Die slagveld wat toegewaai het

Boerehelde op De Hoge Veluwe vereer
July 17, 2018
Afrikaanse Liedjietuin: Blommetjie gedenk aan my
July 18, 2018

Ongeveer 16 maande lank het “onderskeie tydinge” die waarskynlikheid aangekondig van ’n vyandelike ekspedisie “op deeze volksplanting.”

So begin die toenmalige bevelhebber van die Kaap die Goeie Hoop sy verhaal oor die slag van Blaauwberg wat hy by die huidige Melkbosstrand, destyds Lospersbaai, teen die Britse invalsmag gelewer het.

In ’n brief aan sy vader in Engeland skryf ’n jong Britse kolonel oor die voorbereidsels wat hulle getref het om duisende troepe aan die suidpunt van Afrika aan wal te kry: “The Leda anchored further inshore, off a small creek called Lospards Bay, fifteen to sixteen miles from Cape Town where two gunboats already were stationed to cover the landing …”.

Die datum is 6 Januarie 1806. Brittanje het vir die tweede maal besluit om die Kaap die Goeie Hoop in besit te neem. ’n Taamlike sterk westewind het oor die see aangewaai strand toe en hier en daar het ’n wit seil onder die druk van die wind uitgebol. Sowat 50 troepeskepe het voor Lospersbaai op die deining gelê en wieg onderwyl landingsbote in gereedheid gebring is. Kolonel John Graham, die man wat later op die oosgrens die dorpie Grahamstad aangelê het, sou daardie middag aan wal gaan.

Foto: Die foto is vanaf die sogenaamde knopduin (baken 412) in Melbosstrand geneem van Blaauwberg links en Tafelberg regs in die verte. Volgens waarnemings van die skrywer van die artikel moes hierdie duin deur die 24ste Regiment van die invalsmag beset gewees het. Die Engelse mag het dus die plaaspad gevolg wat van hier af na die nek links op die foto lei. Die Kaapse verdedigers het die Swartlandse roete in die vlakte agter die berg bewaak.

“The first bit of Africa which we saw was Table Hill on Friday, the third day of the year…” skryf hy in sy brief. Altesaam ses regimente, twee swaar houwitserkanonne en ses veldkanonne, ammunisie en proviand vir nagenoeg 5 000 soldate moes ontskeep word. Vlootingenieurs het ’n invalskanaal deur die baai met seeboeie gemerk wat die landingsvaartuie tot op die strand moes volg.

Aan weerskante van die landingstrook is die baai bewaak deur die twee oorlogskepe, die Belliqeux en die Raisonable, elk bewapen met 64 kanonne. Die fregatte, soos die Narcissus en die Leda, kon dit met ’n vlakker kiel nader aan die strand waag en daar anker gooi. ’n Derde swaar bewapende oorlogskip met die vlootkommodoor aan boord, die Diadem, het in die kuswaters op en af gevaar en met sy groot kanonne oor die duine geskiet, een tot twee myl ver. Dié aksie sou die verdedigers in die war bring oor die plek waar die landing gaan plaasvind, het die kommodoor aangevoer.

Intussen het die opperbevelhebber van die invalsmag, sir David Baird, een regiment en ’n klompie berede dragonders onder beskerming van ’n kleiner oorlogskip, die Diomede, na Saldanhabaai gestuur om daar ook ’n inval te doen. In Lospersbaai het die Skotse Hooglanderregimente 71 en 72 aan boord van die troepeskepe vyfuur daardie oggend die gereedheidsein ontvang. Hulle sou die inval lei. Hul ywerige aanvoerder, brigadier-generaal Ferguson, het die landingstrande vooraf persoonlik gaan verken. In die bebosde duine voor hom was daar toe nog geen teken van die Kaap se verdedigers nie.

Foto: So onherbergsaam en toegegroei lyk die slagveld vandag. Daar lê ook hoë waaisandduine wat ten tye van die slag waarskynlik nie so prominent was nie. Dit is interessant om die gesigseinder van Kleinberg links en Blaauwberg regs te vergelyk met die skildery van die onbekende kunstenaar wat die slagveld dramaties voorstel.

