Die piëtisme brei uit

’n Groot Kaapse prediker
February 7, 2015
Van Riebeecks het lig van Christelike kultuur na donker Afrika gebring
February 9, 2015

Michiel Christian Vos was die geestelike opvolger van Van Lier. Hy is in 1759 aan die Kaap gebore. Hy het jonk getrou om sy erfgeld in die hande te kon kry en sodoende vir predikant te studeer. Ná ’n paar jaar as predikant in Nederland het hy in 1794 leraar van Tulbagh geword.

Met die verskyning van Vos het die piëtisme aansienlik onder die boere begin uitbrei. Sonder teenkanting het dit nie gegaan nie. Sommige lidmate was nie gediend met die nuwerwetse sentimentele godsdienstigheid nie. Die belangstelling in die geestelike toestand van die Khoin en slawe was vir party oordrewe. Vir baie was Vos egter die profeet van ’n nuwe tyd. Hy het hulle gewys wat ’n “waaragtige bekering” behels en hoe ’n bekeerde mens sy of haar lewe moes deurbring. Vos het meer helpers gekry. In 1799 is die Suid-Afrikaanse Sendinggenootskap gestig en in dieselfde jaar begin die eerste vier sendelinge van die Londense Sendinggenootskap (onder andere dr. JT van der Kemp) hulle werk in Suid-Afrika.

Die uitwerking van die godsdienstige herlewing was volgens die reisiger MHK Lichtenstein nie altyd heilsaam nie. Van die mense van Roodezand skryf hy aan die begin van die 19de eeu dat hulle openhartig en diensvaardig was. “In hul huise heers netheid en aan hulle tafels weelde en oorvloed; hulle vroue en dogters gaan gekleed soos die inwoonsters van ’n stad en maak ’n nie heeltemal ongegronde aanspraak op verstand en beskaafdheid. Jammer is dit maar dat hier in die laaste jare, weens die verkeerde neigings van dweepsieke sendelinge ’n soort van bigotterie ingedring het, wat die goedhartige en vrolike karakter van die mense misvorm en hulle in onaangename, nors fanatieke verander het. Dans, gesang en spel is uit die geselskappe verban, en hulle kan hul predikant [HW Ballot, opvolger van Vos], dit nouliks vergewe dat hy verdraagsamer dink en die jeug nou en dan tot vrolikheid aanmoedig. Deur die besighede van die landbou, die jag en reise behou die seuns nog hulle lewendigheid; maar die meisies sit gestadig in ’n vroom werkeloosheid. Met gebede sonder sin en veelvuldige Psalmgesang verstik hulle al die lewendige gevoel van die jeug.” Dit alles is seker oordrewe gesê, al was iets hiervan waar.

In werklikheid het die piëtisme nie ’n heeltemal nuwe geestelike stempel op die Afrikaners afgedruk nie. Daar was ook ’n egte nie-fanatieke vroomheid. Lichtenstein het dit selfs opgemerk onder afgesonderde grensbewoners, wat nooit met die piëtisme in aanraking gekom het nie. Hy skryf dat mens nooit uit die mond van ’n kolonis ’n onwelvoeglike woord of vloek hoor nie. “Ek was meer as een keer getuie daarvan dat hulle hulle met ’n sekere kies gevoel en edele afkeer van ruheid van ons dragonders of ander Europeane uitgelaat het, wanneer sulke persone in driftige opgewondenheid gevloek of onbehoorlike taal gebruik het. Die hoofoorsaak van hierdie goeie hoedanigheid is seker die algemeen-heersende godsdienstigheid van die koloniste en hulle afsondering van die wêreld, wat hulle teen baie ondeugde vrywaar.”