Die Unie van Suid-Afrika
April 15, 2017
Aprilmaand is Van Riebeeck- en Stigtersmaand
April 24, 2017

(Geskryf deur P Calitz, soos verskyn in Historia Junior)

Op Saterdag, 14 Oktober, het Stellenbosch verjaardag gevier. Die Eikestad het na meer as 280 jaar op feestelike wyse die geboortedag van sy stigter, Simon van der Stel, herdenk. Die oudste dorpie in ons land was in feesgewaad. Dit was ’n pragtige lentedag. Die historiese strate was met vlae en baniere versier. Die deftige, sewentiende-eeuse kleredrag, die sierlike koetse, pragtige perde en statige ruiters het die Stellenbossers in die gees eeue teruggevoer na die jaar 1686 toe Simon van der Stel die eerste Kermis op Stellenbosch ingestel het.

In Van der Stel se regeringstyd is die kermis jaarliks gehou. Hierdie “volksfeest” of “jaarmarkt” was ’n bekende instelling in Nederland tydens die sewentiende eeu. Die Stellenbosse Kermis het van 1 tot 14 Oktober geduur en was ’n groot feestelikheid wat nie net deur die Stellenbossers nie, maar ook deur die Kapenaars en die burgers van Drakenstein en Franschhoek bygewoon is. Milisie-oefeninge, skyfskiet en allerlei vermaaklikhede het dié dae gevul. By hierdie geleentheid is die Stellenbossers ook die reg toegesê om “tenten en kramen” te mag opslaan om hul produkte te verkoop. Andersins is sulke vryhandel ten strengste verbied. Op 14 Oktober, die verjaardag van die stigter, het die verrigtinge ’n hoogtepunt bereik. Op hierdie dag was Simon van der Stel meermale teenwoordig – beslis nie elke jaar nie – om die gelukwense van die burgers te ontvang.

Dit is hierdie fees wat op 14 Oktober 1967 op aanskoulike wyse herdenk is. ’n Groepie Stellenbossers onder leiding van mnr. en mev. Tertius van Huyssteen en mnre. Hennie Smit en Andries Esterhuyse het besef dat ’n kleurryke dorpsfees van Stellenbosch vir amper drie eeue vergete gelê het en dat die beroemde stigter ook verwaarloos is. Waarom nie die mooi instellings van die ou kultuurlande van Europa ook hier by ons laat posvat nie? Dit is immers vandag nog ’n algemene gebruik in Europa om dramatiese gebeure en volksgebruike gereeld voor te stel en te herdenk deur kleurryke optogte in die strate en feeste op die markplein. Só bring hierdie lande die verlede na die hede en verryk daardeur die hele volk se bestaan.

Die verrigtinge het om 9.00 vm. begin met 19 saluutskote uit ’n kanon in ’n klofie bo teen Papegaaisberg. Kort daarna het die skerpskutters – almal lede van die Historiese Vuurwapenvereniging van Suid-Afrika – met hul ou kruitgewere op ’n skyfskietpapegaai losgetrek en nie lank nie of die stomme papegaai was sif geskiet.

Die papegaaiskiet het volgens bepaling van Simon van der Stel self ’n vaste instelling op die Kermis geword. In Nederland van die sewentiende eeu was dit ’n ou volksgebruik om op Booerefeeste na ’n houtpapegaai of -gans teiken te skiet. In dele van Holland en Duitsland vind sulke “Schuttersfeeste” vandag nog plaas. Die idee indertyd was nie net om ’n bietjie pret vir die burgers te verskaf nie, maar baie beslis “om de ingesetenen in den wapenhandel meer te oefenen en aantemoedigen ten dienste van het lande.”

Om hierdie rede het die jong seuns van Stellenbosch vroeër reeds van hul neënde jaar met die swaar, ou gewere begin teiken skiet en ook as “weerbare manne” aan die burgerparades op die Braak met Simon van der Stel se verjaardag deelgeneem. Behalwe die papegaaiskiet het manne te perd ook op volle galop met pistole na ’n wit teiken geskiet. Terloops, volgens prof. D Kotzé, ’n bekende geskiedkundige, het die papegaaiskiet nie op of langs Papegaaisberg plaasgevind nie, maar op die Braak, ongeveer waar die Kruithuis nou staan. Dit is in elk geval digby die voet van Papegaaisberg.

Maar om terug te kom na die onlangse fees. Onderwyl die skyfskiet op die terrein van die pistoolskietbaan tussen die hoë dennebome teen Papegaaisberg aan die gang was, het die publiek en feesgangers geleidelik om die Braak saamgetrek totdat daar nagenoeg 6000 mense was. Nog ’n paar duisend het langs die strate posisie ingeneem.

Om 10:45 vm. het die Regiment Universiteit Stellenbosch ’n vlaghysingseremonie op die Braak waargeneem. Op hierdie ou historiese Braak, voor die Kruithuis, het ’n groep feesgangers bestaande uit die heemrade en hul vroue, sowel as ander ingesetenes van die dorp, almal histories korrek geklee, byeen gekom om Simon van der Stel en sy geselskap in te wag. Die vier heemrade was Gerrit van der Byl van “Vredenburg” (prof. Frans Smuts), Henning Hüsing van “Meerlust” (mnr. Herman Steytler), Douw Steyn (mnr. Willem Lubbe) en Matthys Greeff (genl. Van der Spuy van “old Nectar”). Die vlootorkes het vrolike musiek verskaf.