Aan bakboord van die verkenningsboot het die Kleinsoutrivier in Lospersbaai uitgemond. Aan stuurboord het ’n betreklike lang strand uitgestrek, onderbreek deur ’n uitham rotse wat deesdae Slabbert-se-klippe heet, ’n gesogte hengelplek. Verder suidwaarts Kaap se kant toe is die baai afgesluit deur nog ’n uitham rotse en seegras wat tans ’n natuurlike skuiling aan vissersbote bied. Toentertyd al kon die brigadier-generaal agter die duine die dak en mure van ’n opstal en plaasgeboue bespeur. Daardie geboue, die ou duine en plaaspaaie word aangedui op ’n vergeelde ou kaart in die Kaapse Argief wat in 1806 na afloop van die veldslag deur kapteins Read en Long van die Royal Staff Corps geteken is.

Van die kaart kan daar taamlik duidelik afgelei word dat generaal Ferguson daardie plaasgeboue en die duine rondom waarskynlik as die eerste doelwit van sy invalsmagte beskou het. Agter die woning in die verte, sowat twee tot drie myl van die strand af, het die strategies geleë Blaauwberg verrys. Wie sy kruin besit, beheer die omgewing, het die bespieder seker gedink. Generaal Ferguson sou waarskynlik in kajuitraad met sir David Baird aan boord van die vloot verneem het van die belangrike Kaapse roete na die Swartland en Saldanhabaai. Die kaart wat hy gebruik het, het waarskynlik aangetoon dat die wapad oor die noordoostelike skouer van die berg loop. Die brigadier-generaal het geweet van die klein invalsmag wat die aand vantevore na Saldanhabaai vertrek het en hy sou kon keer dat versterkings uit die Kaap gestuur word indien hy die roete beheer.

Foto: ’n Uitsig oor Melkbosstrand met die moderne mikrogolftoring waar die odersese kabel tussen Europa en Afrika uitkom. Vroeër jare het hierdie strand Lospersbaai geheet. Die duine in die voorgrond was die eerste doelwit van die invalsmag wat op 6 en 7 Januarie 1806 geland het.

Toe die aanvoerder van die Skotse regiment van sy verkenningstog terugkeer, het die troepeskepe honderde landingsvaartuie laat sak. Matrose het die onbeholpe soldate met hul wapenrusting gehelp oorklim. Eers teen eenuur die middag kon kolonel Graham en sy afdeling van die moederskip af wegstoot. Toe moes hulle roei. Die invalskanaal het egter regs verby ’n verraderlike rotsbank geswenk wat omtrent 200 tree voor die strand net onderkant die wateroppervlak verskuil gelê het…vandag nog ’n gevaarpunt wat deur swemmers vermy word. Daardie middag was die deining hoog en die wind het die landingsbote op bondels begin dryf: “… the boats unavoidably got into such a crowd that many of the turning boats could make no use of the oars. We were then not half a common shot from the beach or sand hills …” skryf die kolonel aan sy vader.

Toe die landingsvaartuie die strand begin nader, het die eerste voorlaaierskote uit die duine weerklink. Sommige soldate wat te vroeg afgespring het, het in die branders beland. Een is doodgeskiet, drie verwond. Nog drie offisiere is deur skerpskutters raakgeskiet. Kolonel Graham meen dat daar sowat 100 berede man in die duine aangekom het om die invallers te bestook; geen artillerie nie. Toe die Skotte die eerste duin bestorm, het die verdedigers na die tweede gevlug. Nog meer troepe was om te land en die son het al water begin trek.

