Die Slag van Vegkop

Trekkers binne en trekkers buite die laer
March 21, 2015
Optrede teen die Matabele
March 23, 2015

Mzilikazi het in 1836 vir die trekkers ’n groot bedreiging geraak. Hendrik Potgieter het einde Augustus van Tregardt af teruggekeer en die verwoesting in die laers aanskou wat die Matebele op 25 Augustus aangeval het. Dit was by Liebernbergkoppie waar byna almal uitgemoor is en later die dag by Kopjeskraal, waar die trekkers hulle met welslae verdedig het.

Potgieter het opdrag gegee dat die trekkers na die suide terugval. ’n Groep het onder leiding van Potgieter en Sarel Cilliers in Oktober 1836 laer getrek by ’n langwerpige rant tussen die Renoster- en Valsrivier, later bekend as Vegkop suidwes van die huidige Heilbron. Volgens die meeste historici was Potgieter die aanvoerder tydens die slag, hoewel ook Cilliers ’n belangrike rol gespeel het. Daar is verskil van mening oor die datum van die slag, maar dis waarskynlik 19 Oktober 1836.

Die laer was in twee kringe opgestel. In die buitenste kring was veertig waens met doringtakke tussen die wiele en die openings tussen die waens. In ’n kleiner kring, bedek met beesvelle bo-op en aan die kante, was die skuiling van dié kinders en vroue wat nie geweers hoef te gehelp laai het nie. Tussen die twee kringe was daar plek vir die perde, en daar was ook ’n opening waardeur die mans met perde kon uitjaag, en wat vinnig met twee waens toegemaak kon word. Die mans hét ook uitgejaag toe die mag van Mzilikazi in die middel van Oktober 1836 aanval.

Sowat vyftig tree van die Matebele het die trekkers stilgehou en ’n bruin man wat die Matebeles se taal kon praat, gestuur om te vra watter kwaad hulle dan gedoen het dat hulle nou aangeval word. Hulle het net dreigend gemompel; “Mzilikazi alleen die woord.” Terugdraai wou hulle nie. Toe die Matebele storm, het die trekkers skiet-skiet na die laer teruggetrek. Verbouereerd kon ’n paar nie weer die opening in die wamuur kry nie, en het weggejaag.

Dié wat veilig terug was, het saam met Sarel Cilliers, een van die geestelike leiers van die trek, gekniel en saam met die vroue en kinders die Allerhoogste se hulp afgesmeek. Teen dié tyd was die Matebele besig om beeste buite die laer dood te steek en die vleis rou te verslind. Daarna het hulle om die laer gewag en hul assegaaie op klippe geslyp.

Ná ’n tyd van byna ondraaglike spanning het die aanval met ’n oorverdowende geskree begin. Die trekkers het die aanvallers tot so dertig treë van die laer laat naderkom en gelyktydig gevuur. Elkeen het twee of meer voorlaaiers gehad, en terwyl die man skiet, het sy vrou of ’n kind kruit en lopers of koeëls in die loop van die ander geweer laat afgly; die jong Paul Kruger was een so ’n kind. Party aanvallers het onder die waens probeer deurkruip, maar van die vroue het met byle gekap na dié wat ingekom het.

Uiteindelik het die aanvallers teruggeval. Piet Botha en Potgieter se jongste broer, Nicolaas, het gesneuwel, en veertien is gewond, ook Sarel Cilliers. Hy het egter dadelik ’n dankdiens gehou om die eer van die oorwinning aan God te gee. Rondom die laer was daar 430 lyke, en 1137 assegaaie is opgetel. Cilliers se watent is deur 72 steke stukkend geskeur. Die aanvallers het 5000 beeste, 50 000 skape en honderd perde weggevoer. Van die vermoënde Potgieter is 5000 skape, 100 trekosse en 300 ander beeste gesteel. Hulpeloos moes die trek wag tot kos en osse opgedaag het om hulle suide toe te neem.

Die Slag van Vegkop was een van die grootste militêre prestasies van die Groot Trek: sowat 34 man kon standhou teen ’n mag van sowat 3000 of meer.