Die republikeinse strewe in die geskiedenis van Suid-Afrika

Die rol wat die perd in die geskiedenis gespeel het
April 24, 2017
Die rol wat die Afrikaanse vrou en moeder in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gespeel het in die vorming en bestendiging van ’n eie Suid-Afrikaanse kultuur
April 24, 2017

(Oorgeneem uit Pretoriana nr. 50 1966: Geskrywe deur prof. dr. FJ du T Spies en dr. MC van Zyl, soos verskyn in Historia Junior, Mei-Augustus 1971)

Herkoms van die strewe

Noudat die Republiek van Suid-Afrika tien jaar oud geword het, is dit seker nie onvanpas nie om weer eens na te gaan wat alles bygedra het tot die verwesenliking van die republikeinse ideaal op 31 Mei 1961. Wat hier volg is slegs ’n historiese oorsig.

Algemeen word aanvaar dat die republikeinse gedagte in Suid-Afrika van tweërlei oorsprong is. In die eerste plek was daar die Nederlandse agtergrond. Gedurende die hele Kompanjiestydperk aan die Kaap was Nederland ’n republiek. Die voorstelling wat die koloniste van hulle moederland in hulle omgedra het, was dus die van ’n republiek, en daarby het die koloniste namate hulle meer verteenwoordiging op regeringsliggame gekry het, kennis gemaak met sommige van die demokratiese beginsels wat eie aan die Nederlandse Republiek was.

In die tweede plek het die voorbeeld van die Republiek van die V.S.A., gestig in 1787, ongetwyfeld ook die gedagtegang van die Kaapse koloniste beïnvloed. Voeg hierby nog die idees van volksoewereiniteit, vryheid en gelykheid, wat vanuit die rewolusionêre Frankryk oor die hele wêreld uitgedra is en ook in die Kaap weerklank gevind het. Soos in Nederland was daar teen die einde van die agtiende eeu ook ’n Patriotte-beweging aan die Kaap.

Die Kaap het in die laaste twee dekades van die agtiende eeu nogal heelwat beroeringe beleef. Petisies en vertoë, en selfs opstande, was voortdurend in die lug. Tog moet goed begryp word dat dit geen verset teen die Nederlandse Republiek ingehou het nie, maar veeleer gerig was teen die korrupte Verenigde Oos-Indiese Kompanjie, wat feitlik op sy laaste bene gestaan het. So was die sogenaamde “Republieke” van Graaff-Reinet en Swellendam (1795) nooit republieke nie en ook nooit as republieke bedoel nie. Onafhanklikheid, los van Nederland, is nooit nagestreef nie. Wanneer albei die distrikte dit by verskillende geleenthede as hulle strewe uitspreek om “onder een Vrije Republiek te sorteeren”, het hulle daarmee bedoel die vrye Republiek van Nederland. Tog getuig dit van ’n mate van selfstandigheid, wat veral tot uiting kom toe die twee distrikte later in 1795 weier om aan die Engelse invaller te kapituleer.

Daar is ’n direkte verband aan te toon tussen die Patriotte-beweging aan die Kaap en die Voortrekkerrepublieke wat in die dertiger- en veertigerjare van die negentiende eeu vorm aanneem. Die Groot Trek was ’n vryheidsbeweging en die vrye state wat tot stand gekom het, het vanselfsprekend ’n republikeinse vorm aangeneem. Daar was geen ander alternatief nie. In der waarheid het die onafhanklikheidsgedagte en die republikeinse ideaal eers met die Groot Trek na vore getree toe duisende landverhuisers hulle ten doel gestel het om die Britse bestuur van die Kaapkolonie af te skud en in die binneland onafhanklikheid te vind. Die trekgroepe was egter nie eensgesind oor die trekrigting nie. Sommige het die Drakensberg oorgesteek; ander het wes daarvan gehou, en so in verskillende gebiede tot rus gekom. Gevolglik is dit begryplik dat daar verskeie staatjies ontstaan het – almal met ’n republikeinse inslag – wat eers later tot groter eenhede saamgebind is.

