Die Slagveld van Grahamstad, 1819

Die Hill-orrel
September 10, 2019
Die Provoosgebou
September 10, 2019

Op die hoogte oos van Grahamstad en vlak daarby lê Makannaskop. Die nasionale pad van Kingwilliamstown kronkel onderkant die kop verby na die vallei en Grahamstad. Net suid van die pad in die vallei het die slag van Grahamstad op 22 April 1819 plaasgevind.

In 1819 het die Vyfde Xhosa-oorlog uitgebreek. As eerste doelwit het die Xhosa-hoofde Ndlambi en Makanna vir hulle gestel die totale uitwissing van Grahamstad, die Britse militêre hoofkwartier in die Oostelike Provinsie.

Grahamstad was toe skaars sewe jaar oud en as dorp en as militêre hoofkwartier onbeduidend. Die dorp het uit tussen 20 en 30 huisies bestaan. Die militêre kamp was aanvanklik binne-in die dorp geleë, maar is in 1815 ongeveer twee myl suidooswaarts langs die vallei af verplaas. Stewige kasernes met klei en bakstene is hier opgerig. Dit het eers as die Oostelike Barakke en veel later as die “Fort England Barracks” bekend gestaan. In 1819 was hier ’n garnisoen van 301 manskappe onder bevel van kol. Thomas Willshire.

Op 21 April het die Xhosa-hoofde ’n uittartende boodskap aan Willshire gestuur waarin hulle hom verwittig dat hulle Grahamstad die volgende dag sou aanval. Willshire het hierdie boodskap nie in ’n ernstige lig beskou nie. Hy het die volgende môre die barakke onder die bevel van kapt. Trappes gelaat en op ’n verkenningstog oor die hoogland oos van Grahamstad in die rigting van Bothaskop vertrek. In die loop van die oggend het hy egter skielik gewaar dat duisende Xhosa oor die hoogtes oos van Grahamstad geswerm het. In alle haas het hy na Grahamstad teruggekeer.

Intussen het 10 000 Xhosa onder aanvoering van Makanna, die toordokter, die hoogtes oos van Grahamstad beset. Makanna het sy krygsmag in drie verdeel. Twee afdelings moes die dorpie en een die kaserne bestorm. Kapt. Trappes het onmiddellik die situasie gesnap en het die nodige stappe gedoen om die aanval die hoof te bied. Hy het 60 manskappe van die Royal African Corps afgesonder om die kaserne te verdedig. Die res, aangevul met 32 burgerlikes, het hy in ’n lang linie in die rigting van die huidige spoorwegstasie ontplooi, d.w.s. in die vallei op net wes van die spruit wat van noord na suid aan die voet van die heuwels loop.

Rondom eenuur die middag het die Xhosa die aanval geloods – ’n ongewone tyd vir hulle om aan te val. Die voorste krygers is toegelaat om tot op ’n afstand van 36 meter van die dun linie te storm en toe is die een salvo na die ander in hul digte geledere gevuur. Honderde is afgemaai. Na ’n uur het die Xhosa begin terugval. Die aanval op die kaserne onder die persoonlike leiding van Makanna was veel meer verwoed en is langer volgehou. Aangevuur deur sy teenwoordigheid het die Xhosa tot in die bekke van die geweers gestorm. Hulle het die vierkant van die kaserne binnegedring, waar meer as 100 doodgeskiet is. Uiteindelik teen vyfuur het hulle die stryd gewonne gegee en teruggetrek. In die geheel het duisende Xhosa gesneuwel, terwyl aan Britse kant slegs drie dood en vyf gewond is.

Hierdie slag is om verskillende redes een van die betekenisvolste gebeurtenisse in die geskiedenis van die Oostelike Provinsie. Deur die heldhaftige verdediging van ’n handjievol manskappe teen die aanvalle van ’n oormag van Xhosa is nie slegs die vernietiging van Grahamstad nie, maar ’n verwoestende inval in die kolonie afgewend.

(Bronsplaat 1965)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 143-144.