Die Paleis van Justisie – Sieraad uit ’n vorige eeu

Raak betrokke en verseker gehalte onderwys in Afrikaans
Oktober 12, 2018
Gregoire Boonzaier (1909-2005)
Oktober 12, 2018

Terwyl daar steeds geredekawel word oor die lot van die wesfassade van Pretoria se Kerkplein, is planne reeds ver gevorder vir die restourasie van ’n belangrike gebou aan die noordekant van die plein, die Paleis van Justisie wat uit die laaste dekade van die vorige eeu dateer.

Die argiteksfirma Holm en Holm van Pretoria is vir die restourasiewerk verantwoordelik, en hulle het intensiewe navorsingswerk gedoen om vas te stel hoe die gebou oorspronklik daar uitgesien het. Die talle dokumente en argitekstekeninge wat hulle opgediep het, het ’n interessante stuk geskiedenis opgelewer, en wat hier volg, is saamgevat uit ’n verslag wat aan die Departement van Openbare Werke voorgelê is.

Die Hooggeregshof in Transvaal was verlede jaar honderd jaar oud. Die gebou wat vir hofsittings gebruik is vóór die oprigting van die Paleis van Justisie, was geleë op die noord-oostelike hoek van Andriesstraat en Buro-laan (destyds genoem Kantoorstraat). Dit is deur die regering gehuur teen £500 per jaar.

Die eerste aanduiding dat oorweging geskenk word aan die bou van ’n nuwe hooggeregshof, word gevind in die notule van die volksraadsitting van die Z.A.R. in 1893. ‘De Heer A. Wolmarans’ was aan die woord oor die ‘contract omtrent het huren van de gebouwen voor het Hoog Gerechtshof’. Die notule lui: ‘De Regeering was verplicht geweest her huurcontract te vernieuwen, doch nu wenschte spreeker haar ten sterkste aan te bevelen met het oog op den goeden Staat onzer finantiën, dat er een goede zaal voor de zittingen van het Hoog Gerechtshof zal worden gebouwd aan het Kerkplein’.

Hierop verduidelik ‘ZHed. de Staatspresident’ (pres. Paul Kruger) dat die regering ook voel die gehuurde gebou is ondoelmatig, en dat hulle reeds planne laat ontwerp het vir ’n gebou waarin die sittings van die Hooggeregshof kon plaasvind.

Foto: S. Wierda

Die plan, ontwerp deur S. Wierda, hoof van die destydse Departement van Openbare Werke, was baie beskeie van opset. Die beoogde gebou sou eenvoudig wees met ’n hofsaal in die middel en kantoorgeboue rondom. Dit sou opgerig word op die terrein waar Ons Eerste Volksbank later gebou is.

Op 23 Januarie 1894 rig mnr. J.C. Juta, die destydse ‘Griffier te Hooggerechtshof’ ’n brief aan die Staatsekretaris waarin hy hom die volgende meedeel: ‘Op last van het Hooggerechtshof heb ik de eer U mee te deelen, dat van wege het Hoofd van Openbare Werken plannen zijn toegezonden van een Hooggerechtshof. Met dezen ambtenaar hebben de Rechters die aandachtig nagegaan en verworpen’.

Die regters beveel by die regering aan dat ’n boukommissie benoem word wat in oorleg met die hof die argitek kan ‘assisteeren in de inrichten en verdeeling der zalen enz.’.

Hierna volg ’n tydperk van sewe maande waarvan geen rekord bestaan nie, maar dan tree ’n hele aantal nuwe besluite na vore. Die terreinkeuse verander – daar word besluit om die hooggeregshof te bou op die terrein waar dit tans geleë is. Die akkommodasielys is ook baie meer omvangryk en ambisieus – waar daar voorheen vir ’n enkele hofsaal voorsiening gemaak is, word twee bykomende hofsale nou ingesluit, en is daar ’n toename in die aantal kantore en ander vertrekke. Die werkstekeninge dra nou vir die eerste keer die opskrif ‘Paleis van Justisie’.

