Die rol wat die Afrikaanse vrou en moeder in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gespeel het in die vorming en bestendiging van ’n eie Suid-Afrikaanse kultuur

Vervoer – Pos in die ou dae
April 24, 2017
Wette en strawwe uit die ou dae
April 24, 2017

(Geskryf deur Katrin Weisswange, Afrikaanse Hoër Meisieskool, Pretoria, soos verskyn in Historia Junior, November 1965)

Suidwaarts van die hoofstad van die ou Boererepubliek, in die wye uitgestrektheid en kalmte van die Vrystaatse vlaktes, rys die slanke gedenknaald van die Vrouemonument op. Soos ’n vinger wat hemelwaarts rys, toring hierdie naald bo die omliggende rantjies uit. Dit roep na die yl bloutes en stuur ’n smeekgebed op na God, die Heer en Beskermer van die Boerevolk. Dit roep ons ook om die geskiedenis van die lank miskende, maar tewens eervolle Boerevolk nie te vergeet nie, maar bo alles, om die smart en ellende van vroue en kinders in die konsentrasiekampe te onthou. Die fiere monument getuig van die diep smart van ’n eens lamgeslane volk. Krampagtig klem die vrouefiguur haar voorskoot vas, asof sy trag om die onheil wat so dreigend oor haar volk hang, af te weer. Sy kyk met smart in haar oë weg van die dood om haar, oor die konsentrasiemure, sy kyk uit oor die vlaktes van haar vaderland. Daar is smart en byna wanhoop in haar oë, maar sy kyk die toekoms in, al lyk dit duister en onseker. Hierdie vrouefigure is die verpersoonliking van die vrou en moeder in ons land se geskiedenis, die behoudende element in ons verlede, die hede en die toekoms; sy het veel gedoen vir die vorming van ’n eie Suid-Afrikaanse kultuur, en sal in die toekoms daardie kultuur bestendig.

Duister en onseker was die toekoms vir die moeders van ons voorgeslag, toe hulle aanvanklik goed en bloed, selfs hul geliefde vaderland, Nederland of Frankryk, prysgegee het, ter wille van hul vryheid en hul godsdiens. Reinheid, sindelikheid, vroomheid en vurige vaderlandsliefde was van hul vroegste jeug af by hulle ingeboesem. Dit was die gehalte en karakter van die vrou wat Holland en Frankryk verlaat het om die toekomstige moeders van ’n nuwe volk onder die Suiderkruis te word. Hierdie moeders het by hul kinders ’n liefde gekweek vir die land van die Goeie Hoop, die land wat hulle aangeneem het as hul vaderland.

Dit was gedurende die voorwaartse beweging van die blankes na die oostelike deel van die Kaapkolonie, dat die Afrikaanse vrou so kragdadig meegewerk het om die geskiedenis van die Boerebevolking so dramaties en roemryk te maak. Sonder sy godsdiens en sy vrou kon die boer die taak nie volvoer nie. Sy moes haar man vergesel om die werk te doen wat alleen ’n vrou kan doen. Altyddeur het sy ’n veredelende invloed op die vaders en seuns uitgeoefen. Mismoedigheid het sy nie geken nie. Trots koue of hitte, reën of haelbuie en baie ander gevare,  het die vrou haar man deur dik en dun, in alles getrou bygestaan. Dit is waarskynlik dié geheim waarom die ou baanbrekers, ver verwyder van die beskawing, steeds trou gebly het en die tradisies van sedelikheid en vaste karakter.

Niemand kan ’n regte denkbeeld vorm van die verbittering en haat wat die harte van die vroue gevul het teen die outoriteite wat die Hottentot-troepe gestuur het om blanke burgers in hegtenis te neem nie. Dit was ’n skending van hul eergevoel en hulle sou Slagtersnek nooit vergewe en vergeet nie. Martha Faber, die eggenote van Jan Bezuidenhout, is ongetwyfeld een van die treffendste figure in die lang heldinnery van die Afrikaanse moeders en dogters, wat so ’n kragdadige invloed gedurende die wordingstyd van ons geskiedenis uitgeoefen het, juis toe dit gegaan het om die bewaring van die blankedom.

Die vrou neem ’n eervolle aandoenlike plek in die geskiedenis van die Groot Trek in. Die boerevroue was bewus van gewisse gevare wat op hulle op die lang reis na die binneland wag. Dit eis leeuemoed om so ’n uittog te onderneem, as ’n mens dink aan die onseker en onbekende toekoms. Die Voortrekkervroue was ten volle bewus van die feit dat die plek van hul bestemming heeltemal onbepaald was. Daar was nie ’n Kanaän aan die einde van die reis nie. Alles was duister, vaag, so onseker. Dit was genoeg om die dapperste onder die dappere te laat swig en terugdeins. En tog, die vroue was gereed, ja gretig en ywerig om hul lot met hul mans in te werp. Tog het hulle hul plig vervul as vroue en moeders – het hulle die verfyning en kultuur voortgedra.

