31 JANUARIE
January 31, 2016
Die gelofte van 1838
February 22, 2016

(deur Kotie Roodt-Coetzee, soos verskyn in Historia Junior, Junie 1957)

Afmeet van plase

Die eerste Boere baanbrekers noord van die Kaapkolonie, het nie hulle plase gekoop nie, maar het dit geskenk gekry van die Regering. In die Transvaal kon elkeen ’n vee- en ’n saaiplaas kry. Sodra ’n Boer ’n stuk grond gesien het waarvan hy hou en wat nog nie aan ’n ander persoon behoort het nie, het hy die landdros van sy distrik gaan vra om dit vir hom “aan te teken”. Hy en die veldkornet of die landdros self het dan vir hom ’n vierkantige stuk grond afgemeet op die volgende manier: hulle het op ’n sekere punt ’n merk gemaak of ’n baken met klippe gepak en daarvandaan het hulle te perd vir omtrent 1 uur gery, soos hulle gesê het “stapsgewyze gaands te paard”. By die volgende hoek soos by die ander ook, is bakens opgerig en al die kante van die plaas is stapsgewyse afgery. Dan het die boer sy plaas “geokkupeer”.

Soms het hy vir ’n hoekbaken net ’n merk in die bas van ’n boom gemaak. Dit het dikwels gebeur dat ’n tweede Boer so ’n merk of baken nie raaksien nie en sy plaaslyn het die eerste pionier se eiendom gekruis. Moeilikheid tussen die twee ou buurmanne het dan dikwels voorgekom.

Bewerking van die plaas

Waar dit enigsins moontlik was, het die pionier sy tent naby water opgeslaan, en dan het hy en sy vrou ’n geskikte plek uitgesoek vir die huis. Gewoonlik was dit op ’n knoppie of hoogtetjie waarvandaan die reënwater gou sou wegspoel. Naby die huis het die watervoor verby gevloei wat hoër op uit die spruit of fontein “uitgehaal” is. Die Boer het hierdie watervoor (of “moet”) so gegrawe dat hy dit op een plek skielik ’n taamlike val kon gee. In hierdie klein watervalletjie het hy die bakkieswiel van die koringmeule ingebou sodat die wiel deur die water gedraai kon word. Van die wiel af het ’n yster- of houtas geloop wat die meule sou draai. Hierdie meule was binne-in ’n huisie of onder ’n afdakkie opgerig en die twee meulstene wat teenmekaar draai en die koring fyn maal, het die boer self uit sandsteen gekap. Hulle was plat en rond met groewe aan die binnekant.

Op sommige plekke het die eerste baanbrekers selfs die fonteinwater deur houtpype gelei. Hiervoor het hulle boomstompe binnekant uitgehol en uitgebrand en die een in die ander laat pas. Tot onlangs was die oorblyfsels van sulke houtpype nog te sien op die plaas “Boschfontein”, Hartbeespoortdam, van Marthinus Ras, die man wat 2 kanonne van wawiele gemaak het.

In 1840 het Lukas Bronkhorst die Fonteine by Pretoria as sy plaas gekies. Vandag nog is die moet te sien tussen die ou granaat- en ongetemde perskebome. Orals op die oudste plase is nog oorblyfsels van vrugtebome en rankrose te sien.

Voor die Groot Trek het baie Boere in die binnelande van die Kaapkolonie mooi tuinerye gehad. Louis Trichardt het byvoorbeeld in 1814 op sy plaas waar nou die dorp Somerset-Oos lê, 6000 tabakplante gehad, groot groentetuine en hy het 30 wavragte pampoene geoes!

Na die Trek het die Boere-pionier wat water op sy plaas gehad het, onmiddellik ’n tuin en landerye aangelê, maar steggies en pitte en saad was skaars en hulle het aan hulle vriende in die Kolonie geskrywe om plantjies en saad te stuur.

Die uitlê van dorpe

Die Voortrekkers het in groepe naby mekaar bly woon as daar vyandige naturellestamme in die omgewing was. Dan het hulle ’n waterryke plek gesoek waar hulle hulle huise kon bou en hulle boerderye kon uitbrei. So is die eerste dorp in Natal, Pietermaritzburg, uitgelê tussen die Umsindusirivier en Dorpspruit. Die oudste dorp in Transvaal, Potchefstroom, is langs die Mooirivier uitgemeet en Pretoria het sy water uit die Apiesrivier gelei.

Rondom of soms in die middel van die oudste dorpe was daar ook ’n vesting waarheen die mense kon vlug as hulle deur naturellestamme aangeval is.