 

Die republieke in Natal

Die Voortrekkers wat die Drakensberg oorgesteek het, het na baie ontberings en hewige botsings met die Zoeloes (Retiefmoord, Bloukrans, Italeni, Bloedrivier) die Republiek Natalia in 1839 gestig, met as grense die Swart Umfolozi, die Drakensberg en die Umzimvubu. ’n Verkose Volksraad van vier-en-twintig lede met ’n Voorsitter, ook “President” genoem, was die hoogste gesag, maar die uitvoerende funksie daarvan was hoofsaaklik in die hande van Andries Pretorius, wat as Kommandant-generaal en militêre hoof ’n permanente posisie beklee het. Hy het eintlik die funksie van Staatshoof vervul.

Hierdie eerste Voortrekkerrepubliek het nie vir lank bestaan nie. Die Britse owerheid aan die Kaap was nie daarmee gediend dat so baie van sy onderdane met die Groot Trek die Kolonie verlaat het nie. Pogings om die Groot Trek te keer of die landverhuisers te laat terugkeer, het egter misluk. So is die hawe van Port Natal van Desember 1838 af vir ’n jaar lank met ’n troepemag beset om te verhoed dat die Voortrekkers voorrade van skepe kry. Vervolgens is Port Natal in Mei 1842 weer eens deur ’n Britse mag onder kaptein Smith beset.

Andries Pretorius het die Britse besetting met ’n kommando teengegaan en die troepe van Smith na ’n skermutseling by Congella, 23 Mei 1842, beleer. Dick King ontsnap egter om hulp te gaan soek, waarna twee Britse skepe opdaag en Smith ontset. Verdere verset was nutteloos en op 15 Julie 1842 onderwerp die Volksraad hom aan Britse gesag. Talle Voortrekkers het Natal hierna verlaat. Op 12 Mei 1843 het Natal ’n Britse kolonie geword en in Desember 1845 het die eerste Luitenant-goewerneur, Martin West, die nuwe bewind ingelui. Tot en met West se koms het die Volksraad nog in samewerking met die Britse bevelvoerder gefunksioneer, dog daarmee het alle Voortrekkerinstellings verdwyn. Teen die einde van 1847 het die meeste Voortrekkers onder leiding van Andries Pretorius Natal verlaat.

Onder hulle was daar ’n groepie afkomstig van die Klipriviergebied, geleë tussen die Buffels- en Tugelarivier, wat vir ’n kort tydjie ’n onafhanklike staatjie was. Dit het so gekom: Hoewel die Klipriviergebied volgens ’n traktaat wat Henry Cloete na die anneksasie van Natal met Zoeloe-opperhoof Panda gesluit het, deel van Natal was, het Panda dit blykbaar nie erken nie en die Boere van die gebied gemolesteer. Toe die Natalse regering hulle geen hulp wou verleen nie, het die Boere direk met Panda onderhandel en die gebied vir 1,000 riksdalers van hom gekoop. So word dan in Mei 1847 die onafhanklike Kliprivierstaatjie gestig met AT Spies as Leier en Kommandant. Luitenant-goewerneur Martin West was nie hiermee gediend nie; hy laat Panda ’n verklaring onderteken dat die Klipriviergebied aan Natal behoort en eis in Oktober 1847 ’n eed van trou aan die Britse kroon van die inwoners daarvan. Die meeste van die Kliprivierboere het die gebied daarop verlaat en so is die staatjie gesmoor voordat dit op dreef gekom het.

 

Republikeinse staatsvorming wes van die Drakensberg

In die Wes-Drakensbergse gebied het die eerste pogings om ’n staatsorganisasie te stig, eers deur Andries Hendrik Potgieter en Gerrit Maritz in 1836 en toe deur Piet Retief en Maritz in 1837, weer vervaag namate die Trekkers verder en uitmekaar getrek het. In die Winburg-gebied het egter Trekkers agtergebly en hulle aanvanklik as deel van die Mooirivier-nedersetting beskou, waar Potgieter in 1838 met Potchefstroom as sentrum ’n, onafhanklike staat gestig het. Later is Potchefstroom-Winburg met ’n Adjunkraad met die Republiek Natalia verenig en het daar in der waarheid net een Voortrekkerrepubliek bestaan. ’n Poging van Voortrekkerleier Jan Mocke om die gebied ten suide van Winburg en benoorde die Oranje in die geheel opgeneem te kry, het nie geslaag nie weens die houding van die lojale Trekboere en die inmenging van die Kaapse Goewerneurs.