Uit die geskiedenis van Vegkop blyk dit duidelik dat die Afrikanerboer deur sy God en sy vrou gered is. Gedurende die geveg het die vroue naas hul mans gestaan en die gewere vir hulle gelaai. Sommige van die vroue en dogters was tegelykertyd besig om koeëls en lopers te vorm. Maar al die lyding en swaarkry was vir die Afrikaanse vrou nie te veel nie, as sy maar net hul ideaal kon bereik – die vryheid waarvoor sy alles opgeoffer het, die behoud van die blankedom teen die swart oorwig.

Met moed en geduld het die vroue die oortog oor die Drakensberge aangepak, min wetend dat bykans die helfte van hul geledere onder die assegaai van die bloeddorstige tiran, Dingaan, ’n afgryslike dood sou vind. Teleurstelling en wanhoop het gedreig om te seëvier, maar die morele invloed van die vroue was oorweldigend. Die anneksasie van die Boererepubliek van Natal was een van die bitterste kelke wat die Afrikaanse burgers moes ledig, maar weer eens het die vroue opgestaan en verklaar dat hulle liewer kaalvoet oor die Drakensberge na vryheid sou loop, as om hulle aan die Britse gesag te onderwerp. Ter wille van hul vryheid het die Boerevrou haar man en seuns een na die ander uitgestuur en aangespoor om te volhard tot die einde toe.

Opofferings soos die Boerevroue van Suid-Afrika in die konsentrasiekampe deurgemaak het, bly ongeëwenaard in die moderne geskiedenis van die beskaafde wêreld. Dit was die vroue wat die swaarste lot moes ondergaan; dit was die vroue wat die spit moes afbyt in die driejarige worstelstryd teen die oorweldigende, onverbiddelike vyand. Die beledigings wat die onregverdige en onbarmhartige vyand die vroue van Suid-Afrika aangedoen het in ’n tyd, toe hulle as hulpelose gevangenes in die diepste vernedering en ellende in die kampe gekwyn en uitgesterwe het, sal nooit deur die vroue van ons land vergeet word nie. En na die oorlog, toe die land en volk ’n puin was, toe die Boerevolk stukkend was van vernedering, toe was dit die vrou wat weer eens in stilte voortgegaan het met haar werk: aan jong kinders ’n nasietrots gegee het, die moedertaal oorgedra het, ten spyte van verengelsing.

As daar iets in die geskiedenis van ons volk is in verband waarmee die Afrikaanse vroue vir hulle ’n roemryke plek verwerf het, dan is dit ongetwyfeld die beroemde optog van vroue in Pretoria. Hierdie optog was nie ’n monsterdemonstrasie van samesweersters nie, maar inteendeel, ’n openbare vergadering van die edelste vroue van Suid-Afrika, wat tot die oortuiging gekom het dat dit hul plig was om die BoereIeiers van die rebellie uit die gevangenis los te kry. Dit was grootliks aan die onvermoeide pogings van die vroue te danke dat die politieke gevangenes eindelik almal hul vryheid teruggekry het.

Niemand het seker ooit ’n duideliker en treffender opsomming van die karakter en werk van die Afrikaanse vroue gegee as president Steyn, by die onthulling van die Vrouemonument nie: “Gelukkig een volk dat zulke vrouwen heeft, en een volk dat uit sulke moeders gesproten is, heeft voor zijn toekoms niets te vrezen”.

Die dapperheid, onverskrokkenheid, grootmoedigheid en vurige vaderlandsliefde is diep gegraveer in die geskiedenis van die vroue van Suid-Afrika en sal deur die jong Afrikaanse dogters en hul nasate in ere gehou word so lank as die Boerevolk bestaan. Ons eer die groot vroue uit ons verlede vir hul roemryke dade. Ons eer egter ook die stilles, die getroues, die toegewydes, die onbekende vrou van Suid-Afrika vir haar monumentale deel aan die vorming van ons eie kultuur: ons politieke struktuur soos hy is, omdat vroue op krisismomente in ons geskiedenis nie geswig het nie. Ons godsdiens is ’n belangrike deel van ons lewens- en wêreldbeskouing en weer eens is dit die moeder wat dit oordra aan die jeug. Sy leer die taal aan die jeug, die kultuurdraers van die toekoms. Van ons mooiste kunsskeppinge is gewy aan die vrou en moeder.

En ons! Op ons rus die hoë roeping om die eie kultuur wat soos brandhout uit die vuur gered is, wat ferm en liefderik met die vrouehande van die verlede gevorm is, te bestendig, voort te dra en uit te bou.