Die Rondebosse Meent

Die Rondebosch-fontein
December 13, 2017
St. Andreaskerk, Nuweland
December 13, 2017

Byna reg teenoor die Rustenburgse landgoed, ruim twee km oos van die Liesbeekrivier, is die Rondebosse Meent geleë.

In 1805 gedurende die voorbereidings vir die verdediging van die Kaap teen ’n Britse aanval was die Bataafse leër van genl. Janssens gekampeer op ’n groot terrein wat die huidige Rondebosse Meent ingesluit het. Disenterie het onder die troepe uitgebreek, en genl. Janssens se sewentienjarige seun – ’n rekruut – was een van die slagoffers van die epidemie. Daarna is die leër na hoër geleë terrein by Wynberg verskuif.

Na die oorname van die Kaap is die Rondebosse terrein ’n hele aantal jare, tot in die tyd van lord Charles Somerset, ook as kampeerplek van Britse troepe gebruik. Dit het die naam “Camp Ground Road” aan die straat wat die huidige Meent aan die westekant begrens, gegee.

In 1855 het Goewerneur Cathcart, op versoek van biskop Gray, die eerste Anglikaanse biskop in Suid-Afrika, die gebruik van die Meent as weiveld vir sy koeie aan die rektor van die St. Pauluskerk van Rondebosch toegeken, met die voorbehoud dat die publiek altyd vry toegang tot die gebied moet hê. Terselfdertyd is twee aangrensende stukke grond op die Meent as begraafplase aan die Wesleyaanse en die Mohammedaanse gemeenskap gegee. Dennebome is om elke stuk grond geplant; dit is die oorsprong van die dennebossie in die middel van die Meent soos ons dit vandag ken.

Die Meent is vandag veel kleiner as wat dit oorspronklik was, nl. 38 ha, maar vir huidige begrippe is dit nog ’n pragtige oop stuk grond binne ’n munisipaliteit. Gelukkig dat dit, met sy blomme-weelde in die voorjaar, in sy natuurlike staat vir die nageslag kon beveilig word.

(Geproklameer 1961)

 

S.P. Boshoff • Die Rondebosse Meent • William Fehr-versameling Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 46.

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 45.