Met die Britse verowering van Natal het Potgieter en sy Raad alle bande met Natal verbreek. Ook hy probeer in 1844 die suidgrens van Potchefstroom-Winburg na die Oranjerivier uit te skuif, maar die inmenging van die Kaapse bewind deur sluiting van verdrae met die Griekwas en Basoeto’s, en die vestiging van ’n Britse Resident op die pasgestigte Bloemfontein in 1846, het hom laat besluit om liewer weg te trek.

In 1845 verhuis Potgieter met ’n klompie volgelinge na Oos-Transvaal, waar Ohrigstad aangelê  word. Die verhuising het egter nie beteken dat Potgieter die Potchefstroom-Winburg-gedeelte van die Voortrekkerstaat prysgegee het nie. Dit was slegs ’n verskuiwing van die hoofsetel na Ohrigstad. Hier het Potgieter in botsing gekom met die groep wat Natal na die anneksasie verlaat het en onder leiding van Jacobus Burger geredeneer het dat die Natalse Volksraad nooit ontbind het nie en net so in Ohrigstad voortgesit kon word. Spanning en rusie het gevolg; vir ’n tyd was daar selfs twee regerings te Ohrigstad. Eindelik het Potgieter die stryd gewonne gegee en sy volgelinge na Zoutpansberg verhuis. Hier het hy weer ’n republikeinse gemeenskap onder eie bestuur gestig. Die Wes-Drakensbergse Voortrekkerstaat het geskeur.

’n Verdere terugslag het gevolg toe goewerneur sir Harry Smith in Februarie 1848 die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier onder die naam Oranjerivier-Soewereiniteit geannekseer en daarmee Winburg afgesny het. Gewapende verset onder Andries Pretorius, wat hom intussen aan die Magaliesberg gaan vestig het, het op 29 Augustus 1848 by Boomplaats misluk. Slegs die Oorvaalse gebied was vir die Voortrekkers oor en hier was daar drie duidelike geografies-politieke groepe: Wes-Transvaal (Potchefstroom) onder Andries Pretorius, Noord-Transvaal(Zoutpansberg) onder Potgieter, en Oos-Transvaal (Lydenburg) – Ohrigstad is weens die koors ontruim – onder ’n eie Volksraad.

Die Transvaalse Trekkergemeenskap het egter die noodsaaklikheid ingesien om hulle geledere te sluit en ’n eenheidstaat te bewerkstellig. So het in 1849 wel ’n vereniging tussen Potchefstroom en Lydenburg tot stand gekom, maar Zoutpansberg was afsydig. Pretorius en Potgieter kon mekaar nie vind nie. Pretorius wou met die Britse gesag oor onafhanklikheid onderhandel, terwyl Potgieter geen heil in so ’n beleid gesien het nie.

Die Britse gesag in die Oranjerivier-Soewereiniteit was aan die wankel onder talryke moeilikhede, waaronder die republikeinsgesindheid van sy inwoners nie die minste was nie. Die Basoeto’s het die Warden-bewind bedreig; in die Kaapkolonie het die Agste Grensoorlog gewoed; in Natal was daar gerugte dat die Zoeloes Pretorius se hulp ingeroep het om die Engelse uit Natal te verdryf. Daarby het die Britse regering op hierdie stadium ’n anti-koloniale beleid voorgestaan onder die oortuiging dat verdere koloniale uitbreiding slegs meer koste en geen werklike voordeel meebring nie.

Van hierdie omstandighede het Andries Pretorius handig gebruik gemaak deur hom bereid te verklaar om te onderhandel. Die Britse regering het die geleentheid aangegryp en op 17 Januarie 1852 sluit Andries Pretorius, met volmag van die Potchefstroomse Krygsraad, en die twee Britse Kommissarisse, Hogge en Owen, die Sandrivierkonvensie, wat die onafhanklikheid van die Transvaalse Voortrekkers erken. Twee jaar later gee die Britse regering ook die Oranjerivier-Soewereiniteit prys en word die onafhanklikheid van die gebied tussen die Oranje en die Vaal luidens die Bloemfonteinkonvensie, 23 Februarie 1854, erken. Uit die twee Konvensies is die twee Boererepublieke gebore.