Die vertrekke word gerangskik op drie vloere, een daarvan die kelderverdieping. Die ontwerp kom baie ooreen met dié van die Raadsaal. Die howe vorm sentrale ruimtes, en sekondêre elemente soos kantore is op die omtrek geplaas om die gebou ’n reghoekige buitevorm te gee. Net soos by die Raadsaal is hier ook vier binnehowe wat simmetries gerangskik is, en in die keldervloer is daar voorsiening gemaak vir toilette in die binnehowe.

Foto: Wierda se finale plan vir die kelderverdieping

Die noord-suid-as van die gebou stem ooreen met dié van die Raadsaal, en dit word beklemtoon deur die plasing van die hoofingangstrap. Hierdie tema is teen die einde van die eeu verder ontwikkel toe die voetstuk van die Krugerstandbeeld op hierdie as, ewe ver van albei geboue af, geplaas is.

Op 21 Augustus 1894 word die planne aan die regters voorgelê, en hulle keur dit goed. Op 12 September word dit deur Wierda teruggevra en begin hy ywerig voorbereidings tref om die werk aan die planne te voltooi sodat tenders nog voor die einde van die jaar gevra kan word.

‘Dientengevolge is mijn personeel vermeerderd en heb ik nog, om meer spoed achter de zaak te zetten, dat personeel tot langeren werktyd verplicht, waardoor de tenderaanvrage voor den bouw nog dit jaar zou kunnen worden te gemoet gezien’, skryf hy op 4 Desember aan die hoofregter.

Hy laat blyk egter verder in die brief sy vermoede dat nuwe besware teen sy planne ontstaan het. Skaars ’n paar weke nadat hy die planne van die regters terugontvang, vra hulle dit weer van hom, skryf hy, en nou (op 4 Desember) het hy dit nog nie weer ontvang nie.

Sy vermoede word bevestig wanneer hy na die Hoofregter ontbied word waar hy ingelig word oor nuwe aanbevelings wat deur die boukommissie gemaak is. ’n Hooggeplaaste staatsamptenaar soos die hoof van openbare werke is seker daarop geregtig om op hoogte gehou te word van bewegings in ander departemente waar dit sy eie departement raak, en ’n mens kan Wierda se ontsteltenis begryp as jy in ag neem dat dit aanvaarde prosedure is vir ’n boukommissie om op sketsplanstadium veranderings voor te stel en nie wanneer die werk al so ver gevorder is dat tenders binnekort gevra sal word nie.

Foto: Die heel eerste plan wat deur Wierda ontwerp is vir die nuwe Hooggeregshofgebou is in 1894 verwerp

Die boukommissie se nuwe aanbevelings word uiteengesit in ’n brief aan die regters op 10 Desember 1894. Onder andere word genoem dat daar miskien ’n meer praktiese verdeling van ruimte gekry kon gewees het indien die regters ’n kompetisie uitgeskryf het. ’n Verskeidenheid planne kon dan vergelyk word sodat die mees praktiese oplossing op dié manier gekies kon word.

Wat die styl betref, het die kommissie heelwat te sê. Hulle ‘betreurt het dat de gevel (die vooraansig) volgens hare bescheiden meening niet in strenge stijl is volgehouden’. Hulle beveel aan dat aangesien die Oud-Hollandse Reg in die Z.A.R. geld, dit goed sal wees as die boumeester die Oud-Hollandse Renaissance-styl of die Vlaamse Renaissance-styl van die sewentiende eeu volg.

Daar word ook verskeie voorstelle gemaak betreffende die plasing van verskillende lokale, en daar word onder meer aanbeveel dat die twee binnehowe aan weerskante van die voorportaal met die voorportaal saamsmelt om ’n groter en bruikbaarder vertrek te vorm. Daar word beswaar gemaak teen die plasing van toilette in die binnehowe op die keldervloer, omdat dit ongesond sou wees en die uitsig van sommige kantore sou belemmer.

Die verslag eindig met behaaglikheidsvoorstelle, bv. dat die gebou voorsien word van hysers, sonbeheer, verwarming, goeie ventilasie en elektrisiteit.

Kyk ’n mens na die uiteindelike planne, blyk dit dat Wierda die meeste van die voorstelle aanvaar het. Op die grondverdieping word die geslote binnehowe weggelaat en die voorportaal word vergroot. Dié portaal word deur verskeie kenners beskou as die mooiste binneruimte uit dié tydperk. Die statige noordaansig met sy sierlike buitetrap (wat tans toegebou is) is ook te danke aan die kommissie se voorstelle.

