Die runderpes-ramp

Ontploffing by Braamfontein
May 27, 2015
Vernietiging en bewaring
May 29, 2015

Ook nog in 1896 het ’n ekonomiese ramp ’n groot deel van Suid-Afrika getref. Dit is veroorsaak deur die runderpes – letterlik “beestepes”: die Nederlandse woord vir beeste is “runderen” of “rundvee”. Runderpes is ’n virussiekte wat eeue lank in Asië bestaan het voordat dit met die val van die Romeinse Ryk met die invallers na Europa gekom het. Daarna het dit eeue lank in Europa gewoed, en omstreeks 1889 saam met die Italiaanse leër na Afrika gekom. Van Oos-Afrika het dit suidwaarts versprei en beeste en wildsoorte soos buffels en elande uitgewis.

In 1895 was die runderpes reeds in Rhodesië, die huidige Zimbabwe, en in Maart 1896 in Betsjoeanaland onderweg na Transvaal en die Noord-Kaap. By Palla in Betsjoeanaland het die owerheid sy eerste poging aangewend om die suidwaartse tog van die siekte te stuit. ’n Kordon is opgestel om diere voor te keer. Sowat honderd swart transportryers was noord daarvan vasgevang. Hoewel hul diere nog gesond was, het hulle besef dat hulle alles kan verloor. As die Britse regering bereid was om hulle vir die beeste te vergoed, sou hulle die verlies waarskynlik aanvaar het. Maar die Britse regering was nie geneig om te betaal nie, en die transportryers het hul beeste deur die versperring gejaag en suidwaarts gevlug. Kort daarna was die siekte 25 km van die grens.

’n Jong Switserse veearts, dokter Arnold Theiler van Pretoria, het met president Kruger beraadslaag oor ’n veldtog teen runderpes. ’n Proklamasie het die invoer van vee van Rhodesië en alle vervoer tussen die twee lande verbied, en bepaal dat alle diere tot 5 kilometer van die Limpopo teruggetrek word. Maar Transvaal was te groot om sulke wette toe te pas en in April het runderpes in ’n swart gebied in Marico uitgebreek. Binne ’n paar maande was dit deur Transvaal, in Oktober in die Vrystaat en in Maart 1897 in die Kaapkolonie. Die verliese was enorm. In Griekwaland-Wes is 168 000 uit 176 000 beeste dood en in die Kaapkolonie as geheel 575 864 uit 1 639 435. In die Vrystaat was die verliese tussen 45 000 en 60 000, en in Transvaal is 941 000 beeste dood en moes meer as 43 000 van kant gemaak word; 224 000 beeste kon genees word en 227 000 is nie deur die siekte aangetas nie. Twee-derdes van die Transvaalse veestapel is binne maande verloor.

Die verlies van soveel beeste, wat baie mense se enigste bron van rykdom was, het baie Afrikaners swaar getref. Vroeg in 1897 het dominee JP Jooste geskryf dat groot beesboere van Bloemhof en Wolmaransstad geruïneer is. Mense wat tussen 300 en 1000 beeste gehad het, het net vyf tot 50 oorgehou. Die Volksraadslid vir Christiana het gemeld dat talle burgers en hul gesinne in armoede verkeer. Die jaar 1896 sou in die herinnering van wit en swart voortleef as “die jaar van die runderpes”.

Theiler was ’n Transvaalse burger wat in die Anglo-Boereoorlog aan Boerekant geveg het. Ná die oorlog het hy belangrike navorsingswerk gedoen. Hy was die beroemdste veearts van sy tyd en het Suid-Afrika op die natuurwetenskaplike kaart geplaas. Een van sy seuns, Max, ’n medikus, is die enigste Suid-Afrikaner wat ’n Nobelprys vir een van die natuurwetenskappe verower het.