 

Republikeinse konsolidasie in die Transvaal

Die Sandrivierkonvensie het in die Transvaal sekerheid gebring insake die onafhanklikheid, maar het nie die onderlinge verdeeldheid beëindig nie. MW Pretorius, wat na die dood van sy vader, Andries, die leierskap in Wes-Transvaal op hom geneem het, het kragdadig vir vereniging gewerk. Hy slaag wel daarin om die Zuid-Afrikaansche Republiek te stig en ’n grondwet aanvaar te kry, dog die verskille het so groot geword dat Lydenburg op 17 Desember 1856 wegbreek om “De Republiek Lijdenburg in Zuid-Afrika” te stig. Ook die Zoutpansbergers onder Stephanus Schoeman, wat na Piet Potgieter se oorlye die leierskap oorgeneem het, kom in verset en beskou hulle as ’n onafhanklike gemeenskap. In werklikheid het die Zuid-Afrikaansche Republiek dus uit drie aparte republikeinse gemeenskappe bestaan.

Nog ’n vierde het bygekom, naamlik Utrecht. In 1847 het sommige van die Kliprivierboere hulle ten noorde van die Buffelsrivier en dus buite Natal gaan vestig. Dit was die begin van die distrik Utrecht. In die vroeë jare vyftig het hulle aansluiting by die Transvalers gesoek, maar Andries Pretorius, en later ook MW Pretorius, het met Panda onderhandel oor die verkryging van grond in die rigting van St. Luciabaai en wou daarom nie in Utrecht inmeng nie. Die Utrechters wou nie in onsekerheid voortleef nie en het in 1854 die gebied van Panda gekoop vir honderd beeste, waarna ’n bestuur tot stand kom bestaande uit komdt. JC Klopper, landdros AT Spies en vier Heemrade. Dit het egter nie verhoed dat hulle steeds na vereniging met die Transvaal gestreef het nie.

Mettertyd het die saamhorigheidsgevoel by die groepe sterker geword en is vereniging bewerkstellig. Eers het Wes-Transvaal en Zoutpansberg mekaar gevind; daarna het Lydenburg en Utrecht verenig en uiteindelik het die Zuid-Afrikaansche Republiek in 1860 ’n verenigde staat onder MW Pretorius as Staatspresident geword. ’n Paar jaar later, nadat Pretorius ook as President van die Vrystaat gekies is, was daar weer rusies, selfs ’n burgeroorlog, op streeksgrondslag, dog die storms is geweer en die Zuid-Afrikaansche Republiek het sy eenheid behou. Daar was ook verskeie pogings, deur MW Pretorius met meer voortvarendheid as diplomasie aangewend, om die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Oranje-Vrystaat te verenig, maar dit het nooit geslaag nie.

In 1877 word die Zuid-Afrikaansche Republiek die slagoffer van die federasieplan van lord Carnarvon, die Engelse Minister van Kolonies. Dit was eintlik ’n kompliment vir die republikeinse gesindheid van die Transvalers dat Carnarvon besef het dat die Zuid-Afrikaansche Republiek nie oorgehaal sou kon word om by ’n Suid-Afrikaanse federasie onder die Britse vlag aan te sluit nie en dit deur middel van anneksasie moes geskied. Die eensgesinde en waardige wyse waarop die Transvalers onder leiding van die Driemanskap, Paul Kruger, Piet Joubert en MW Pretorius, teen anneksasie geprotesteer het en die moedige wyse waarop hulle die wapens teen Engeland opgeneem het, het die bewondering van die grootste gedeelte van Suid-Afrika afgedwing. Niks het die Afrikaans-Republikeinse lewenspatroon meer in aansien gebring as die roemryke Transvaalse onafhanklikheidsoorlog (1880-1881) nie. Dit het, saam met ander faktore, die Afrikaanse nasionale sentiment laat ontwaak van Kaappunt tot aan die Limpopo.

