Sir Arnold Theiler
April 11, 2017
So het hulle vuurgemaak
April 11, 2017

(Geskryf deur Marietjie Kleinhans, Barrydale Hoërskool, soos verskyn in Historia Junior, Mei 1965)

Die stad was besig: Motors het gejaag en getoet; mense het vinnig gestap-draf en stemme het skril geklink. Almal wou net gou nog ’n laaste hemp of brood of wat ook koop. Ek, plattelander, wou graag klaar kry met die gestamp en stoot en saam met my vriendin het ek die Laan ingegaan. Dit was sommer so lekker rustig – by die grondboontjieverkopers verby, verby ou ooms op die bankies, tussen die duiwe en eekhorings deur tot voor die kunsmuseum. Sou ons ingaan? – ja, nee?

Meteens het ek botstil gaan staan. Hier vlak langs my, in die fletse Kaapse wintersonnetjie, het ’n massiewe stuk brons geglim. “En dié Anneli?,” het ek verbaas gevra. Sy het gelag: “Ou vreemdeling in Jerusalem, weet jy dan nie van die Smuts-beeld wat hier opgerig is nie?” Ek het nadergestap en terwyl ek na die verwronge gelaatstrekke gekyk het, het ek skielik onthou dat die koerante en tydskrifte vol was oor hierdie beeld van ’n groot man: Jan Christiaan Smuts.

Ons het op ’n bank gaan sit. Anneli het voort gesels, maar ek het skielik nie meer belanggestel in strooihoede en puntskoene nie. My gedagtes was vasgevang deur hierdie beeld – so heeltemal anders as die ander standbeelde. Ek het bly wonder watter tipe mens hierdie man was, wat so deur ’n kunstenaar verewig is.

Toe ek tuiskom, het ek ook dadelik my vader genader om my meer van die agtergrond en geskiedenis van hierdie man te vertel.

Die besonder intelligente veggeneraal, filosoof en politikus is in 1870 op ’n plaas in Riebeek-Wes gebore. Hy het in die regte studeer en is spoedig na voltooiing van sy studies as staatsprokureur deur president Kruger aangestel. Maar daar was oorlog in sy land en hy het saam met die Boeremagte geveg in die Vryheidsoorlog van 1900. Sy besondere belangstelling in die politiek en sy bekwaamheid ook in hierdie rigting was van die redes dat hy as minister in die Botha-kabinet aangestel is. As briljante staatsman het hy Suid-Afrika baie keer in die buiteland verteenwoordig. Nadat hy leier van die Opposisie was, het hy Eerste Minister van Suid-Afrika geword.

In dié tyd was hy opperbevelhebber van die Unieverdedigingsmag en is hy deur almal geëer as die veelbesproke Veldmaarskalk Smuts. In 1948 is sy party verslaan en het hy weer leier van die Opposisie geword.

In 1950 sterf hy: Regsgeleerde, politikus, staatsman en vurige natuurliefhebber. Daar word vertel dat hy vir oefening teen Tafelberg uitgeklouter het – sommer gou-gou! Sy as is oor die vlaktes van Irene gestrooi, daar waar sy plaas was. “Waar het die mense aan die standbeeld gekom?”, wou ek weet. Sy politieke vriende het die Smuts-komitee, onder voorsitterskap van kaptein F. Theron, gestig, en hulle wou ’n standbeeld oprig. Verskeie voorbeelde van miniatuur-Smuts-beelde is bekyk en uiteindelik is dié van Sydney Harpley aanvaar. My vader het my ook vertel dat hierdie tipe beelde wat vir ons Suid-Afrikaners baie vreemd is, algemeen in Europa voorkom. By ons is daar egter groot meningsverskil oor hierdie uitbeelding. Hy wou weet hoe dit vir my gelyk het.

Ek weet te min om dit as kunswerk te kritiseer. Ek is te dom om die simboliek van Sydney Harpley daarin te verstaan, tog weet ek dat daardie massiewe, bonkige, brons-beeld, met net ’n Eenvoudige inskripsie, glimmend in die Kaapse winterson, tussen kale akkerbome en met die grote Tafelberg as agtergrond, ’n vreemde indruk op my gemaak het.