Kolonel le Suer wat die groep verdedigers in die duine aangevoer het, het teruggeval na die plek waar hul perde gestaan het—waarskynlik agter ’n hoë, maklik herkenbare knopduin nie te ver van die plaaswerf af nie. ’n Plaaspad het daar naby verby gegaan waarlangs hy en sy handjievol manne vinniger deur die digbegroeide landstreek kon beweeg. Benewens melkbosse en rietpolle was daar ook katdoring, kersbos en rooikrans, om nie van die geniepsige pendoringbosse te praat nie. Die plaaspad het vorentoe gevurk—die een rigting het na Blaauwberg gelei en by die wapad aangesluit, maar die groepie perderuiters kon dalk kortpad langs die kus af op die plaaspad gegalop het na Rietvlei toe, ongeveer 8 myl daarvandaan waar die Kaapse verdedigingsmagte die aand sesuur aangekom en kamp begin opslaan het. Benewens ambulanse, ammunisiewaens en skotskarre vol voorrade vir 3 000 man, was daar ook 23 veldkanonne waarvan 6 deur 36 opgeleide Maleier-artilleriste bedien was. Die Maleiers het hulle dapper van hul taak gekwyt. Tien het glo tydens die veldslag twee dae later die lewe ingeskiet.

Verskeie bataljons Kleurling-infanterie het diens gedoen en dan was daar ’n sterk kommando uit Stellenbosch se kontrei—boere wat die land geken het en raak kon skiet, soms aangevoer deur ritmeester Human, elders deur ritmeester Linden—“kloeke burgers”, noem die bevelhebber van die Kaap hulle, generaal Jan Willem Janssens, wat ’n verslag vir die Bataafse owerheid opgestel het. Slegs die helfte van die verdedigingsmag het uit ervare krygslui bestaan, d.w.s. soldate wat soldy by die Kasteel getrek het en voorheen al aan Napoleontiese veldslae deelgeneem het.

Tussen die duine van Lospersbaai waar Ferguson se Hooglanders en die ruiters van Le Suer slaags geraak het, staan daar vandag ’n hoë staalraamtoring en mikrogolfskottel. Dit is die eindpunt van die 6 000 myl lange kabel uit Europa na die suidpunt van Afrika—’n onderneming wat meer as R40 000 000 kos. Lospersbaai heet vandag Melkbosstrand. Slegs ’n paar myl van die strandoord af word Afrika se eerste kernkragsentrale opgerig wat tussen 200 000 en 350 000 kilowatt krag vir Wes-Kaapland gaan opwek.

’n Helderblou neonlig flikker snags op die juiste plaaswerf waar die opstal vroeër gestaan het. Die huis is omgeskep in ’n hotel, maar die sogenaamde knegtehuis wat omtrent 50 tree daarvandaan by ’n brakkerige borreldam langs die strand gestaan het, staan vandag nog. Ou ingesetenes van Melkbosstrand noem dit die Damhuis. Van die dam af het die plaaspad oor die eerste duin geloop (die duin lê feitlik gelyk onder die geteerde Mostertstraat) en verby die ou kalkoond (tans ’n  woonhuis) en dan deur die huidige speelterrein van die pragtige nuwe laerskool, oor Otto du Plessisweg langs die knopduin verby deur die ou duinreeks in die rigting van Blaauwberg.

Foto: Die stewige Damhuis op Melkbosstrand is een van die oudste geboue in die strandoord. In die voorgrond staan oom Japie Visser van Melkboschplaas wat jare lank melk op die dorp aflewer en die kontoere soos die palm van sy hand ken. Die Damhuis dra dié naam onder die ouer ingesetenes omdat die brakkerige fontein daar gespring en ’n dam gevorm het. Die plaaspad het van die dam af in die rigting van die Blaauwberg gelei.

Dit is moeilik om te bepaal watter geboue toe reeds bestaan het, maar tekens van die plaaspad kan die ligging van die Britse troepe tydens die inval aandui. Brigadier Ferguson kon sy hoofkwartier in een van die geboue ingerig het. Die regimente het hy op die kruin van die ou duinreeks uitgeplaas — vyf ooswaarts na Blaauwberg gerig en slegs een suidwaarts in die rigting van Kaapstad. Die 24ste regiment het blykbaar die knopduin beset en die plaaspad bewaak wat na Blaauwberg gelei het. Net langsaan is die grofgeskut van die invalsmag staangemaak.

