Die SIag van Rooiwal
March 23, 2017
’n Agtjarige Amerikanertjie en die Anglo-Boereoorlog
March 23, 2017

(geskryf deur dr. JFE Havinga, soos verskyn in Junior Historia)

Aan die noorde en noordweste van die huidige Derby, op die spoorlyn van Krugersdorp na Swartruggens, het een van die groot veldslae in die Driejarige Oorlog plaasgevind. Omdat die troepe onder generaal Dixon van Derby afkomstig was, is die stasie wat later daar gebou is na die plek vernoem.

Ten tye van hierdie slag was die Boerekommando’s grootliks ontwrig en uitgedun. Lord Kitchener het in Mei 1901 80 000 berede troepe gehad en hy is bygestaan deur ’n groot aantal hensoppers en “National Scouts”. Die Boere het dit skraps gehad aan geweers, ammunisie, klere en kos en hulle moes wat hulle nodig gehad het, meestal afneem van die Britse troepe. Daar was ook geen toevoer per spoor nie, omdat die vyand reeds in Oktober van die vorige jaar alle spoorlyne in besit gehad het. Die klere-omruilery het nogal soms baie komiese situasies geskep en die mausers moes vervang word deur Lee-Metfords, omdat die voorraad mauserpatrone opgeraak het.

Onder hierdie omstandighede het die Boere van Rustenburg, Marico, Krugersdorp en Pretoria die veertien aanrukkende leërs probeer keer. Hulle het aangeval en gevlug, deurgebreek en gestorm en deur veg en vlug die oormag probeer stuit.

Skaars het generaal Jan Kemp weer die omsingelende magte ontsnap en hom op Kwaggashoek tot rus gebring, of hy verneem dat generaal Dixon by Vlakhoek is met 1230 man, sewe kanonne en een pompom. Hy het ammunisie nodig gehad, daarom stuur hy sy kommando die nag van die 29ste Mei na Waterval wat grens aan Vlakfontein, waarheen generaal Dixon teruggetrek het.

Om Dixon daar aan te val, sou ’n moeilike tyd wees, want sy manne sou oor kaal bulte moes storm teen ’n groot oormag.

Vroeg die môre van 30 Mei stuur Dixon 200 perderuiters met twee kanonne om die Boere langs die bulte van Waterval aan te val, ’n tweede afdeling trek in die rigting van Vlakhoek en ’n derde na die klowe van Roodewal.

Kemp laat sy uitgedunde mag nader na mekaar kom en toe ontstaan daar ’n grasbrand. Generaal Kemp beweer dat die Engelse die gras aan die brand gesteek het. Burgers wat in die slag was, soos HC Havinga, TA van Dyk en ander wat nog in lewe is, beweer dat hulle gesien het hoe die Boere die gras aan die brand steek. Hulle het gemeen dit is in opdrag van generaal Kemp.

Agter die vlamme en rookwolke van die vuur wat deur ’n sterk wind aangedryf is, het hulle op die Engelse magte aangestorm. So erg was die geskiet dat die kanonniers nie eers die Boere gewaar het wat op hulle afgejaag het en hulle by die kanonne doodgeskiet het nie.

Met 300 man onder Van Deventer, Van Heerden en Van Tonder en die Krugersdorpers op die regtervleuel onder kommandant Claassen en kommandant Oosthuizen, het Kemp onder dekking van vuur en rook nader gekom en deur die vlamme gebars. Die geveg het op ’n klein afstand plaasgevind. Dit was so naby dat die Boere kon sien waar hulle koeëls die vyand tref, soms op twintig tree.

Met groot dapperheid het die vyand verdedig, maar die aanval was te oorweldigend. Binne tien tot vyftien minute was die Engelse mag in Boerehande. Toe skielik klap daar skote van agter af. Die koeëls flits tussen die Boere rond. Veldkornet Du Toit met wyk III van Krugersdorp se mense skiet op hulle eie mense van agteraf. Geeneen van die Boere kon verstaan dat hy die Boere vir Engelse kon aansien nie, en tot vandag toe kan selfs mense wat by hom was dit nie begryp nie.

Kemp moes inderhaas terugval en die verbaasde Engelse kon nie begryp waarom hy nou terugval nie. Met die terugtrek, is baie perde, geweers, ammunisie en klere saamgeneem. Kemp beweer dat sewe Boere gesneuwel het. Dit is foutief, net De Lange het daar gesneuwel. Honderde Engelse dooies en gewondes het op die slagveld bly lê.

Dit is nogal interessant om te vertel van een Engelse soldaat wat ’n swaar skoot deur die elmboog gehad het. Hy het gesukkel om sy sakdoek om die arm te bind en toe HC Havinga van sy perd afspring en hom help, het hy met trane in sy oë gesê dat hy nooit weer na sy moeder sal teruggaan nie, omdat hy te skaam was. Sy moeder het aan hom gesê dat hy teen ordentlike mense kom veg en hy wou dit nie glo nie. Hy het nie teruggegaan nie en is ongeveer 1925 in Johannesburg oorlede.