Om Pietermaritzburg en ook om Port Natal het die Voortrekkers ’n heining van pale gebou. Hierdie pale of boomstamme is in die grond geplant met so hier en daar ’n kort stam waaroorheen die Trekker kon skiet. Die vore van so ’n ou paalheining was nog onlangs te sien waar die eerste baanbrekers kamp opgeslaan het naby Rustenburg. Dit was natuurlik ’n groot werk om die boomstamme af te saag, aan te sleep en in te plant.

Op Potchefstroom het die Voortrekkers ’n ander soort omheining gehad. Rondom die grasdakkerkie op die kerkplein is ’n hoë klei-murasie opgerig. Op die twee hoeke oorkruis is skiethokke met skietgate uitgebou sodat vanuit elke hok twee mure beskerm kon word. Toe kmdt.-genl. Hendrik Potgieter van Potchefstroom af weggetrek het na Ohrigstad in Noord-Transvaal, is daar ’n fort op dieselfde manier gebou. In tyd van oorlog kon die inwoners van die dorpies dan in hierdie forte skuil.

Pretoria en Bloemfontein is deur landmeters uitgemeet en hulle het landmeterskettings gebruik. Dit was ysterkettings met land, dun skakels. In Potchefstroom het die Boere egter ’n rouriem gebruik om die groottes van die erwe af te meet. In hierdie vier oudste dorpe is die eerste erwe so gekies dat hulle uit watervore natgelei kon word.

Die Boere het hulle plase of erwe onder mekaar verkoop. Bloemfontein was ’n plaas van 9487 morge en die eienaar, Johannes Brits, het dit in 1846 vir £37-10-0 verkoop. Dis baie selde dat iemand ’n plaas verruil het, maar dit het tog gebeur dat as ’n koper nie geld gehad het nie, dan het hy ’n wa en ’n span osse of ’n perd, saal en toom daarvoor gegee.

Plase, riviere, berge en dorpe is vernoem na die omgewing soos “Boekenhoutfontein”, “Rietrivier”, “Drakensberg” en “Bloemfontein”. Meer dikwels is hulle vernoem na gebeurtenisse wat daar plaasgevind het, soos “Weenen”, “Moordspruit”, “Vegkop” en “Bandolierskop”; of hulle is na persone vernoem soos “Zeerust”, “Bronkhorstspruit”, “Magaliesberg” en “Klerksdorp”. Dit het dikwels ook ’n wens of dankgevoel of herinnering uitgedruk, soos “Rust-der-Ouden”, “Vryburg”, “Geluk” en “Lydenburg”.

Huisbou

Net soos vandag is die huise in die pionierstyd nie almal op dieselfde manier gebou nie. Vir die Voortrekkers en ook vir die veeboer wat rondgetrek het op soek na nuwe weiveld was sy wa en tent sy woning. Een van die eerste dinge wat die baanbrekers gebou het, was ’n skerm waaronder of waarbinne die vroue kon koskook. Vir so ’n skerm is gewoonlik pale in die grond geplant waarteen droë velle of lang gras vasgemaak is en op dié manier is die wind van die vuur af gekeer. Soms was die mure ook van klei en het dit ’n grasdak bo-op gekry met ’n gaatjie reg bo in waar die rook uitgetrek het. In streke waar dit min reent soos in Namakwaland, is ’n lae muurtjie van takke in mekaar geslaan om die ergste wind af te keer en om die bokke en skape van die potte en panne weg te hou.

Waar die pionier ’n paar weke of maande gekamp het, het hy ook dergelike skerms vir sy kinders gebou om in te slaap. So skrywe Louis Trichardt op 26 November 1836: “Heef Piet de dekgras gehaald en de scherm gedekt” en die volgende dat het hy velle oor die skerm getrek. Aan die binnekant van hierdie skerms is klei teen die pale aangegooi en is hulle glad gepleister en droë velle is voor die opening as ’n deur gebruik.

Dit is eers ruim vier maande later dat Louis Trichardt se seun Carolus gegaan het om “houyd te kappen voor die hardbees huizen die wy gewoonlyk maak by die gelegenheid”. Hierdie hardbies- (of hartbees-) huise was sterker en baie groter as die slaapskerms. Daar is mense wat beweer dat hierdie soort huisie sy naam gekry het omdat honde eendag op ’n Vrystaatse vlakte ’n hartbees gejaag het en dat die bok toe dwarsdeur die ou huisie gehardloop het wat van pale, klein en biesies gebou was, en dat die huis toe so sy naam gekry het. Ander mense glo weer dat dit so genoem is omdat die pionier harde biesies gebruik het om dit mee te bou en dit klink meer aanneemlik, want die naam was vóór die Groot Trek al bekend.

