Die Reinet-huis, Graaff-Reinet

Die Stadhuis, Beaufort-Wes
September 25, 2019
Die Residensie, Graaff-Reinet (Geen toegang)
September 25, 2019

In die jaar 1785 is die oostelike grensgebiede tot ’n nuwe distrik geproklameer en ter ere van goewerneur Jacob van de Graaff en sy vrou, Reinet, Graaff-Reinet genoem. Die administratiewe hoofsetel is in die bog van die Sondagsrivier aan die voet van Spandaukop aangelê. Hier is ook weldra ’n aparte gemeente gestig. In Maart 1792 kom die eerste kerkraad tot stand en ’n paar maande later het ds. Johan H. von Manger sy werk as predikant onder die veeboerpioniers begin.

Weens die voortdurende onluste aan die oosgrens het die nuwe Karoodorpie moeisaam gegroei. Rondom die Kerkplein, Kerkstraat en Pastoriestraat het platdakhuisies geleidelik verrys. Aan die begin van die 19de eeu het Pastoriestraat ’n nuwe waardigheid gekry. Aan die westelike einde daarvan is die drosdy gebou en aan die oostekant het dit by die sierlike pastorie, die juweel van die dorp, tans Reinet-huis, geëindig.

Hierdie pastorie is gebou gedurende die bediening van die godvresende, ywerige en ondernemende ds. J. J. Kicherer, wat in 1806 na Graaff-Reinet gekom het. In 1812, tydens die besoek van die bekende reisiger William Burchell, het ds. Kicherer in ’n pastorie “aan die westelike kant van die (hoof-) straat en in die rigting van die suidelike (rivier-) kant …” gewoon, maar toe was reeds hierdie “groot en aantreklike gebou, bestem as pastorie, … in ’n ander straat in aanbou”. Destyds was die Ned. Geref. Kerk as ’t ware ’n staatsdepartement en die nuwe pastorie is deur die Kaapse regering opgerig. Die planne is dus na alle waarskynlikheid in die Kaap opgestel, waar die bekende argitek, Louis M. Thibault, bou-inspekteur vir die regering was. Die bouwerk is in hierdie tyd sekerlik deur slawe onder toesig van ’n bouer uit die Kaap gedoen. Die gemeentelede het boumateriaal soos klip, bakstene en sand bygedra; die plaveiklippe vir die stoepe het van die nabygeleë Gatsrivier gekom, en geelhout vir die balke, vloere, vensters, deure en muurkaste moes, volgens Burchell, van die Bosberg en die Baviaansrivier per ossewa aangery word, en so ook die dakriet.

Gebou volgens die Kaaps-Hollandse boustyl in ’n H-vorm met ses gewels op verhewe fondamente en met sierlike boogvormige trappe wat na die voordeur en sydeure loop, het die nuwe pastorie as die trots van Graaff-Reinet daar aan die onderend van Pastoriestraat gestaan. Onder die gebou was daar ’n koetshuis, ’n wynkelder, slawekwartiere, pakkamers en vrykamers vir besoekers.

Wanneer ds. Kicherer sy intrek in die nuwe pastorie geneem het, is nie seker nie, maar dit was sy voorreg om die eerste te wees om hierdie ruim gebou in sy oorspronklike eenvoud, statigheid en skoonheid te bewoon. In Junie 1818 het sy opvolger, ds. (later dr.) Abraham Faure, sy intrek in die pastorie geneem, maar dit slegs vier jaar bewoon. Hy verlaat Graaff-Reinet in 1822 en ds. Andrew Murray, een van die Skotse predikante wat op aandrang van ds. George Thom na Suid-Afrika gekom het, neem sy intrek in die pastorie. Dit sou 45 jaar lank sy tuiste wees en die geboorteplek van sy ses seuns en vyf dogters. Vyf van die seuns, o.a. die beroemde dr. Andrew Murray, het uit hierdie pastorie predikante geword.

Van hierdie pastorie het ds. Andrew die evangelie nie net aan sy uitgestrekte gemeente bedien nie, maar selfs aan die trekboere en die Voortrekkers tot daar vér in die Transvaal. Hierdie pastorie het ook aan ’n voortdurende stroom van besoekers, o.a. dr. Livingstone, Robert Moffat en Broadbent, ’n gasvrye onderdak gebied. Met groot liefde beskryf een van sy dogters dan ook die ou gebou:

“Opgaande boven de steenen trappen komen Wij bij de voordeur, en, ingaande, bevinden wij ons in een ruime zaal, “het kleine voorhuis”, omdat er een andere zaal, het grote voorhuis, verder naar binnen lag. Het was een ruime eetkamer met deuren aan alle zijden, die toegang verleenden tot eene kleinere eetkamer, slaapkamers, enz… In de linkerzijde in het voorgedeelte lag de voorkamer, en aan de rechterzijde de studeerkamer. De vóórstoep, zo wel als de achterstoep, werden door bogen gestut, en onder byna het geheele huis vond men een reeks van kamers, overeenstemmende met de kamers boven. Vele van deze kamers werden, als het huis soms vol besoekers was, als slaapkamers gebruikt. Onder ze waren de kelder, die vlak beneden de eetkamer lag, de houtkamer, de kalkkamer, en het wagenhuis…”

Agter die huis was ’n uitgestrekte tuin. Die een helfte was ’n blom- en vrugtetuin en “de andere helft van de tuin was bezaaid met haver voor de paarden van de leraar, en er was ook een akker vol lucerne ten gebruike van de koe.”

