Die presterende jeug

Naspers en kultuurorganisasies
January 26, 2015
’n Kulturele nasionalisme
January 26, 2015

Afrikaanse leerlinge en Afrikaanse skole is groot presteerders in die jaarlikse openbare matriekeksamen. Veral in die Vrystaat en die provinsies van die ou Transvaal en Kaapland oorheers Afrikaanse name die lyste van die toppresteerders. Van die leerlinge neem ekstra vakke en behaal agt, nege, tien onderskeidings. Ook in talle sportsoorte blink Afrikaners uit.

Behalwe die Voortrekkers met onder meer hul Afrikaans-Ekspo vir Hoërskole bied kultuurorganisasies projekte aan om Afrikaanse jong mense beter voor te berei vir hul loopbane en om dié met kunsaanleg te help.

Een van die mees praktiese projekte is begin deur die Afrikanerbond, opvolger van die Afrikaner-Broederbond. Die Broederbond het op 27 November 1993 op ‘n spesiale Bondsraadvergadering besluit om homself te omvorm tot ’n deursigtige nuwe organisasie, die Afrikanerbond, met oop lidmaatskap vir vroue en “anderskleuriges”. Baie lede het bedank en uit 20 000 lede het 10 000 oorgebly. Maar in 1999 was daar al weer 14 000 lede insluitende 600 vroue en 100 gekleurdes.

Die genoemde AB-projek sluit aan by die dilemma wat die nuwe Suid-Afrika vir wit en bruin mense geskep het met die beleid van regstellende aksie. Duisende mense het pakkette ontvang en hulle was verantwoordelik vir ’n nuwe klein-sakesektor. Tot 49% van die klein sake behoort aan Afrikaanstaliges. Die AB het ’n projek aangepak om hulle aan te moedig om eie ondernemings te begin. Die tydskrif SA Ondernemer probeer skoolkinders entrepreneurgerig kry. Die AB het ook meer as 3000 video’s oor entrepreneurskap aan voorskoolse en laerskoolkinders versprei. Die sukses van Finansies en Tegniek dui op groter sake-bewustheid.

Die ATKV (voorsitter meneer Bertie Heckroodt, uitvoerende hoof doktor Frits Kok) wek die belangstelling van jong mense met projekte soos Kampustoneel, ATKV-Applous vir skoolkore, redenaarskompetisies, die ATKV-skryfskool met professor Hans du Plessis van Potchefstroom as direkteur, avontuurkampe, die Pendoring-reklamewedstryd en talle meer. Die ligteliedjiewedstryd Crescendo gee sangers die geleentheid om in Afrikaans te sing. Onder die wenners is Rina Hugo, Anneli van Rooyen, Innes en Franna Benade, Randall Wicomb, die Coleske-broers, Karin Hougaard, Danie Botha en Pieter van der Westhuyzen.

Die affiliasie van die Volkswag by die FAK, asook gesamentlike bearbeiding van emigrante deur die kerke toon dat die samewerking in ’n verdeelde gemeenskap groter word. Progressiewe intellektuele, wat krities was teenoor apartheid, tree al meer vir Afrikaans in die bresse. Onder hulle is die digter Breyten Breytenbach en wetenskaplikes soos Hermann Giliomee en Deon Geldenhuys. By die Vrystaatse Universiteit staan doktor Theo du Plessis aan die hoof van die Eenheid vir Taalfasilitering en Taalbemagtiging met sy leuse “Onderweg na ’n veeltalige toekoms”. Die Vlaamse regering steun dié eenheid wat die opleiding van tolke onderneem. Die Vrystaat is die verste gevorder met simultaantolking in liggame soos die Vrystaatse Wetgewer. Alle nie-dominante tale, Afrikaans én die Afrikatale, vind baat by sulke veeltalige dienste.