Die dowwe aanduidings van daardie plaaspad kan vandag nog onderskei word deur ’n kenner van die Koebergse kontrei soos Oom Japie Visser, van Melkboschplaas. Hy vertel dat sy skaapwagter, ou Moekoe, “vroeër jare die kudde met daai pad saam aangejaag het om tussen die melkbosse in die strandveld te laat wei. Ou Moekoe se uitkykplek was op die hoogste duin en van daar die benaming Moekoe se duin”, sê Oom Japie. En toe kom die landmeters en soek die einste punt uit vir baken nommer 412. Later het die padmakers gevolg en hulle sny toe helfte van Moekoe se duin af om Otto du Plessisweg reguit aan te lê.

Die knopduin vorm deel van die ou duinreeks langs die kus—om nou te onderskei van die nuwe waaisandduine wat die ou plaaspad ooswaarts plek-plek toegewaai het, beduie Oom Japie. Die wit waaisand, tans oortrek van struikgewas, het in sy dae nog geskuif en soms bloot gelê. Oom Japie het af en toe kanonballe op sy plaas gevind wat die wind oopgewaai het.

Toe kolonel Le Suer die aand sewe-uur by die hoofkwartier van gen. Janssens opgedaag het, moes hy rapporteer dat twee van sy manne in die skermutseling by Lospersbaai doodgeskiet en drie verwond is. Drie manne is vermis terwyl ’n afdeling onder ritmeester Linden en luitenant Albertus iewers in die berg agtergebly het om die vyandelike bedrywighede verder dop te hou. Nege-uur daardie aand het die ritmeester en die luitenant by die hooftent op Rietvlei aangekom en die generaal ingelig dat die ontskeping in Lospersbaai blykbaar nog steeds voortduur. Die Britte sou nog die hele volgende dag proviand en voorrade aflaai vir ’n formidabele leërmag van nagenoeg 5 000 man wat in die duine gekampeer was. Van die kruin van Blaauwberg af sou die ritmeester deur ’n verkyker altemit kon waargeneem het hoe een van die Iandingsvaartuie die dag omgeslaan het: “One of the boats from the Charlotte had been unable to push to windward of the rock above mentioned, she touched it, instantly turned bottom up, and down went 36 of our brave fellows, cheering as they sank. Only three bodies were thrown on the shore, or ever seen more…” lui die ooggetuie-verslag van kolonel Graham.

Na aanhoor van die patrollierapporte het gen. Janssens krygsraad gehou en besluit om nie met sy hoofmag ten weste van Blaauwberg, dit wil sê in die anderhalfmyl kusstrook tussen die berg en see, op te trek. Sy leër sou daar blootgestel gewees het aan die vuurmonde van meer as 190 swaar skeepskanonne. Die invaller sou dan net ’n gedeelte van sy magte op die slagveld teen hom stoot, het hy gevrees, en dan met sy hoofmag om die berg trek om Kaapstad agter sy rug te gaan inneem. Met sy kleiner, swak afgerigte leër wou gen. Janssens verspreide skermutselings met die vyand ook vermy. Hy wou één harde hou slaan met al die kragte tot sy beskikking. Die vyand moes kom na die slagveld wat hy uitgekies het op die vlakte ten ooste langs Kleinberg, ’n uitloper van Blaauwberg en weg van die see en die swaar gewapende oorlogskepe af. Die strategiese kruin van Blaauwberg het hy blykbaar deur ’n mag skaars sterker as ’n patrollie laat bewaak.

Sy leër het Dinsdag opgetrek en die middag, nadat die generaal self die vyandelike magte by die kus gaan bespied het, die posisie ingeneem waarop op die krygsraad besluit is. Op die vlakte van oos na wes, dwarsoor die wapad, tot aan die voet van Kleinberg, het die leër in twee lang gevegsrye gestaan; die ervare soldate op die regterflank tot in die middelfront. Agter die linie het die plaaswoning van Blaauwberg Vley net langs die Kaapse wapad gestaan. Voor die gevegsrye het die wapad teen die hoogte uit gekronkel. As die vyand met daardie pad sou afkom, sou hy steeds sigbaar teen die oostelike hang van Blaauwberg beweeg.