Andrew Murray is as predikant deur sy seun Charles opgevolg, wat die pastorie tot 1904 bewoon het. Hy het groot belangstelling in die tuinbou gehad en het in die pastorietuin uit alle dele van die wêreld vreemdsoortige bome, plante en blomme geplant. In 1870 het hy hier die beroemde druiwestok van die “swart eikvariëteit” geplant, wat volgens kenners vandag as die grootste in die wêreld beskou moet word. Die stam is sowat 120 cm in omtrek en dit het in een stadium oor ’n afstand van 120 meter gerank.

Vroeg in die bediening van Charles Murray is die statige ou gebou byna roekeloos geskend. Volgens oorlewering het omstreeks 1866 ’n langdurige droogte die distrik geteister. Die opgaar van reënwater vanaf die dakke het noodsaaklik geword. Bowendien het dit toe juis nodig geword om die rietdak van die pastorie te vernieu. Daar is besluit om die riet deur sink te vervang. Om nog meer water te bespaar, het die bouer aanbeveel dat die mure laer gemaak word en dat die gewels verwyder word om die aanbring van die geute te vergemaklik! Omdat die groot geelhoutdeure en -vensters as gevolg van die uiterste klimaat besig was om te verweer, en omdat hulle bowendien in die verblindende Karoo-son té veel lig ingelaat het, is hulle deur kleiner deure en vensters van standaardgrootte vervang!

In 1904 is ’n nuwe en meer moderne pastorie gebou. Die ou pastorie is omgeskep in ’n koshuis vir meisies onder toesig van Ellen Murray, suster van Charles. In 1907 het sy die naam Reinet-huis daaraan gegee. Die gebruik van die ou huis as koshuis het verdere verminking meegebring: die groot kamers is met ligte afskortings onderverdeel, en toe dit later ’n seunskoshuis geword het, is die mure en houtwerk met potlode, kryt en messe bekrap.

In 1944 was die ou gebou uitgedien en is dit ontruim. Toe het dit vinnig in verval geraak. In 1947 is dus voorgestel dat dit gesloop en dat ’n blok woonstelle op die terrein gebou word. Hierteen het ou inwoners van die dorp en distrik in verset gekom. ’n Baie aktiewe komitee onder leiding van A. A. Kingwell en mej. Isobel Lawrie, kleindogter van Charles Murray, is in die lewe geroep om die ou gebou te red. Die som van R4 350 is weldra byeengebring en daarmee is die verrinneweerde, mismaakte ou gebou gekoop. Ds. J. Reineke en mnr. Charles te Water het nou by die Historiese Monumentekommissie daarop aangedring dat die ou gebou tot ’n historiese monument verklaar word. Nadat die Kommissie deur bemiddeling van die argitekte, professor G. E. Pearse en Magda Sauer, vasgestel het dat die gebou wel gerestoureer kon word, is dit in 1950 tot historiese monument verklaar.

Met nuwe ywer is nou fondse vir die restourasie van die ou pastorie ingesamel. In 1952 is die bekende argitek, wyle mnr. Norman Eaton, deur mnr. Charles te Water gevra om as ere-argitek op te tree. Hy het die taak aanvaar “met die diepste besef” so skryf hyself, “van die geleentheid wat dit bied om ’n voorbeeld van die wonderlike skeppende genie vir bouwerk wat so ’n belangrike deel van die lewenskragtige en visuele harmonie van die tydperk van ons land se kulturele verlede is—die s.g. Kaaps-Hollandse tydperk van die 18de tot die vroeë 19de eeue—vir die genot en opvoeding van toekomstige geslagte te herstel.

Van die begin af is die herstelwerk as ’n onpersoonlike, byna argeologiese vraagstuk behandel waarin elke moontlike poging aangewend is om, sover menslik en prakties moontlik, ’n korrekte weergawe van die oorspronklike gebou tot in die fynste besonderheid te herskep sodat toekomstige studente van die 18de-eeuse Kaaps-Hollandse argitektuur en sy metodes en versiering dit as ’n betroubare verwysing kan gebruik en selfs minder tegniese besoekers die regte inligting kan bekom.”

Met sy besondere kennis en aanvoeling vir hierdie boustyl en aan die hand van ’n ou foto van 1866 tydens die verwelkoming van Charles Murray geneem, het Norman Eaton met die hulp van die boumeester, Bart Burger, hierdie ou gebou gerestoureer tot “een van die fraaiste en mees unieke geboue van sy tyd”. Daarna is dit as ’n museum ingerig en in September 1957 deur die destydse goewerneur-generaal, dr. E. G. Jansen, geopen.

(Geproklameer 1950)

Foto: Reinet-huis • James Walton: Homestead sand Villages of SA

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 182-184.