Die rol wat die perd in die geskiedenis gespeel het

Aprilmaand is Van Riebeeck- en Stigtersmaand
April 24, 2017
Die republikeinse strewe in die geskiedenis van Suid-Afrika
April 24, 2017

(Geskryf deur Dorette de Beer, Laerskool Die Ruiter, soos verskyn in Historia Junior, September 1972)

In die geskiedenis het ons al van baie dapper manne gehoor So ook het ons van dapper en getroue perde gehoor. Soos die hond word die perd beskou as een van die beste vriende van die mens. In die tyd van oorlog, vrede en nood het die perd homself oor en oor bewys. Uit ons geskiedenis kry ons wonderlike voorbeelde om die feit te staaf. Dink maar aan Dick King.

In 1842 sit die Engelse in ’n benarde posisie in Natal. Al hulle voorrade was gedaan en die boere het hulle vasgekeer. Dick King met die gesteelde perd van Pretorius was nou die Engelse se enigste hoop op redding. In die nag begin Dick King en sy agterryer die lang afstand  van 600 myl na Grahamstad. Ontberings vir mens en dier was volop op die pad. Getrou het die perd sy baas voortgedra met die belangrike boodskap. Gelukkig kon King by elke sendingstasie ’n vars perd kry. Binne die ongelooflike tyd van tien dae was King in Grahamsatd. Die Engelse het hulle makkers te hulp gesnel in Natal. So word die geskiedenis van Natal verander deur ’n ruiter en sy perd.

Generaal  De Wet met sy onvergelyklike perd is vir ons as Afrikaners onafskeidbaar. As jy aan die een dink, dink jy aan die ander, ’n trots en vasberade generaal De Wet op sy pragtige spierwit perd Fleur. Generaal De Wet was ons Afrikaanse volkie se grootste krygsman en taktikus. Male sonder tal was hy en sy ruiters vasgekeer deur die Engelse. “Geen sterfling kan hier deurbreek nie,” het die Engelse meermale gedink. En dan onverwags op die onmoontlikste plekke en tye breek hy en sy perdekommando deur. Vooraan was generaal De Wet vooroor gebuk op sy onfeilbare perd, soos bv. toe die Engelse ’n kring van sestigduisend man om De Wet en sy manskappe getrek het. Maar wat wou! By Kalkkrans breek hy deur die kordon.

Dit is niks minder as reg dat Fleur saam met sy baas in Bloemfontein verewig is in een van ons mooiste monumente nie. Hier staan elke Afrikaner met trots!