Teen skemeraand het ’n kanongebulder agter die linies losgebars van skeepskanonne wat die basis op Rietvlei bestook het. Vierhonderd gesoute Britse seesoldate sou ook iewers aan daardie kusgedeelte geland word. Die gebulder het tot tienuur geduur. Om middernag verneem die generaal van geweervuur by ’n voorste wagpos langs die kus en hy stuur ritmeester Linden en luitenant Albertus om te gaan vasstel wat daar skort. Die oorsaak blyk toe drankmisbruik te wees en swak dissipline van ’n sersant wat te diep in die bottel gekyk het. Die ritmeester het die wagpos deur sober manne laat vervang. Daardie wagpos was vermoedelik die naaste aan die Engelse kamp. ’n Boodskap is aan die generaal gebring en ritmeester Linden het daarna vermoedelik die kruin besoek.

“De Generaal was voor zich zeker dat de oorwinning onmogelÿk kon geacht worden, maar de eer van het vaderland geboot te stryden welke uitslag dat ook hebben mogt…de troupes stonden ten drie uuren des mogt ochtends in de wapenen…”

Dit was Woensdagoggend 8 Januarie 1806. Omtrent halfvier keer ritmeester Linden uit die berg terug met die tyding dat die vyand in aantog was. Teen vieruur kon die generaal al vaagweg die vyandelike magte voor sy regtervleuel onderskei waar hulle in aanvalskolomme ingedeel was.

Kolonel Graham beskryf die aanvangsure van die historiese dag waarop die slag plaasgevind het, soos volg: “At daybreak I was ordered to form the advance guard…Mr Janssens and his friends lay about 5 miles from where we landed…” Elders lui ’n beskrywing so: “(We) formed into two brigades…and moved off  towards the road which leads to Cape Town…” In die daglumier kon die donker Blaauwberg vir hulle nog skaars sigbaar wees teen die horison en die gidse het waarskynlik die algemene rigting van die plaaspad gevolg. Duisende troepe en grofgeskut moes ooswaarts deur bos en sand beweeg. Sir David Baird het matrose laat inspan om die swaar houwitserkanonne na die gevegsfront te Iaat aansleep.

“…having ascended the summit of Blue Mountain and dislodged part of the enemy’s light troops, (we) discovered the main body of Dutch troops on the plain, chiefly cavalry with 23 pieces of cannon…” Toe dit ligdag word, het sowat 5 000 aanvallers op die skouer van Blaauwberg afgekyk op sowat 3 000 verdedigers in die wapad onder op die vlakte.

“General Baird formed the army into two columns, the second brigade under brigadier Ferguson keeping to the road whilst the first struck to the right and took the defile of the mountains…” vertel ene Roger MacDonald in The Capture of the Cape of Good Hope, ’n boek wat in 1806 verskyn het.

“Ten vyfuur attaqueerde de vyand de linker vleugel om door de duinen in het gebergte door te dringen…” berig generaal Janssens aan sy kant van die front. Ritmeesters Linden en Human en ’n klompie kloeke burgers het skaars ’n uur vantevore juis daardie hoogte, Kleinberg, gaan beset. Intussen het die generaal sy troepe in die gevegsrye in aangesig van die oormag gaan moed inpraat. Een van die Skotte onder brigadier-generaal Ferguson, ene kaptein Carmichael, gee die gebeure in ’n lewendige beskrywing weer: “Action on our side was begun by grenadiers of the 24th regiment sent to dislodge a body of mounted riflemen which occupied a rising ground on our right flank: performed with loss: captain Foster being killed on the spot and 15 men either killed or wounded.”

