Die Spaanse griep en AVBOB

Die Huisgenoot word opgerig
January 22, 2015
Veranderinge in die taal
January 22, 2015

In die laaste jaar van die Eerste Wêreldoorlog het ’n groot ramp die mensdom getref. Dit is die Spaanse griep, wat in 1918 oor die hele wêreld 25 miljoen lewens geëis het. Dis te verstaan dat mense nog nie uitgepraat raak daaroor nie. In die internasionale nuustydskrif Time is in 1998 geskryf dat die grieppandemie ’n misterie bly.

Van die vroegste gevalle van die griep in Suid-Afrika is op 9 September 1918 in Durban aangemeld. Hulle het heel moontlik swartes aangesteek wat as mynwerkers na die Rand is, hoewel die siekte dalk ook deur werkers van Mosambiek oorgedra is na die Rand waar die eerste swart mynwerkers omstreeks 18 September 1918 siek geword het. Teen 27 September was daar reeds 14 000 siekes.

Aanvanklik was die griep betreklik lig. Mense het vinnig herstel en min is dood. Gou het dit kwaadaardig geword. Kenmerkend was die virus-longontsteking wat binne een of twee dae ontstaan het. Daar bestaan ’n teorie dat twee griep-golwe die land getref het: ’n betreklik ligte vorm vanuit Durban, en ’n meer kwaadaardige vorm uit Kaapstad. Natal, veral Durban, is die ligste getref.

In Kaapstad was die meeste winkels toe. Nou en dan het ’n trem gery. Die grootste deel van die verkeer was begrafnisstoete dag en nag. Mense het met rate na koerante gestroom. Een man wat geglo het aan “vars lug en diep asemhaal” het by die Burger-kantoor dood neergeval.

Heelparty berekenings is gemaak van die aantal slagoffers, maar dis onmoontlik om dit met sekerheid te bepaal. H Phillips, ’n historikus wat ’n deeglike studie gemaak het, meen dis tussen 250 000 en 300 000. Volgens ’n regeringskommissie is 11 726 wit mense dood.

Onder die oorledenes was groot figure in die Afrikaanse beweging. Die bekendste is die predikant doktor Tobie Muller, wat in sy studentedae ’n leidende aandeel in die taalbeweging geneem het. In 1916 is hy na die NG gemeente Philippolis. Hy was al siek toe hy op Sondag 13 Oktober 1918 die diens waargeneem het, en is die namiddag per motor na ’n plaas waar die hele gesin siek was. Op 25 Oktober is hy oorlede en die volgende dag begrawe. Net ’n paar mense, hoofsaaklik ou mense en kinders, kon die begrafnis bywoon. Ander bekendes wat dood is, was Fred Dormehl, hoofbestuurder van die Nasionale Pers, en dokter Guillaume Marais, ’n Oos-Transvaalse veearts en kultuurman. Ná die griep het dominee MTR Smit ’n weeshuis vir verwaarloosde kinders op Ugie begin wat deur die jare duisende kinders vir die kerk –en die taal – gered het.

Onregstreeks het die griep gelei tot die totstandkoming van AVBOB in Bloemfontein. ’n Aantal klein begrafnisfondsies het weens die baie griepsterfgevalle in duie gestort. ’n Nuwe onderneming is toe begin wat weens wanbestuur misluk het. Op grond van ’n verslag van HH van Rooijen, gebore Nederlander wat hom volkome met die Afrikaner vereenselwig het, het die Afrikaanse Verbond Spaar- en Voorskotkas Bpk dit ter wille van die Afrikanersaak oorgeneem en dié het die Afrikaanse Verbond Begrafnis Onderneming Bpk, AVBOB, opgerig. Van Rooijen was jare lank bestuurder. In 1938 het AVBOB 89 takke in die land gehad, veral op oorwegend Afrikaanse plekke.