Wat die styl betref, het Wierda egter voet by stuk gehou. Op 15 Desember skryf hy: ‘Omtrent de stijl moet ek alleen opmerken dat wanneer in Oud-Hollandsch zou moeten worden gebouwd, (geen halfbakken Oud-Hollandsch) in den geest van den Vleesch-Hall te Haarlem of het Stadhuis te Middelburg of te Leiden, dit zeer duur zou worden, terwijl in de Italiaansche-Renaissance Stijl met minder kostbare motieven kan gebouwd worden en toch een tamelijk rijk aanzien kan verkregen worden.’

Op 21 Maart 1895 is die Departement van Openbare Werke gereed met ’n nuwe stel werkstekeninge wat feitlik al die kommissie se voorstelle inlyf. Van April tot Julie werk hulle aan die opstel en druk van die besteklys.

Op 9 November sluit die tenders. Die volgende tenders word ontvang: J. Munro £115 260; Royce and Warren £150 000; M.C.A. Meischke £131 500 en J.J. Kirkness £124 254. Die kontrak word aan John Munro toegesê.

Voor die oprigting van die gebou kon begin, moes Begemann se pastorie, die tydelike kantoor van mynkommissaris Christiaan Joubert, en ’n skool gesloop word.

Foto: Die terrein waarop die Paleis van Justisie gebou is. Die geboue op die voorgrond is, van regs na links, die pastorie van ds. A.J. Begemann, ’n skooltjie en die tydelike kantoor van mynkommissaris Christiaan Joubert

In Junie 1896 word daar met die fondamente begin. J.C. Gerritsen, klerk van werke van die Departement van Openbare Werke van die Z.A.R., het weekliks verslae oor die vordering van die gebou opgestel, en daarin word ’n hele aantal interessante gegewens en insidente weergegee.

Sy verslag meld onder andere dat in die week van 9 tot 14 November 1896 die beste klipmesselaars die terrein verlaat ná ’n geskil met die voorman van die klipsubkontrakteur. ‘…De rede hiervan is waarschijnlijk’t gemis aan takt der sub-contractors’, meen Gerritsen.

Op 8 Junie 1897 word die hoeksteen gelê deur pres. Kruger. Oorspronklik sou dit op 28 Mei deur die Kommandant-Generaal gelê word, maar die regters maak beswaar daarteen, en in ’n brief gedateer 26 Mei 1897 stel hulle voor dat dit meer paslik sou wees as die President dié funksie waarneem.

In Maart 1898 is die grondvloer voltooi en word daar met die boonste verdieping begin. Tot dusver is daar beplan vir ’n drieverdiepinggebou (kelderverdieping plus twee ander). Toe ’n groot deel van die gebou reeds gereed is vir dakkappe, kry Wierda egter skielik opdrag om ’n addisionele kantoorvloer aan die gebou toe te voeg. Dit is nie duidelik waarom dié vloer bygevoeg is nie, en daar kan ook nie vasgestel word wanneer die idee vir die eerste maal bespreek is nie.

In Junie 1898 word Munro se tender vir dié verdieping aanvaar, en in Augustus begin die bouwerk daaraan. Die binne-ontwerp vir die hofsale word ook in 1898 gedoen, en in 1899 kry die firma Delfos en Kie. Die kontrak vir die installering van twee hysers, een in elk van die torings aan weerskante van die hoofingang. As gevolg van die uitbreek van die oorlog is die hysers egter nie geïnstalleer nie.

As die aansigte op Wierde se planne (dié vir ’n gebou bestaande uit kelder plus twee verdiepings) vergelyk word met die aansigte van die voltooide gebou (kelder plus drie verdiepings), merk ’n mens verskeie dinge op. Wierda se idee was dat die fasade baie uitdruklik in ’n versierde kroonlys eindig en dat die koepel bo-oor die groot binneruimtes as sekondêre element bedoel is. Die enigste plek waar die kroonlys onderbreek sou word, is bo die hoofingang (deur die pediment en die twee torings). Hierdie rangorde word nou verwar met die verhoging van die kroonlys om die bykomende vloer te huisves, terwyl die pediment nog steeds op sy aanvanklike hoogte bly. Die oortolligheid van die pediment word vererger deurdat ’n vals koepel net bokant geplaas word. As die hoofingang Iyk soos ’n ongeslaagde studie in eklektisisme, moet ons nie vergeet dat die argitek se oorspronklike bedoeling meer ordelik was nie, sê die argitekte. Die torings lyk vandag ietwat verbandloos, maar daar moet onthou word dat hul oorspronklike funksie was om die fierheid van die kerktoring te herhaal en sodoende die Paleis van Justisie met sy onmiddellike omgewing te verbind. Die groot koepel bokant die voorportaal word nou heeltemal verberg deur die bykomende verdieping.