In 1888 het die Zuid-Afrikaansche Republiek ’n toevoeging aan sy suidoostelike grens gekry toe die Nieuwe Republiek daarmee verenig het. Hierdie republiek is gebore uit die toestand van onderlinge stryd waarin Zoeloeland na die Anglo-Zoeloe-oorlog (1879) verkeer het. Op uitnodiging van ’n groep Zoeloes, trek ’n klompie Boere uit Transvaal, later aangevul uit die Vrystaat en Natal, Zoeloeland in 1884 binne, salf Dinuzulu tot Opperhoof, onderwerp die weerbarstige Usibepu, en herstel die vrede. As beloning vir hulle dienste ontvang die Boere ’n stuk grond in Zoeloeland, waar hulle in Augustus 1884 die Nieuwe Republiek stig met Lucas Meyer as president. Finansiële probleme het die Nieuwe Republiek gedwing om in 1888 as die distrik Vryheid met die Zuid-Afrikaansche Republiek te verenig.

’n Dergelike geskiedenis lewer die Republieke Stellaland en Goosen op, wat in 1882 en 1883 aan die suidwestelike grens van die Zuid-Afrikaansche Republiek gestig is. Boerevrywilligers het die twee naturellekapteins, Mosjette en Massouw, teen hulle vyande gehelp en grondgebied as vergoeding ontvang. Hierop stig een groep in 1882 die Republiek Land Goosen met Rooigrond as sentrum van die bestuur en NG Gey van Pittius as Voorsitter of Administrateur. Dit word in 1883 gevolg deur die stigting van Stellaland met Vryburg as hoofdorp en Gert J van Niekerk as Administrateur. Albei se bestaan is egter in 1885 deur die militêre ekspedisie van sir Charles Warren beëindig. Hulle het grotendeels deel geword van Brits-Betsjoeanaland wat in 1895 by die Kaapkolonie ingelyf is.

Nog iets dergeliks is die Klein-Vrystaat wat in die suidwestelike deel van Swaziland tot stand gekom het. In 1876 het JJ Ferreira en FJ Maritz ongeveer 15 000 morg van die Swazi-opperhoof Umbandien vir R360 in ware (ryperde, komberse, pikke, ens.) gekoop, waarop ’n aantal Boere hulle daar gevestig het. In 1886 is ’n bestuur vir die staatjie gekies, bestaande uit JJ Bezuidenhout, L Botha en T Potgieter, met die plaas Vaalkop as die regeringsentrum. Nadat vergeefs aansoek gedoen is om inlywing by die Zuid-Afrikaansche Republiek het die Driemanskap in 1890 die Klein-Vrystaat tot onafhanklike staat verklaar. Met die Swaziland-konvensie van dieselfde jaar het Brittanje egter toegestem dat die Klein-Vrystaat by die Zuid-Afrikaansche Republiek ingelyf word, wat dan op 10 April 1891 gebeur. Dit word toe ’n deel van die distrik Piet Retief.

Merkwaardig is die geskiedenis van nog ’n republiek wat deur Transvaal gestig is, maar hierdie keer honderde myle van die Transvaalse grens. In 1885 het ’n groep Transvaalse Dorslandtrekkers vanuit Angola suidwaarts oor die Kunene getrek en hulle gevestig in die omgewing van die Etoshapan op ’n gebied van 1000 vierkante myl groot, wat ’n Kaapse handelaar, WW Jordaan, van die Ovambo’s gekoop het. Hulle vorm ’n bestuur van dertien lede met GDP Prinsloo as President (Voorsitter) en gee hulle staat die sonderlinge naam van Upingtonia, blykbaar om die guns van die toenmalige Kaapse Eerste Minister, Thomas Upington, te wen. Weens die dreigende houding van inboorlinge verdwyn Upingtonia egter reeds die volgende jaar toe die meeste nedersetters terug verhuis na Transvaal.

 

Die Oranje-Vrystaat

Anders as die Zuid-Afrikaansche Republiek het die susterrepubliek, die Oranje-Vrystaat, nie met soveel interne botsings te kampe gehad nie. Ondanks partyskappe het hierdie republiek van die begin af ’n benydenswaardige eenvormigheid getoon, wat mettertyd sterker geword het. Met ’n behoorlike grondwet, ontleen aan die Franse konstitusie van 1848 en die Amerikaanse van 1787, het die Vrystaat op ’n vaste basis ontwikkel en was hy staatsregterlik seker die volwaardigste van al die Suid-Afrikaanse republieke van die negentiende eeu.

