het onder meer op ’n massavergadering in die Johannesburgse stadsaal die mense aangemoedig om dapper te veg en vasberade te wees om die staking deur te voer. Hy het gesê die kapitalistiese sisteem is verfoeilik en behoort gebreek te word. Dit mag hul liggame dood of hulle in die tronk stop, maar dit kan nie die gees van vryheid in die harte doodmaak nie.

Die kommando’s wat met die aanvang van die staking gestig is, het in Fordsburg tot 3,000, in die Sentrale Streek tot 2,000 en in Jeppe tot 2,000 aangegroei. Sommiges het gewere en selfs masjiengewere gehad, ander slegs swaar kieries. Die opstandiges het later twee Duitse kanonne uit die stadsaal van Benoni gebuit.

Vanselfsprekend was daar diegene wat passief hul werk wou hervat, die sogenaamde “onderkruipers”. Hiervoor wou die heethoofde ’n stokkie steek en gou het voorvalle met die polisie plaasgevind. Dit loop op die doodskiet van drie stakers op 27 Februarie uit. Nou was die gort gaar.

As gevolg van die ontoegeeflikheid van die Kamer van Mynwese neem die “Aksiekomitee”, vyf ekstremiste, op 6 Maart die leiding van die stakers oor. ’n Skrikbewind bars los. Brandstigting, moord en doodslag vier hoogty.

Die Volksblad, 10 Maart: “Sake lyk tans presies soos in 1913. Rytuie en motors is belet om te ry.”

Kommunistiese elemente was duidelik onder die stakers teenwoordig. In demonstrasies het hulle selfs soms die revolusionêre lied, die “Rooi Vlag” gesing.

As genl. Smuts uiteindelik tot aksie oorgaan, werp hy alles in die stryd. Om 9.40 vm., Vrydag 10 Maart, word krygswet in ’n groot aantal distrikte afgekondig. Hewige slae woed in Boksburg en voorstede soos Brixton en Langlaagte. Die stakers neem Fordsburg se drieverdiepingpolisiestasie in en brand dit heeltemal af.

In die kil oggendure word die ganse Benoni deur sporadiese geweervuur gewek. Opstandelinge het hulle in die Arbeidersaal agter sandsakke ingegrawe. Die polisie beweeg skuil-skuil nader. Koes agter pilare, in deuringange as ’n dodelike vuur vanaf balkonne, dakke, enige gunstige punt op hulle gerig word. Af en toe steier een van die sluipende figure mank en stort neer. Kort na nege-uur het vliegtuie van Robertshoogte aangekom. Die manne in die saal het tevergeefs na die duikende vliegtuie geskiet en die gekletter van Lewis-gewere en barstende bomme het die geveg oordonder.

By Marshallplein het dit nie beter gegaan nie. Die polisiemanne mroes agter sandsakke skuil en die dak was ’n sif geskiet.

Een middernag daag genl. Smuts van Kaapstad af inderhaas in Johannesburg op. Hy organiseer die weermag en spoedig begin die gereg die oorhand kry. Orals was werwingskantore waar manne by nood-polisiemagte kom aansluit.

Op 15 Maart stort die hele revolusie in duie toe die belhamels selfmoord pleeg. Die Randse Vakbond het die staking amptelik afgelas en die Mynwerkersbond het hom van die ekstremiste gedistansieer. Die beskadiging van eiendom was ontsaglik en die lewensverlies tragies: aan regeringskant is 76 dood en 237 gewond, aan stakerskant het 140 gesneuwel en 287 is gewond. Spesiale howe het stakers verhoor en sommiges weens moord tot die dood veroordeel.

Later het die myne op hul voorwaardes die werkers weer in diens geneem.

So ’n reuse-gebeurtenis moet verreikende gevolge hê. Die Mynwerkersopstand van 1922 was geen uitsondering nie. Eerstens: die myne het weer eens begin floreer. Hierna het die Regeringsparty geweldig steun verloor en plattelandse kiesers aan die Nasionale Party afgestaan, terwyl die stedelikes na die Arbeidersparty gedryf is. Myns insiens het die staking grootliks daartoe bygedra dat die Pakt-regering van genl. Hertzog later aan bewind gekom het.

Suid-Afrika was nog nooit nader aan Kommunisme as juis gedurende hierdie tyd nie. Kan ons hierdie mense veroordeel? Nee. Ons ken immers nie die sedelike verval tydens die depressie nie, ons ken nie die vernedering om eers deur ’n ander moondheid oorwin te word en daarna gedeeltelik onderdruk te word nie. Laat ons net hoop dat so ’n situasie nie weer sal ontwikkel nie.