Foto: Die Paleis van Justisie kort voordat dit voltooi is. Die omheinde ruimte vóór die Paleis is die sogenaamde ‘werkplaats’. Heel voor is die vroeëre voetstuk van die Kruger-standbeeld

Ná die Britse besetting van Pretoria op 5 Junie 1900 word die Paleis van Justisie gebruik as hospitaal (die ‘Irish Hospital’). Met Lord Roberts se vertrek word ’n konsert hier gehou waarin twee van die dokters as soliste optree.

Van 1901 af word die gebou weer gebruik vir sy oorspronklike funksie. In die loop van daardie jaar word planne opgestel vir ’n monumentale trap tussen die grond- en eerste vloer. Dit sou in die middel van die voorportaal gebou word. Dit is egter nooit gebou nie – gelukkig, sê die argitekte, want dit sou die vertrek in twee minder dramatiese ruimtes verdeel. Die trap sou bestaan uit ’n versameling van die belangrikste soorte marmer wat in die destyds uitgebreide Britse Ryk te vinde was.

Intussen is daar verskeie veranderinge aan die gebou aangebring wat almal Wierda se oorspronklike bedoelings met die gebou omver gewerp het. In 1910 is van die gerieflikste en aantreklikste kantore byvoorbeeld verander om toiletgeriewe te huisves. Daar word vermoed dat die groot banket wat op 26 November ter ere van die Hertogin van Connaught in die Paleis gehou is, bykomende toilette noodsaaklik gemaak het.

Die verandering wat die gebou die meeste skade Iaat ly het, is die aanbou van ’n vierverdieping-hoë noord-vleuel bokant die oop binnehof tussen die oos- en wesarms van die gebou. Dit word gedurende 1924 en 1925 gedoen om kantoorgeriewe vir die Suid-Afrikaanse Polisie en Speurdepartemente te verskaf. Waar voorheen ’n sonnige buiteruimte was, is nou ’n donker dienswerf, en die sierlike trap aan die noordekant word deur die aanbouing heeltemal verberg.

Nog ’n groot verandering het in 1965 plaasgevind toe verskeie kantoorvertrekke plek moes maak vir klein hofsale wat op daardie tydstip nodig geword het. Om die gewenste grootte te verkry, is sommige mure tussen die kantore afgebreek. Hierdie verandering het die sirkulasie in die gebou bemoeilik, die skeiding tussen die openbare en private ingange vertroebel, en gelei tot knelpunte aangesien die gange op sommige plekke te smal was om die verhoogde verkeersvolume te huisves.

Oor wat beoog word met die restourasiewerk, wil die argitekte nie nou reeds veel sê nie.

Die begrip restourasie beteken terugbring na die oorspronklike toestand, in teenstelling met ‘reparasie’ wat feitlik enige, soms tydelike maatreël omskryf wat die gevolge van verval moet teenwerk. Die probleem van restourasie is egter veel meer kompleks as om alles na sy oorspronklike toestand terug te bring, sê die argitekte. Elke aspek moet op meriete beskou wrod en met inagneming van die geheel sal daar ’n aantal enkelbesluite geneem moet word. Hierdie enkelbesluite behoort egter ook samehangend te wees.

Wanneer restourasiewerk gedoen word, moet die gebou, sy funksie en sy omgewing in geheel gesien word sodat daar nie ’n onbruikbare fossiel geskep word nie, want onbenutting bring verval mee. Die restourasiewerk aan die Paleis van Justisie sal met inagneming van hierdie beginsels gedoen word.

 

Bron: Du Toit, Magdaleen. 1978. Die Paleis van Justisie. Lantern, Julie:48-55.