In die geskiedenis van die Oranje-Vrystaat is daar sekere fases te sien. In die eerste plek het mens die beeld van ’n pionierstaatjie, swak toegerus met finansiële middele sowel as organisatoriese talent, wat hom moeisaam omhoog werk onder die bedreiging van die Basoeto-mag wat soos ’n donker wolk aan sy oosterkim gehang het. Dit het meegebring dat ’n gedeelte van die bevolking hulle staatkundige toekoms in vereniging met ’n Zuid-Afrikaansche Republiek gesien het en ’n gedeelte weer in ’n nouer aaneensluiting by die Kaapkolonie. Sir George Grey, die Kaapse Goewerneur, het gesorg dat eersgenoemde strewe misluk deur te dreig met verbeurdverklaring van die Konvensies indien die twee republieke verenig en terselfdertyd het hy laasgenoemde neiging vertroetel om sy eie federasieskema te laat slaag. Ook dit misluk egter weens die onwil van die Britse regering teen die einde van die jare vyftig.

So het die Vrystaat geleer om op eie bene te staan en onder die vasberade beleid van president Brand tot ’n eensgesinde, selfstandige en volwaardige republiek te ontwikkel. Eers is die Basoetoprobleem met beslistheid aangepak, maar net toe die Vrystaat die finale oorhand gekry het, is Basoetoland deur goewerneur sir Philip Wodehouse in naam van Brittanje geannekseer. En toe kort hierna Griekwaland-Wes, wat Vrystaatse gebied was, met die diamantvelde en al deur die volgende Goewerneur, sir Henry Barkly, ook vir Engeland geannekseer is en die geskil nadat dit jarelank voortgesleep het, eers in 1876 op ’n onbevredigende wyse vir die Vrystaat opgelos is, toe het daar ’n skerp anti-Engelse gees ontstaan, wat vir die res van die eeu nie weer gewyk het nie.

Die toestroming van delwers na die diamantvelde van Griekwaland-Wes het die ontstaan van miskien die sonderlingste republiek in Suid-Afrika ten gevolge gehad. Weens die onsekerheid oor welke gesag nou eintlik aanvaar moes word, het die delwers van Klipdrift (by Barkly-Wes) in 1870 ’n republiek uitgeroep met Stafford Parker, ’n gewese Britse matroos, as die President. Net die volgende jaar egter het die ontdekking van ryker delwerye op die plek waar Kimberley sou ontstaan, die Delwersrepubliek laat leegloop. In Oktober 1871 is Griekwaland-Wes deur Brittanje geannekseer en was daar natuurlik geen sprake dat daar weer so iets tot stand sou kom nie.

Maar om terug te keer tot die Vrystaat: bogenoemde anti-Engelse gevoel het die mislukking van Carnarvon se federasieplan, ook wat die Vrystaat betref, ten gevolge gehad. Dit het ook die geneigdheid na die Transvaal laat toeneem, veral tydens die anneksasie van Transvaal en die Vryheidsoorlog. President Brand het hierdie neiging probeer teenwerk. Hy het groter heil in federasie met al die gebiede in Suid-Afrika gesien, al was dit dan onder Engelse vlag, as in nouer samesluiting met die Transvaal.

Reeds vanaf die begin van die jare tagtig kan die geskiedenis van die Oranje-Vrystaat moeilik van die res van Suid-Afrika geskei word. Met die ontwikkeling van die mynbou word Suid-Afrika ’n ekonomiese eenheid soos ook weerspieël word in die uitbreiding van die spoorwegnet. In hierdie ontwikkeling neem die Vrystaat al meer ’n sentrale posisie in. Ekonomies en wat binnelandse orde betref, het dit goed gegaan en die staat kry die naam van modelrepubliek.

Na die dood van president Brand in 1888 het die Oranje-Vrystaat sy lot by die Zuid-Afrikaansche Republiek ingewerp. By president Reitz sowel as president Steyn was die Afrikaanse nasionale gevoel en die republikeinse sentiment oorheersend. Reeds in Maart 1889 kom daar ’n politieke verbond tussen die twee republieke tot stand, wat later deur president Steyn nog nouer aangehaal is.