Die Boer en sy kinders het eers die grootte van sy huis op die grond afgeteken en dan het hulle van hoek tot hoek vore gegrawe waarin lang slap pale geplant is. Die pale van die lang mure is bo na mekaar toe gebuig en vasgebind. So was die dak en mure aaneen. Tussen die pale is dan kleiner latte gevleg en alles is bedek met klei en bolangs met hard biesies en gras vir ’n dak. Partykeer was die mure regop gebou en het dit ’n aparte gras- en rietdak gekry.

Gewoonlik was so ’n lang vertrek verdeel in 1 of 2 slaapkamers en ’n voorhuis. Die kookskerm was nog buite. Dit het gou gegaan om ’n hardbieshuis te bou, maar dit was ongelukkig nie baie sterk nie.

In Namakwaland waar die veeboer gedurig rondgetrek het, het hy vir hom ’n soort huis gebou wat hy  maklik kan oprol en saamneem.

Dit was bekend as die matjieshuis en die vorm was baie soos die van ’n ronde miershoop. Eers het hulle ’n ronde konstruksie van houte of latte gebou en dan grasmatjies bo-oor vasgebind. Sodra hulle na nuwe weivelde trek, het hulle die matjies opgerol en op die wa gelaai. Die matjieshuis is nie dig nie, maar in Namakwaland maak dit nie saak nie, want dit reent daar baie selde.

Soms het die pionier in ’n streek gekom waar hout en gras skaars was en dan het hy ’n ander plan gemaak. hy het ’n kleihuis gebou. Eers het hy ’n voor gegrawe en die fondament daarin van groterige klippe gebou, omtrent 2 voet hoog. Die hele muur verder het hy van kleinerige klippe en klei opgebou. Hierdie klei het hy gemaak van grond en beesmis en die mengsel is dan daagliks vir 8 dae lank deur osse of deur die kinders getrap totdat dit soos deeg was, en dit was verbasende goeie klei. Die huis het dan ’n grasdak en grondvloer van miershoopklei gekry. Die vloer is óf met beesmis óf met beesbloed en roulynolie gesmeer en het pragtig blink en swart geword.

Dele van die mure van die kleihuisie wat Lukas Bronkhorst in 1840 by Fonteine, Pretoria, gebou het, is vandag nog te sien en ook die kookskerm ’n endjie weg van die huis af.

Lukas se neef, Gert, wie se seun naby Vegkop lewend deur die Matabele weggevoer is, het naby hom gewoon maar Gert het ’n stewiger huis gebou, dit was geheel en al van klip.

Die kleimure het hulle ook op ’n ander manier gebou. Bo-op die klipfondament is ’n laag klei van omtrent ’n voet hoog gegooi met planke weerskante om dit in posisie te hou. As die klei eers goed droog is, word ’n tweede laag opgegooi en so groei die huis dan laag vir laag. As daar in die omgewing nie goeie dekgras was nie, het so ’n huis soms ’n platdak gekry wat effens skuins is sodat die reënwater kan afloop. So ’n dak is gemaak van houte wat teen mekaar gesit is en waar bo-op klei- of brakgrond vasgestamp is. Die laaste huis op die plaas “De Plat” waarin Louis Trichardt in die Kaapkolonie gewoon het se mure was van lae klei en dit het ’n plat dak gehad. In 1936 het dit nog bestaan.

Sommige Boere het verkies om stene te maak van die goed gebreide klei wat hulle in houtkissies gevorm het. Die stene was groter was as die wat ons vandag ken, is in rye gepak totdat hulle droog was en dan het die Boer bo-op die klipfondament ’n rousteenmuur gebou, wat soms 2 voet breed was.

Party van hierdie rousteen- en kleihuise was aan die buitekant nie gepleister nie en tog is daar nog van hulle te sien wat al oor die 120 jaar oud is. Die fort by Ohrigstad het kleimure waarvan dele vandag nog staan. By hierdie soort kleihuise is die vuurmaakplek of es binne-in die huis gebou.

So hier en daar was daar pioniere wat mooi huise gebou het en dit aan die buitekant gepleister en met kalk gewit het en geelhout-plafonne ingesit het. In 1839 al het genl. Andries Pretorius vir hom ’n dubbelverdiepinghuis van tien vertrekke in Pietermaritzburg gebou, en in die oudste deel van Potchefstroom het ene Jan Steyn vir hom ’n huis soos ’n Europese kasteel gebou, so groot en sterk was dit.

Die pionier het self die boomstompe afgekap wat hy dan dwars bo-oor ’n gat of kuil geplaas het. Een man het dan binne-in die saagkuil gestaan en ’n ander bo-op die stomp hout wat hulle met groot sae in planke opgesaag het. Hulle het geelhout verkies vir die deure, vensters en balke. Die spykers en skroewe het hulle self handgemaak en ’n spykermaker was beslis ’n man van aansien onder die baanbrekers.