“Die Rooidag van die Afrikanerdom”

Nuwe temas vir die poësie
January 23, 2015
“Armblankes” maak ook vordering
January 23, 2015

“Die Rooidag van die Afrikanerdom” is die benaming van die kritikus PC Schoonees vir die jare twintig. Een van die skrywers wat hy eervol vermeld, en wie se werk gretig gelees is, was AA Pienaar. Sy klassieke Uit oerwoud en vlakte (1921) onder die skuilnaam Sangiro was een van die gewildste ouer boeke en het naby die 50 drukke beleef waarvan sowat 145 000 eksemplare tot in 1974 gedruk is.

Nog ’n gewilde skrywer was CJ Langenhoven, wie se rubriek “Aan stille waters” Maandae in Die Burger verskyn het. “Langenhoven het die volk leer lees”, het Die Burger ná sy skielike dood op 15 Julie 1932 geskryf. Onder die talle vermeldenswaardige werke neem Sonde met die bure, Herrie op die óú tremspóór en Doppers en Filistyne ’n besondere plek in. In laasgenoemde werk spot hy met konsiliasie en, steeds aktueel, verengelste Afrikaners.

In die jare twintig is belangrike prosa van DF Malherbe en Jochem van Bruggen gepubliseer. Van Malherbe was dit in 1926 Die meulenaar en in 1928 Hans-die-Skipper. In 1924 verskyn die eerste deel van Van Bruggen se Ampie-trilogie. Schoonees skryf dat dit as dokument kan gebruik word “vir ’n studie oor ons maatskaplike toestande”. En daarby prys hy die boek aan as “die eerste volledig lewende Afrikaanse mens in ons letterkunde”. Dis bietjie oordrewe, want wat van Leipoldt se Oom Gert? Nietemin, Ampie het daarin geslaag om die volksgewete wakker te skud oor die verarming van die Afrikaner.

Ampie was eerste op die lys toe Die Volksblad en Die Vaderland in 1935/36 lesers gevra het van watter boeke hulle die meeste hou. Die Burger-lesers het Uit oerwoud en vlakte eerste geplaas, dan Ampie en dan Hans-die-Skipper.

Drukoplae van Nasionale Pers-boeke tot 1936 gee ’n aanduiding van gewildheid: Uit oerwoud en vlakte 50 000; Sonde met die bure 45 000; Ons weg deur die wêreld 35 000; Die lig van verre dae 35 000; Mof en sy mense 30 000 (al vier Langenhoven); Die burgemeester van Slaplaagte (Jochem van Bruggen) 17 000; Die vlakte en ander gedigte 1600; Uit drie wêrelddele 10 000 en Leipoldt se Stories vir die kinders en Langenhoven se Brolloks en Bittergal 15 000 elk. Baie boeke is uitgegee deur Van Schaik, wat in 1914 begin is deur ’n gebore Nederlander, JL van Schaik. Baie gewilde Van Schaik-boeke was onder meer twee jeugreekse, die Maasdorp-reeks vir meisies deur Stella Blakemore en die Keurboslaan-reeks vir seuns ook deur haar, maar onder die skrywersnaam Theunis Krogh.

Teen 1935 het die publiek begin protesteer teen Ampie en romans, kortverhale en sketse van dié aard. Baie mense het gevoel dat sulke boeke, veral as hulle voorgeskryf is op skool, die prestige van die Afrikaner verlaag. By opvoerings van die Ampie-toneelstuk het mense uitgestap omdat hulle gekrenk was in hul nasionale trots. Hulle het gevoel dat Ampie voorgestel is as die tipiese Afrikaner. Immers, ook Schoonees het geskryf dat Ampie “die simboliese verteenwoordiger van ’n volksgroep” is. In De Kerkbode is ’n polemiek gevoer oor Ampie as voorgeskrewe boek. Tydskriflesers het gesê hulle wil liewer lees van “knap kêrels en mooi nooiens”.