Die Republiek Natalia

’n Liefdesdriehoek van die Groot Trek
April 3, 2015
Voortrekkers verlaat Natal
April 5, 2015

Vol hoop het die trekkers hul eie staat begin opbou. In 1839 is ’n grondwet geskryf; mans bo 21 jaar kon stem vir die Volksraad van 24 lede. Die Gelofte van Desember 1838 is nie algemeen nagekom nie. Wel het ds Erasmus Smit elke jaar ’n dank- en biddag in Pietermaritzburg gehou, terwyl ook Sarel Cilliers en sy familie dit gedoen het. In 1839 is geld begin kollekteer vir die Geloftekerk in Pietermaritzburg wat in 1841 voltooi is. Ook Vrystaters, Kolonialers en Engelse het bygedra.

Die Natallers was baie bly toe ’n Nederlandse skip, die Brazilië, Port Natal op 24 Maart 1842 met handelsware besoek. Vir hulle was dit ’n teken dat Nederland nog in hulle belang stel, en het selfs met JA Smellekamp, verteenwoordiger van ’n Nederlandse firma, ’n ooreenkoms gesluit waarvolgens Natal onder beskerming van Nederland sou staan. So ’n verdrag was waardeloos, want Smellekamp was geen verteenwoordiger van Nederland nie. Erger nog is dat die besoek die Britte agterdogtig gemaak het. Die verhouding tussen Engeland en Frankryk was nie te goed nie en Engeland het verneem dat Frankryk vlootbasisse op verskeie plekke beoog, ook in Oos-Afrika. Was die Brazilië dalk ’n Franse wolf in Nederlandse skaapsklere? Daar is “ontdek” dat Smellekamp met Frankryk in verbinding was. Die Britse minister van kolonies, lord John Russell, het besluit om Natal te annekseer en sir George Napier, Kaapse goewerneur, daarvan verwittig.

Vir Napier was dit goeie nuus, want hy was lank besig om sy regering tot anneksasie te probeer oorhaal. Hy het ’n meer mensliewende voorwendsel gebruik. In 1840 is vee van die trekkers gesteel. Pretorius het ná ’n straftog teen ’n stammetjie ’n klompie vee van die stamlede geneem. Sendelinge het by die Kaapse owerheid gekla. Daarop het Napier ’n mag onder kaptein TC Smith na Pondoland gestuur om oor die belange van die swartes te waak.

’n Bykomende probleem was dat baie ander swartes die land ingestroom het nadat die Zoeloe-mag gebreek is. Toe die Volksraad in 1841 besluit om van hulle te verskuif na ’n gebied in Pondoland, het Napier vir Smith beveel om Port Natal te beset. Smith het naby Port Natal kamp opgeslaan. Laat die aand van 23 Mei 1842 het hy met 138 manne en twee kanonne sy kamp verlaat om die trekkers aan te val by hul kamp by Congella, sowat 8 kilometer daarvandaan.

Dit sou lei tot die eerste gewapende botsing tussen Boer en Brit ná 1806. Die mars was langs die strand, en daar was alle kans op sukses. ’n Paar ou mans het in die bosse naby die strand wag gehou. Terwyl hulle sit en rook en saggies gesels, het een van hulle ’n geraas gehoor, en dit het geblyk dis van ’n kanonwiel. Gou gewaar hulle dis die Engelse. Die oues het gelyk met hul voorlaaiers geskiet en volslae verwarring geskep. Ná ’n geveg moes die Engelse vlug en 50 dooies en gewondes agterlaat.

Smith het Dick King, ’n jong Port Nataller, na Grahamstad gestuur om hulp te ontbied. Hy het op ’n donker nag, sonder maanlig, deur die omsingeling gebreek. In ’n epiese tog met twee ryperde en ’n Zoeloe as gids het hy in tien dae meer as 1000 kilometer na Grahamstad te perd deur Xhosa-gebied afgelê.