Hessel sterf aan kanker
July 5, 2018
Die Voortrekkers vestig Pietermaritzburg
July 5, 2018

In 1834 het ’n Voortrekker-verkenningstog bestaande uit 16 waens en 40 manskappe, waaronder Pieter Uys, Port Natal binnegery waar hulle deur die handjievol Britse setlaars verwelkom is.

Hoewel die geselskap met ’n verslag oor Natal terugkeer Kolonie toe, begin die Groot Trek oor die Drakensberg eers in 1837. Só gebeur dit dan dat Piet Retief, erkende leier van die merendeel Voortrekkers, op 19 Oktober 1837 sy opwagting in Port Natal maak. Ook hy word geesdriftig deur die Britte ontvang. Sy medetrekkers steek in November 1837 die Drakensberg oor. Hul moeisame tog was gelyktydig ’n protes teen die Britse grensbeleid in die Kaapkolonie en ’n poging om vir altyd hulself van Britse heerskappy te bevry.

Die verhaal van Piet Retief se besoek aan Dingaan se stat om ’n ooreenkoms aangaande grond vir sy mense met hom aan te gaan en sy grusame moord, tesame met dié van sy manskappe, is oorbekend.

Ewe bekend is die verhaal van die impi-strooptogte wat kort daarna te Doornkop, Blaaukrantz, Moordspruit, Rensburg en ander plekke langs die Boesmanrivier gevolg het. Gesin na gesin is dié afgryslike nag genadeloos om die lewe gebring. ’n Laer is vervolgens gevorm en die Zoeloes teruggedryf. Seshonderd manne, vroue en kinders het Dingaan se verraad ten prooi geval en sedertdien heet die deel waarin die moordtonele hulle afgespeel het gepas Weenen.

’n Kommando van 350 man is in April 1838 onder aanvoering van Piet Uys en Andries Potgieter byeengebring, slegs enkele weke na die slagting. Dit is in ’n hinderlaag gelok te Italeni waar sowel Uys as sy dappere 14-jarige seun Dirk hul lewens laat. Die merendeel van die manskappe ontkom gelukkig saam met Potgieter.

Kort hierna het die Engelse van Port Natal onder aanvoering van Robert Biggar ook ’n aanval op Dingaan se magte aangedurf, maar hulle was nie teen sewe Zoeloe-regimente van altesaam 10 000 man opgewasse nie. Die meeste van Biggar se manne moes die lewe laat.

Die Voortrekker-Leier Andries Pretorius

Toe tree ’n nuwe Voortrekker-leier na vore — Andries Pretorius, met Karel Landman as onderleier. Omsigtig trek hulle met 500 man teen Dingaan op en op 7 Desember 1838, te Danskraal, lê hulle ’n gelofte af dat indien God ’n oorwinning aan hulle sou besorg, hulle elke jaar die dag van die oorwinning as ’n Sabbat sou gedenk. Op 15 Desember is daar langs ’n stroom wat in die Buffelsrivier (tans Bloedrivier) vloei, laer getrek en op 16 Desember is die bekende Slag van Bloedrivier gelewer. Die kommando het vervolgens Umgungunhlovo, Dingaan se hoofstat, bestorm net om te vind dat sy vlugtende impi’s dit in ’n smeulende ruïne omskep het. Op ’n aangrensende koppie het hulle die Iyke van Retief en sy makkers aangetref en hulle plegtig begrawe. Hierna het hulle duisende beeste buitgemaak en na hul hoofkwartier langs die Tugela teruggekeer.

Terug by sy mense moes Pretorius verneem dat ’n afdeling Britse troepe, 100 in getal, Port Natal op 4 Desember, d.i. 12 dae voor die Slag van Bloedrivier, beset het. Nog ’n besetting sou binne ’n jaar volg, maar toe dié besettingsmag die hawe verlaat, het die Boere die vlag van die Republiek van Natalia gehys. Dié republiek sou tot ongeveer 1843 bestaan met Pietermaritzburg as hoofstad. Teen die end van 1845 sou Natal permanent onder Britse heerskappy verkeer.

In 1842 stuur die Britse regering kapt. Thomas Smith met 237 man om Port Natal weer te beset. Hy waag ’n verrassingsaanval op die Boere-kommando, maar word beleër. Dick King Iê sy beroemde tiendaagse rit te perd af na Grahamstown om hulp te erlang — ’n afstand van nagenoeg 960 km. Kapt. Smith is kort hierna deur manskappe van die Britse frigat Southampton bevry wat op 25 Junie Port Natal binneseil, voorafgegaan deur die skoener Conch die dag tevore. Hierdie derde Britse ekspedisie was onder die bevel van kol. Josias Cloete, met majoor W J. D’Urban as onderleier. Onder die hewige kanonvuur vanaf die Southampton moes die Boere na Pietermaritzburg terugval.

Op 5 Julie 1842 het die Volksraad besluit om die gesag van die Britse Koningin te erken.

Kolonel Cloete verlaat Natal op 21 Julie en majoor D’Urban op 25 Julie, terwyl kaptein Smith met 350 manskappe in Port Natal agterbly.

Op 4 Mei 1843 kondig sir George Napier in die wetgewende raad van die Kaap aan dat dit Haar Majesteit behaag het om ’n kommissaris, ene Henry Cloete, broer van kolonel Cloete, na Natal te stuur om die Britse gesag daar permanent te handhaaf. Daarmee is die Republiek van Natalia beëindig en verhuis die meeste Voortrekkers na die Transvaal om daar die Suid-Afrikaanse Republiek te stig.

Op 31 Mei 1844 is Natal as ’n aparte distrik onder beheer van die Kaapkolonie geplaas, en in Desember van die volgende jaar is ’n luitenant-goewerneur met verskeie departementshoofde na Natal gestuur. Britse heerskappy sou 66 jaar duur totdat Natal op 31 Mei 1910 deel van die Unie van Suid-Afrika sou word.

In meer as een opsig het die bloed wat die Voortrekkers in Natal gestort het, die weg vir Britse immigrasie en die verdere ontwikkeling van Natal gebaan.

’n Blik op Umgungunhlovo Dingaan se stat, volgens ’n lito-afdruk in kapt. Allen F. Gardiner se boek wat hy in 1835 uitgegee het onder die titel: ‘Narrative of a Journey to the Zoolu Country in South Africa’

Bron: Mans, P.W. 1974. Lantern, Maart: 14-15.