Nog ’n gedenkteken
April 14, 2017
Ons Republiek 1961-1971 – Myne en mynontwikkeling
April 14, 2017

(Geskryf deur dr. JJ van Tonder, soos verskyn in Historia Junior, Desember 1959)

Die Paardekraalmonument staan op Krugersdorp. Die naam van die plaas waarop die monument staan, is Paardekraal. Dit het oorspronklik aan generaal Andries Pretorius en later aan sy seun, oud-president MW Pretorius, behoort. Die kraal waarin Andries Pretorius sy perde (in Hollands: paarden) snags bewaar het, is nog op hierdie plaas te sien.

Die monument is in 1891 deur die destydse regering van die Suid-Afrikaanse Republiek opgerig. Dit staan langs die hoofweg tussen Pretoria en Krugersdorp en is ongeveer honderd tree van die teerpad af.

Die destydse landdros van Krugersdorp het in 1889 ’n brief aan die regering geskrywe waarin hy die oprigting van ’n monument bepleit het. Landdros Human het ook ’n tekening van die monument gemaak soos hy dit voorgestel het. Die Staatsargitek, mnr. Sytze Wierda, het daardie skets verander, sodat die huidige vorm van die monument uiteindelik goedgekeur is. Die tender van mnr. J Munro vir £3,640 is deur die regering aangeneem. Die bouwerk is deur mnr. WY Veitch verrig. Die monument is 60 voet hoog.

By die inwyding van die monument in 1891 was daar tussen tien en twintig duisend burgers teenwoordig. Daar was ’n duisend ossewaens en ongeveer vyftien duisend osse het in die lang gras op die bulte gewei. Dit was seker ’n merkwaardige toneel om te aanskou.

Die eintlike monument was ’n hoop klippe en die huidige monument is bo-oor daardie klippe gebou. Die hoop klippe is deur ongeveer 6000 burgers in 1880 op dieselfde plek op ’n hoop gegooi, toe hulle besluit het om te veg vir hulle vryheid. Hulle het verskeie vreedsame pogings aangewend om hulle vryheid terug te kry, nadat sir Theophilus Shepstone die Transvaal in 1877 met 25 polisiemanne geannekseer het. Hierdie polisie het in April van daardie jaar die Vierkleur voor die goewermentsgebou in Pretoria neergehaal en die Union Jack aan die vlagpaal gehys. Die burgers was verslae oor hierdie daad en hulle het besluit om nie dadelik na die wapens te gryp nie, want hulle het reeds baie moeilikhede met die naturelle gehad. Hulle het wel teen die anneksasie geprotesteer. Paul Kruger het as leier van die burgers op die voorgrond begin tree. Hy het selfs persoonlik na Engeland gegaan om die vryheid van sy land te probeer terugkry. Hy kon egter nie daarin slaag om sy doel op ’n vreedsame manier te verwesenlik nie.

Die vryheidstryd wat daarna losgebrand het, was van korte duur, maar daar het hewige gevegte plaasgevind. Na die slag van Majubaberg (Febr. 1881) het die Transvalers hulle vryheid teruggekry en daar het toe weer vrede in die Republiek geheers.

Die stapel klippe wat onder die monument gelê het, is in die jaar 1900 daar verwyder en in die Vaalrivier gegooi. Die plek waar hierdie klippe in die rivier lê, is in 1948 deur mnr. Ephraim Sinclair van Parktown aangewys en in ’n beëdigde verklaring bevestig. Hy het destyds in die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) as ’n soldaat diens gedoen by die treinbrug oor die Vaalrivier. Die brug was gedeeltelik verwoes. Die trok met die Paardekraalklippe het hy self vanaf die brug help leeg maak.

Een van die Paardekraalklippe het egter in 1948 uit Engeland na Suid-Afrika teruggekom. Dit is deur luitenant-kolonel MFN Jourdain van Oxford aan die Paardekraalse Feeskommissie gestuur. Hy het in die jaar 1900 by die Paardekraalmonument as soldaat diens gedoen. Toe dit aan die soldate bekend gemaak is dat die klippe verwyder gaan word, het hy een van die klippe as ’n aandenking geneem en dit altyd by hom gehou. Hy het dit na die oorlog saam met hom na Engeland geneem en dit altyd goed bewaar. Toe hy reeds ’n hoë ouderdom bereik het in 1948, het hy besluit om dit as ’n gebaar van welwillendheid na Suid-Afrika terug te stuur. Hierdie klip word nou in Krugersdorp bewaar.

Elke jaar word daar by die Paardekraalmonument op 16 Desember ’n groot Geloftefees gevier. Dit word gewoonlik deur ongeveer tien duisend mense bygewoon. In 1945 was daar egter twintig duisend mense teenwoordig.

In 1956 is daar ’n groot feeshuis gebou waar vyf duisend mense kan sit. Dit is hoofsaaklik ’n afdak en die bankies is vas in die betonvloer. Baie mense hou egter daarvan om in die skaduwee van die bome rondom die monument te sit. Kinders hou baie van die uitstappie na die Paardekraalmonument. Die kosmandjies is gewoonlik gou leeg!