Die rol wat die Afrikaanse vrou en moeder in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gespeel het in die vorming en bestendiging van ’n eie Suid-Afrikaanse kultuur

Die republikeinse strewe in die geskiedenis van Suid-Afrika
April 24, 2017
Siektes en medisynes in die ou dae
April 24, 2017

(Geskryf deur Wena Oelofse, soos verskyn in Historia Junior, November 1967)

Dit moet aand wees, koel en rustig, as ’n mens wil vra na die ou dae. Daarom is ek vanaand as Afrikanerkind, trots om ’n kind van my geliefde Suid-Afrika te wees.

Langs die stil vrouestandbeeld kniel ek, en voor die marmerbeeld lê ek ’n krans van katjiepierings as huldeblyk aan haar – vrou en moeder van Suid-Afrika; dit is haar reg om so te wees, ná die sagte dood wat aan haar slaaptyd gegee het – in stille vrede, rus te win vir haar liggaam, want slegs die geur van blomme kan nou haar nagedagtenis vereer.

Afrikanermoeder, dit is asof ek duidelik u offervaardige stem kan hoor:

“Hier is my land,

Onbreekbaar bind die band,

My aan my Vaderland.

En as die Engel kom,

Vind hy my koud en stom,

Nog aan sy boesem rus.”

 

Alles wat deur marteling of geweld van jou ontneem is, is deur iets sterker, skoner en groter herwin, want, jou verdriet lê in jou krag en in lyding, jou grootste mag!

Met smart het jy gebaar, en, asof dit nie genoeg was nie, moes jy saans, soos ’n Engel van vertroosting, jou septer oor jou kindjie swaai. Die eens fraaie bondeltjie was siek aan kinkhoes en tering; die hoes het uit sy borsie geskeur, terwyl jy magteloos toegekyk het, met net jou beskermende moederliefde en vertroosting.

Jou donker oë het gesoek na hoop, buite in die duistere nag, waar die sterre vertroosting moes bring – maar, dit is deur ’n dik gordyn van wolke versluier, waaronder die lig van die weerlig skuiling gesoek het. Ten spyte van die vertroeteling van jou liefde, het die doodsengel weer eens die konsentrasiekamp besoek, en jou enigste sonstraaltjie wreed van jou weggeskeur!

Uit dié moedersmart is iets gebore, … fier en trots! Nooit sou jy in die dieptes van vertwyfeling en wanhoop wegsink nie – nee, jou kop sou jy omhoog hou en voortgaan om vir jou land en volk se vryheid te stry – al was dit ‘n veel dieper en moeiliker stryd.

Uit jou hele wese het liefde, gelykmoedigheid en berusting gestraal. Jy was fyn en skugter, maar jou standvastigheid en beslistheid het jou nooit laat wegskram van al die teenslae en gevare wat jou land en volk bedreig het nie.

Jy was die beeltenis van ’n vrou wat jou hele bestaan tot diens gestel het aan die man wat jy liefgehad het, en wat in die grootste gevaar en die ergste ontbering nooit gekla, of jou lot betreur het nie; gedagte aan eie gemak of verlange het geen rol in jou lewe gespeel nie, en as gevolg van hierdie onbaatsugtigheid, versterk deur jou latere bedrywigheid ten behoewe van jou volk, verdien jy die naam – Volksmoeder!

 

“Wat haar taak bedui sal toekoms leer

Skoon is haar roeping. Suid-Afrika eer

En dank u, moeder en vrou.”

 

Dit lyk vandag maklik om te vergeet, om die waters van die tyd, die maande in hul kom en gaan, soos branders wat lomerig die punte van die rotse aanraak, uit te wis, maar haar stem, haar oë haar laggie en die taal wat sy gespreek het, dit alles is ons ryke erfenis.

Deur die jare het die huiwerende jong taal gegroei tot ’n lewensvorm, dit het ’n jong volk se liefde geword, sy trots! Daarin wou hulle skryf en dig, en dit alles? Dit alles het hulle van haar geërf. Oor die druisende waters van aanvalle op ons moedertaal, het haar oë met die oneindige droefenis daarin, voor ons verrys, en dan het ons besef dat daar slegs een taal vir ons is en ooit sal wees. Ons het ’n taal geërf waarin ons kan bid, kan spot, kan liefhê!

Maar, dit is nie al nie; sy het ons geleer dat die lewe sonder musiek soos die hol klank van ’n tamboeryn sal wees. Vanaf die eerste sluimerlied tot bv. Beethoven het musiek deel geword van die Afrikaner.

Een ding is seker, sy het haar beskawing saamgeneem in die wildernis en op die trekpad. Daar was byna geen enkele omstandigheid, geen enkele lewensfeer waarin die vrou nie haar invloed laat geld het nie. Eerwaarde Erasmus Smit se vrou het gesê hulle trek liewer terug oor die Drakensberge as om hulle aan die gesag van die Engelse te onderwerp.

Die lewe op die trekpad was moeilik, maar daardie lewe het haar nie verstomp teenoor haar heiligste roeping, naamlik om moeder van haar volk, draer van die lewe te wees nie. Nee, daar in die kakebeenwaentjie kon die tere klanke van die liefdesuitinge van ’n moeder tot haar suigeling gehoor word, ver van die beskawing onder die bloue hemel. Daar kon gehoor word die sagklinkende sluimerliedjie.

Wat was haar loon? Die loon van die Boerevrou is nie net ’n standbeeld of ’n verbrokkelde grafsteen nie, maar ’n selfbewuste, vryheidsliewende Afrikanernasie met die bloed van ’n beskaafde blankedom in sy are en die oortuiging van ’n vaste Godsdiens in sy siel.

Sy is nie ’n heilige engel uit die hemel nie, sy is ’n doodgewone mens met dieselfde foute en tekortkomings soos u en ek, maar haar dade getuig daarvan dat sy nie ’n soetsappige vermaaklikheid vir die man was nie, maar dat sy ’n onmisbare krag, ja, een van die grootste faktore in die nasiewording van die Afrikanervolk was.