Die St. George-kerkie, Knysna

Droomvrou
January 21, 2019
Die Van Plettenbergbaken, Plettenbergbaai
January 21, 2019

In 1828 het die regering van lord Charles Somerset ’n plan opgestel vir die aanlê van ’n dorpie op ’n gedeelte van George Rex se landgoed en hier het Knysna langsamerhand verrys. Aan die pad, vandag die hoofstraat, wat deur die dorpie geloop het, het George Rex ’n morg (0,8 ha) grond vir die bou van ’n Engelse kerk geskenk. Met die bou van die kerkie sou egter eers in 1849, tien jaar na sy dood, begin word. In April van daardie jaar is die hoeksteen deur sy tweede seun, John, gelê. Klip is uit die onmiddellike omgewing aangebring, maar geld was skaars en die volgende jaar was die mure nog maar halfpad. ’n Spesiale poging, veral deur die drie Rex-broers, om die nodige geld in te samel, is aangewend en uiteindelik is die werk deur bouers, wat deur biskop Robert Gray spesiaal uit Engeland vir sy kerkbouprogram gebring is, voltooi.

Die kerkie is gebou volgens ’n baie ou Engelse plan, en die deel wat uiteindelik voltooi is, en tans nog staan, is in werklikheid slegs die kanselruimte van die beplande kerk. Aan die westekant is die boog vir die aanbou van die skip voltooi, maar dit is met bakstene toegemessel tot tyd en wyl die nodige fondse vir die uitbreiding gevind kon word. Opmerklik is veral die pragtige klipwerk en die fyn afwerking van die buitehoeke, die stutte en die vensters.

Die kerkie, wat op 3 Oktober 1855 deur biskop Gray gewy is, is nooit voltooi nie en in die jare twintig van die 19de eeu is ’n nuwe St. George-kerk net daar langsaan gebou. Kort gelede is dit egter herstel en geleë in ruim gronde met die grafte van talle ou inwoners van Knysna, waaronder die tweede vrou van George Rex en etlike van sy kinders, vorm ’n waardige, rustige, historiese middelpunt van hierdie mooi dorpie.

Foto: Sophia Gray • Die St. George-kerk 1855 • SA Biblioteek, Kaapstad

(Geproklameer 1963)

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 126-127.