Die twee leërs het intussen nader na mekaar beweeg en die kanonne het al aan weerskante gebulder. Genl. Janssens en sy kader offisiere te perd was nog voor sy troepe. Skielik klief ’n groot kanonbal (houwitser) die lug bokant hulle en tref die perd van kaptein Ricard (getrou weergegee in ’n skildery van die veldslag wat in die Kaapse herehuis Rust en Vreugd bewaar word). Toe die stof na die raakskoot opklaar, was die ruiter ongedeerd. Bedaard het die offisiere ’n ander perd laat haal en kon die Fransman dit bestyg om waardig sy offisierspligte na te kom—tot inspirasie van die soldate wat die kanonvuur moedig weerstaan het.

Foto: ’n Onbekende kunstenaar het ’n dramatiese oomblik van die veldslag by Blaauwberg in 1806 probeer vaslê. Toe die Engelse houwitser feitlik met die eerste skoot vanaf die hoogte regs ’n perd van die Franse offisier Ricard onder hom doodgeskiet het, het die geveg in alle erns begin. Genl. Janssens en sy groep offisiere was toe nog in ’n posisie voor sy linie. Links lê Tafelberg en regs die Blaauwberg, in die middel Kleinberg waar kaptein Andrew Foster en grenadiers van die Engelse magte deur Boere onder skoot geneem is. Teenaan die kant van die doek links staan ’n opstal wat dalk die plaaswoning Blaauwbergs Vley kon wees. Die belangrike wapad uit Kaapstad na die Swartland het by die woning verby geloop, deur die vlakte oor Kleinberg verby en teen die hang van Blaauwberg uit en oor die nek wat heel regs op die afdruk te sien is. (Afdruk is beskikbaar gestel deur die raad van die William Fehr-versameling. Die skildery hang in die Rust en Vreugd-museum, Kaapstad.)

Maar ’n Engelse houwitser-bal het ’n rukkie later die gevegsry Duitse huurtroepe van die Waldeck-regiment onder rumoerige uitroepe van die soldate getref. Hulle was tog gesoute veterane. Waarom so ’n sensasie in daardie geledere, het die generaal gewonder. Hy het waarskynlik nader gery en skuins agter hulle die verdere ontplooiing van die veldslag dopgehou. Die Duitse huurtroepe moes ten dele die middelfront verdedig. Brigadier Ferguson se Hooglanders het met gevelde bajonette (onder geklank van die vreemde doedelsakmusiek? ) op hulle af beweeg.

Toe gebeur daar iets wat oombliklik buitensporige hoop by die generaal gewek het: “The line in the mean time continued to advance over a tract of ground where we were buried up to the middle in heath and prickly shrub. Owing to some misconception of orders we began firing before we had arrived within killing distance of the enemy,” verduidelik Carmichael.

Byna uitbundig berig generaal Janssens in sy verhaal dat die Skotte hul voorlaaiers leeg geskiet het “op eene te groote afstand, zodat de musket kogels weynig of geene troffen…” Die beslissende oomblik het aangebreek. Nou kon hy daardie harde hou slaan! Hy besluit op die ingewing om sy vuurkrag tot op ’n paar tree te behou en dan met ’n moorddadige sarsie los te brand.

In daardie oomblikke word dinge egter in die guns van die gevelde bajonette van die Skotte beskik wat seker verskriklik in die oggendson geglinster het: die bataljon huurtroepe het onder die spanning begin verkrummel! Hy het hom tussen hulle ingewerp en hulle aan hul eertydse roem besweer; aan Duitsland; aan hul beminde vors; aan wat ook al in sy gedagtes opgekom het om hulle te maak staan en te toon dat hulle die naam soldaat waardig was!

Hulle het egter nie net geritireer nie maar skandelik gevlug, skryf die teleurgestelde man wat moes keer dat hy nie deur die vreesbevange soldate meegesleur word nie. Die generaal het hom toe by die brawe Franse afdeling gevoeg wat nog weerstand gebied het. Tot sy sielesmart het hy gesê, het die linkervleuel van die 22ste bataljon ook teruggebeur. Die wanorde in die linie raak toe algemeen.