Die optog van die goewerneur het om 11:15 by die stasieplein begin. Dit het bestaan uit twee koetse, ’n molwa (plaaswa), heroute, ’n vaandrig, ’n keteltrommelaar en ongeveer 16 ander ruiters. Die deftige prosessie met die drie heroute heel voor is in die geskiedkundige Dorpstraat (“Kaapsche Wagenneg”) op en langs Drostdy- en Pleinstraat tot op die Braak.

Hier het die goewerneur (mnr. Hennie Smit, LV), en sy geselskap hulle plekke op ’n verhogie ingeneem. Van der Stel was in ’n skarlakenrooi fluweeljas uitgedos. Saam met hom was die predikant Johannes Overney (mnr. Manie Strydom), luitenant Oloff Bergh (mnr. Tertius van Huyssteen), die kassier Lodewyk van der Stel (mnr. Danie Carinus) en die sekretaris van die Raad van Justisie, Melchior Kemels (mnr. AJ Esterhuyse). Hierdie amptenare het Simon van der Stel in 1686 na Stellenbosch vergesel toe hy die eerste Kermis ingestel het.

Landdros Mulder (dr. André Hugo) in sy swart fluweel, het die goewerneur in ’n kort toesprakie
“van herte wllecomen” geheet en die leidende figure van sy gemeenskap aan die hoë besoeker voorgestel. Onder hulle was Adam Tas van die latere “Libertas”, Dirk Coetzee van “Coetzeeburg” (tans Coetzenburg) en Jan Jonker van “Jonkershoek”.

Die vernaamste ingesetenes het daarna elk ’n kans gekry om met ’n gepaste Nederlandse sinnetjie die goewerneur met sy verjaardag geluk te wens en ’n geskenk te oorhandig. Henning Hüsing in sy blou fluweelpak, sy wit kniekouse en swart hoed met ’n pronkerige volstruisveer het ’n karba wyn uit “Meerlust” se kelders aan Simon van der Stel gegee met die hoop dat die goewerneur die wyn nie weer, soos die vorige jaar, van “een bijzonder afkeerig wreetheijt” sal vind nie. Van der stel het tot groot vermaak geantwoord dat hy vanjaar diep onder die indruk verkeer – gelukkig nie onder die invloed nie – van “’s lands wijn”. Die goewerneur het met uiterlike genoegdoening ook ’n luiperdvel, ’n mandjie met vrugte, ’n gemmerpotjie met heuning en ’n karwats in ontvangs geneem.

Die deelnemers het hoofsaaklik Nederlands gepraat en dit het saam met die sewentiende-eeuse feesgewaad baie gehelp om die nodige atmosfeer te skep. Daarby was die toesprakies, ook dié van die goewerneur, kort en kragtig.

Die skoolmeester, Sybrand Mankadan, bekend vir sy “habituele excessen”, en sy groep leerlinge het as die Mankadan-koor die goewerneur by twee geleenthede Nederlandse liedjies toegesing, soos “Piet Hein” en “Al is ons prinsje noch zo klein”. ’n Maleier-orkes (seuns van Paul Roos-Gimnasium) het tussendeur vrolike musiek verskaf.

Kort voor die goewerneur en sy gevolg die terrein verlaat het, is die koning van die skerpskutters (mnr. Ken Wade van Pinelands) skouerhoog na die goewerneur op die verhoog gedra om sy pragtige stinkhouttrofee in die vorm van ’n papegaai te ontvang. Hierdie trofee is geskenk deur senator Paul Sauer, ’n direkte afstammeling van die Cloetes wat lank “Groot Constantia” besit het.

Die hele oggendprogram is volgens ’n deeglik beplande rooster afgehandel. Hierdie program is op voortreflike wyse deur Miems van Huyssteen en haar eggenoot saamgestel. Presies om 12:45 het die skerpskutters hul afskeidsalvo’s geskiet. Mnr. Gerhard Roux het die verrigtinge op paslike wyse oor ’n luidspreker verduidelik. Dit het nie gehinder nie. Inteendeel, die duisende toeskouers het presies geweet wat plaasvind.

In die namiddag is die fees op Coetzenburg voor duisende toeskouers voortgesit. Die blaasorkes van die vloot het musiek verskaf. Ter wille van die baie mense van die omliggende dorpe wat die voormiddag die verrigtinge nie kon bywoon nie, was daar weer ’n optog van die koetse en ruiters en het die skerpskutters ’n demonstrasie van papegaaiskiet gegee. Daarna het ’n indrukwekkende vertoning van moderne wapentuig in aksie gevolg. Om 4:15 het die verrigtinge op Coetzenburg met ’n vlagstryking ten einde geloop.

Die feesdag is die aand afgesluit met ’n groot verjaardagmaal van outydse geregte. Waterblommetjiebredie en gebraaide speenvark is onder meer bedien. Al die deelnemers van die fees sowel as ’n klompie feesgangers was in hul ouderwetse kostuums geklee. Die feesmaalgangers het vrolik in Nederlands en Afrikaans geskerts.

Op Sondag, 15 April, het die vyf Stellenbosse gemeentes elk ’n spesiale diens gehou. Dieselfde teks is behandel wat op 19 Oktober 1687 deur ds. Johannes van Andel by geleentheid van die inwyding van die eerste kerk op Stellenbosch gebruik is, naamlik Numeri 6:23-27.

Só het Stellenbosch ’n grootse begin gemaak met ’n unieke fees. Hierdie fees sal voortaan jaarliks in die Eikestad gevier word en sal in 1979 ’n hoogtepunt bereik met die viering van Stellenbosch se 300-jarige bestaan.

Stellenbosch het nie net fees gevier nie. Hy het die geskiedenis beleef! Hy het terselfdertyd geskiedenis gemaak!