Die rol wat die Afrikaanse vrou en moeder in Suid-Afrikaanse geskiedenis gespeel het in die vorming en bestendiging van ’n eie kultuur

Dit was ons erns
April 15, 2017
Boodskappe en briewe
April 15, 2017

(Geskryf deur Annalie Herholdt (St. 9), Hoërskool Drie Riviere, Vereeniging, soos verskyn in Historia Junior)

As ons vandag terugkyk op ons Geskiedenis, sien ons dat die rol wat die Afrikaanse vrou en moeder gespeel het, soos ’n goue draad daardeur geweef is.

Reeds heel in die begin van ons geskiedenis – die dae van die Engelse besture aan die Kaap, het die vrou saam met haar man die verdrukking deurgemaak en gely. Sy moes haar saam met haar man en huisgenote losskeur van alles wat vir haar lief en dierbaar was om in ’n tingerige kakebeenwaentjie die woeste, onbekende en onsekere Noorde in te trek.

Die vrou en moeder van daardie dae was nie ’n modepoppie of verfynde dametjie nie. Nee, inteendeel, sy was ’n geharde Boervrou wat in alles die onmisbare stukrag van haar man was. Sy was in werklikheid die grootste faktor in ons nasiewording en ons eie Suid-Afrikaanse kultuur.

Die name van Martha Bouwer, vrou van Louis Trichardt, Magdalena Johanna de Wet, vrou van Piet Retief en nog talle meer is diep in ons geskiedenis ingegraveer. Die vrou en moeder van ons nasie moes baie ly. Ons dink aan die moeder van kleine Retief wat lank na die wit haasstertjie, wat vrolik op haar seun se hoed gewapper het, terwyl hy saam met sy vader na Dingaan se stat vertrek het, gekyk het. Met weemoed, dog trots het sy haar man en steun nagestaar, min wetende dat sy hulle nooit weer sou sien nie. Sulke tragedies het meer as eenkeer afgespeel in  ons vrouens en moeders se lewens en dit het daartoe bygedra dat ons vandag nog bestand is teen harde aanslae die lewe.

Toe die Engelse regering die nuutgestigte Boererepubliek, Natalia, geannekseer het, wou die Trekkermans hulle onderwerp en daar bly. Dog ’n vroue-deputasie  van vierhonderd het geweier om daarin te berus en het advokaat Henry Cloete beslis meegedeel dat hulle liewers kaalvoet oor die Drakensberge sou trek as om in die anneksasie te berus.

Aan moedersknie is die eerste gebedjies geleer. Die Bybel het moeder gebruik as leesboek en dit het so diep wortel geskiet in ons volkskultuur dat ons nasie vandag as een van die godsdienstigste nasies in die wêreld beskou word. Die oorgrote meerderheid van ons nasie glo aan die alwyse leiding van die Opperwese.

Die vrou en moeder moes met die hand die stekies een vir een op elke kledingstukkie werk. Liefdevol is fyn stekies op die laslapkomberse van baba gemaak. Die adel van haar siel is in elke stukkie naaldwerk ingeweef. Hulle deugsaamheid word bewys en bewaar in die Rooi Rokkie in ons Voortrekkermuseum. Hierdie kuns is oorgedra van geslag tot geslag en vandag kan ons met trots kompeteer met ander nasies wat kunsvlyt betref.

Hulle was altyd  bereid om te dien, ongeag hulle eie leed of ontberings. Dit word te duidelik gesien in die betekenisvolle woorde van Christian Johanna de Wit, vrou van Andries Pretorius: “Jou volk het jou dienste nodig; gaan, en doen jou plig. Die lewe kan jy my nie gee nie.”

Die nederige Gesina Kruger was, hoewel sy nooit in die kalklig verskyn het tydens al haar man se presidentsverkiesings nie, ons geliefde President se stille krag en inspirasie, ook toe hy as banneling sy land moes verlaat.

Ook gedurende die Tweede Vryheidsoorlog was die vrou die ware staatmaker van haar man en kinders. Sy het dikwels alleen op die plaas agtergebly en die boerdery behartig, terwyl die mans op kommando was. Dit was geen skande vir hulle om te werk nie – soms manswerk te verrig, om sodoende te probeer behou wat hulle swaar bymekaar gemaak het.

Selfs in die konsentrasiekampe waar 26 000 vrouens en kinders oorlede is, het hulle altyd moed gehou en met hoof omhoog ver na die Noorde gestaar, asof die redding vandaar sou kom.

Ons presidentsvrouens was by uitstek minsame vrouens wat ook in daardie sy van die lewe vir die nageslag ’n mooi voorbeeld van nederigheid, mensliewendheid en godsdienstigheid gestel het.

Mevrou (President) MT Steyn, die geestelike Moeder van ons volk, is só lank gespaar dat van ons geslag haar geken het en besiel is deur haar voorbeeld.

Gasvryheid wat so ’n mooi karaktertrek van ons volk is, het ons volk ook van hulle geërf. Nooit was dit vir hulle te moeilik om hulle vriende, familie en selfs ’n bondeldraer te herberg en van die nodige voedsel te voorsien nie.

Die Afrikaanse vrou en moeder het in geloof vir haar volk gelewe, vir hulle gely, vir hulle haar liefde gegee, ook haarself en haar kinders.

Uit hierdie gelouterde moeders spruit ons huidige en toekomstige volk. Die moeder is die kern van die huisgesin. Dit is sy wat die kinders vertroetel, opvoed en daagliks leiding gee. Onwillekeurig word haar eienskappe op die long wesentjies oorgedra.

Die huisgesin weer is die kern van ons nasie en hulle dra elkeen op sy beurt ons eie kultuur oor op ons nasie.

Met trots vereer ons hulle deur eervolle plekke in die Voortrekker- en Vrouemonumente. Ook in ons letterkunde besiel hulle ons skrywers en digters. Mag hulle opofferings altyd die wekroep wees op die vrou van Suid-Afrika om ons kultuur uit te dra, as iets moois, eg en suiwer!

Laat ons haar weer eens vereer met die woorde van Jan F Celliers: “Ek sien haar win, want haar naam is Vrou en Moeder!”