Kol. Gaudin Beauchere en sy Franse het nog lank bly staan. Sy offisier Du Belloÿ, neef van die toenmalige aartsbiskop van Parys, is daar swaar verwond. Selfs die tweede perd is onder kaptein Ricard doodgeskiet. Kommandant van die Artillerie Steffens het ’n skoot in die sy gekry. Ritmeester Verkouteren is ook ernstig in die sy getref. ’n Loodkoël het die generaal self getref maar teen ’n voorwerp in sy sak weggeskram. Op daardie oomblik het hy nog nie die oorgawe van die volksplanting aan die invaller oorweeg nie:  “De Generaal verpeinsde op zyn weg naar de Rietvallÿ wat hem in deeze hoogstnoodzakelyke omstandighede te doen staan.” Hy het gereël dat sy magte in die Hottentotsholland hergroepeer is, dalk met burgerlike steun. Hy sou oornag naby Faure, op die plaas Meerlust in die Kaapse-Hollandse gewelhuis van Henning Huising.

Maar op die slagveld van Blaauwberg was die Britse magte bobaas. Hulle het vinnig opgeruk, hoewel hulle al baie moeg was. Die son het ongenadig uit die Afrikaanse hemel op die slagveld in die vlakte neergebak. “SeveraI sailors died at the guns they had been dragging through the soil,” lui die manuskrip wat kort na afloop van die slag in opdrag van die Britse gesagvoerders opgestel is. By ’n karige drinkplek op die slagveld, dalk by die plaaswerf van Blaauwberg Vley, het die dorstige soldate onderling baklei om eerste water te skep. Die Britse opperbevelhebber, sir David Baird op sy pragtige wit perd, moes persoonlik keer dat die bakleiers nie die fonteintjie tot ’n modderpoel vertrap nie.

In die gloed van sy oorwinning het sir David die owerheid tuis laat weet dat die verliese aan Hollandse kant na bewering meer as 700 ongevalle sou wees. Die geskiedskrywer C.E. Cory maan egter tot versigtigheid. Hy noem 347 ongevalle. Aan Britse kant is 189 verwond en 15 gedood. Agt is as vermis aangegee.

Die slagveld waar menige soldaat en matroos uit die leërmagte van Europa en Engeland sy dood gevind het om die beheer oor suidelike Afrika in die Napoleontiese tydvak te beskik, lê tans versteek onder duineveld en oortrek met portjacksonbos. Die terrein behoort aan ’n private maatskappy wat ’n voorstad daar wil uitlê. Op Melkbosstrand het stootskrapers betreklik onlangs poorte deur die duine gesny vir nuwe strate. Ruimte word nou geskep vir die geweldige uitbreidings wat daardie kontrei voor die deur staan. Die Kleinsoutrivier word opgedam. Op sy oewer gaan ’n karavaanpark deur die Kaapse Afdelingsraad aangelê word wat R150 000 vir die projek bewillig het.

Daarbenewens gaan ’n ontsaglike groot hotel, glo ten koste van ongeveer R 1 000 000, op Melkbosstrand opgerig word. Die argitek het jare lank in die hotelbedryf in Miami, Kalifornië, ervaring opgedoen.

Maar hoe sal die geskiedkundige kontoere van die landskap aangedui word? Sal Melkbosstrand dan geen weerklank hê van die generaal en sy kloeke burgers wat die volksplanting so dapper verdedig het nie?

Foto: ’n Seldsame kaart wat die posisie van die Britse invalsmag in Lopersbaai (die huidige Melkbosstrand) aandui, word in die Kaapse Argief bewaar. Die kaart is opgestel deur kapteins Read en Long wat aan die besettingsmag verbonde was. Die dam op die strand en die plaaspad na die nek en die Swartland-roete wat ten ooste van die berg verbygegaan het, word op die kaart aangegee. Teen die oostelike hang van die berg word die slagordes van beide magte aangedui en heel regs op die kaart die posisies van die Britse regimente aan die einde van die veldslag.

Bron: Van Rensburg, Johan. 1969. Lantern, Junie: 26-32.